Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Sunday, October 4, 2015

10 enkelvrou voornemens


Ek voel 'n bietjie soos die hond wat die bus gevang het. Na 'n huwelik van 10 jaar, 2 kinders en baie grys hare later vind ek myself; enkellopend. Daar is nie 'n handleiding vir 36-jarige enkellopende ma's nie (ek weet - die dude by exclusive books het my op speed-dial.) Vir 'n oomblik het ek internet dating oorweeg, maar ek kon nie 'n geskikte profiel foto kry nie. In elk geval nie een waar ek soos Cindy Crawford lyk nie; en dit is min of meer die look waarvoor ek gegaaan het. (Vir die wat nie weet wie Cindy Crawford is nie; miskien is dit belangriker om eers graad 5 deur te kom as om vreemde mense se blogs te lees...) So toe doen ek wat enige regdenkende 36 jarige, geskeide ma van 2 doen; ek maak 'n lys. Nie sommer enige lys nie, meer soos 'n voornemens lys vir wat om te doen terwyl ek (weer) enkellopend is. Ek het alles gegee:

  1. Verloor gewig en kry 'n bikini lyf. Ok, hierdie is miskien meer 'n lang-termyn projek, maar daar is min dinge so sexy soos 'n 40-jarige vrou wat goed lyk in 'n bikini. Ek is gelukkig nou eers (amper) 37. Ek reken 3 jaar se planking sal die ding doen... Kry daai lyfie met Linda, hier kom ons.
  2. Leer kitaar speel. Ek weet nie hoekom nie, maar ek wou nog altyd. So die volgende ding wat ek gaan doen is om vir my 'n swart of 'n blou kitaar te koop en iemand met dimpels te kry om my te leer. Ek weet nie waar die swart of blou vandaan kom nie, maar ek kan jou 'n storie oor die dimpels vertel. Op 'n ander dag; natuurlik.
  3. Skryf. Soos jy kan sien is hierdie blog redelik onaktief die laaste paar maande (jaar?) Daar is redes daarvoor. Egskeiding nie uitgesluit nie. Kom ons sê maar net soms is dit goed om liewer niks te sê nie. Dit is nou verby. 
  4. Roadtrip. Hierdie een kom al lank. My plan is om Desember langs die kus af te ry vir 2 weke. Die kinders is by hulle pa en die laaste ding wat ek wil doen is om my vriende se vakansies te versier my my lang onderlip. So as enige iemand weet van 'n goeie nuwejaars partytjie langs die Ooskus; laat my weet.
  5. Wees 'n klein bietjie roekeloos. Hierdie is natuurlik oop vir die ingewing van die oomblik, maar my idees is in die lyn van praat met 'n vreemdeling (verkieslik een met 'n sixpack - ek myself is meer 'n amber weiss meisie, maar lager sal ook doen;) spring van hoë goed af (met 'n valskerm of bungee tou, natuurlik) en voel weer hoe dit voel as jou hart te vinnig klop.
  6. Omring myself met positiewe, verkieslik skreeusnaakse mense. Ek het lus om te lag. uit my maag uit tot die trane by my oë uitloop. Ek onthou daar was 'n tyd wat dit natuurlik gekom het. En gelukkig weet ek waar om die mense te kry.
  7. Ek wil 'n tattoo kry wat my aan my broer herhinder. Niks uitspattigs nie, net iets wat sê: "just breathe" sodat hy my elke dag kan herhinder dat die lewe kort is en elke asemteug is 'n gawe.
  8. Ek wil ten minste 1 oorsese reis op my eie doen. My tyd vat. Dinge sien wat ek wil sien, kos eet wat ek wil eet. Ek wil verdwaal êrens waar niemand my taal praat nie (behalwe die 3 rugby spelers wat al vir 4 jaar daar is) en 'n storie kry wat net ek kan vertel.
  9. Ek wil dans. Gestruktureerd (ek is besig om bejaarde dansklasse te google soos ek hier tik) maar ook sommer net. Ek wil my heupe beweeg omdat die ritme met my praat. Of ek nou in 'n winkel sentrum is of by 'n onderhoud (ernstig: as jy agtergrondmusiek met ritme by 'n onderhoud speel, is ek joune vir ewig.)
  10. Laastens wil ek weer verlief raak. Ek praat van skoenlappers in my maag, spoegopdroog, vinnige hartklop verlief. Ek wil vergeet van elke hartseer oomblik, elke traan en vir een keer in my lewe weer voel asof dit iets is wat ek kan verdien. Ek soek iemand wat bang is om my te verloor. Hierdie een het egter nie 'n tydsbeperking nie. Hy kan oop bly tot hy gebeur, want soos die gesegde gaan: I've got nothing but time. (Ek praat absolute bollie, my heupe kraak en my oë wil nie meer so lekker sien nie, so jy beter jou boude roer. Wie jy ookal mag wees.)


Friday, October 11, 2013

Nelis



so when I need you can I send you sign
I'll burn a candle and turn off the lights
I'll pick a star and watch you shine
-pink- 


In my kort lewe het ek al baie dinge gesien en deurgemaak. Miskien meer as wat nodig is vir 'n mens om normaal te kan bly. Maar van al die dinge wat krap en breek, was hierdie defnitief die moeilikste en by vêrre die seerste.

weg

vir nelis.

alles is skielik leeg
elke ruimte wat jy gevul het
elke herhindering waaring jy beweeg
jy sit vas in my onthou
jou lag; jou hande; jou oë
jou sleepvoet loop
jou blinde glo
ek praat nog met jou
maar ons praat nie met mekaar nie
en ek voel jou êrens naby
maar jy is nie meer daar nie
en miskien eendag as die geraas bedaar
en ons die donker met lig omvou
sal die leegte verdwyn
sal ek jou vir ewig by my kan hou



Thursday, October 10, 2013

Kleindorpie begrafnisse

As jy nie meer permanent daar bly nie, dan vergeet jy maklik. Jy is dit ook nie meer gewoond nie; so dat almal alles van jou af weet. En dat jy weer die persoon raak wat hulle laaste gesien het, hetsy dit nou 10 jaar terug is, of nie.

So was dit toe ook toe ons huis toe is vir my boetie, Nelis, se begrafnis. Ek gaan elke jaar Vryburg toe, maar het dit nog altyd reg gekry om redelik ongemerk in en uit te beweeg. Maar die keer was daar nie wegkruipplek nie. Mense het soos toergroepe by die kango grotte daar opgedaag. Die eetgoed het die wêreld vol gestaan. Daar was genoeg koeksisters en hoenderboudjies om 'n paar Afrika lande vir 'n maand te voed. Maar dis mos mense se ding: tee vir 'n gebreekte hart. Die tee kan niks aan die hart doen nie, maar dit gee die ou wat dit maak iets om te doen. Want almal wil iets doen en ek glo dit kom van 'n goeie plek af.

Jy word gedruk en gesoen en vreemde tannies praat van jou asof jy in hulle agterplaas groot geword het. Ja tannie, dankie tannie.

Die oggend na die begrafnis sit ek, my suster en my ma en nog 'n klomp van die familie tannies, niggies en susters om die tafel en lag en huil gelyk, toe ek 'n plan kry. Daar het 'n pepperment crips tert êrens tussen die hoenderboudjies in gesluip en gelukkig spoor ek hom op. En net daar met telepels eet ons die hele pyrex bak uit.

Miskien help tee nie vir 'n gebroke hart nie, maar as jy dan nou jou hande moet besig hou - 'n peppermint crist tert is defnitief die rigting om in te beweeg.


 
 
 - dankie vir almal se aandra, gebede, oproepe en drukkies. dit help om te weet dat daar so baie omgee is. -




Wednesday, October 17, 2012

50 Skakerings van grys

Ek moet bieg; ek het geswig onder groepsdruk. Dit was nie eers goeie groepsdruk soos bv. boekklub nie - dit was net algemene gesprekke op kantoor waaraan ek nie kon deelneem nie; wat my tot lees gedryf het. (Wat my herhinner ons beter weer boekklub begin, ek het indringend 'n verskoning nodig om saam met vriendinne wyn te drink en te skinder. O ja, en boek te lees, natuurlik.) Ek beveel dit egter ten sterkste aan, kry 'n verskoning om die boek te lees en as jy nie een het nie, dan sê jy ek het gesê jy moet.

Ek is geen vreemdeling vir erotika nie, ek het immers op die jeugdige ouderdom van 14 my ma se geheime stash Mills en Boons ontdek en verslint. Die boek gaan nie jou lewe verander nie, maar dit gaan 'n gesprek aankoop met behoeftes in jou lyf wat jy nie eers geweet het daar is nie (nie almal van hulle gaan goeie gesprekke wees nie.) Niks in die boek is realisties nie (maar ek reken as jy iets realisties wou lees, sou jy die Financial Mail gekoop het.) Daar is baie herhaling en heeltemal te veel seks. Dit is nie fantasties geskryf nie, en die vroulike karakter doen baie van die dade onder dwang (nie die tipe heldin wat jy vir jou dogter sou uitkies nie. Gelukkig het ek nie die boeke vir my dogter gekoop nie, en heldinne is overrated.) Wat ek egter net nie kan verstaan nie is hoe die arme vrou aan die einde van die eerste boek nog enigsins regoop kan staan wat nog te sê van loop.

Die boeke is nogal intimiderend vir 'n Afrikaanse, kleindorpie meisie soos ek (ok nie regtig nie, soos ek gesê het - ou hand - Mills en Boons en so) maar as jy verby die grootskaalse geshaggery kan kom, is daar 'n mooi liefdesverhaal tussen 'n onskuldige meisie en 'n man met 'n donker kant wat bleikbaar hemelse dinge met sy hande kan doen. Weer en weer en weer.... En wie hou nie van 'n man met 'n donker kant nie? Laat toe dat die boeke jou verlei (of eerder seduce) niemand behalwe jy hoef daarvan te weet nie. Die lewe is kort en ons het almal 'n bietjie seduction nodig - al is dit net in ons geestesoog.

Dit het my 2 weke geneem om al drie boeke te lees. Ja, daar was 'n geween oor aandag, kos is verbrand, die slaap was min en teen die einde was ek angstig om klaar te kry, want die boeke het ernstig begin inmeng in my sosiale lewe. Toe ek egter vanoggend die drie boeke oorhandig aan die volgende gelukkige leser, was daar so klein tikkie van jaloesie in my dat ek dit nooit weer vir die eerste keer sal kan lees nie.

Gisteraand lê ek in die bed besig met die laaste paar hoofstukkies toe Pappa sy jag tydskriffie neersit en met afwagtende honger oë na my begin staar. Ek maak 'n vinnige skatting en sien dat die boek my ten minste nog so 45 minute gaan besig hou. "Slaap maar solank," sê ek toe vir hom "ek sal jou wakker maak as ek klaar is..."



Thursday, March 1, 2012

As die een gebou soos die volgende begin lyk

Ja, dis ek en ja, ek verkluim
Ek was onlangs in Berlyn vir 'n week vir werk. Dit was 35 grade toe ek opklim in Kaapstad en -15 toe ek die volgende dag afklim in Duitsland. Dit is minus 15, indien daar enige onduidelikheid is. En ons in die Kaap kla oor die wind...

Dit was my vierde keer in Europa en as jy my vra is dit drie te veel. As ek nog 'n gebou; 'n brug; een of ander standbeeld of 'n Rennaisance skildery moet gaan kyk, kom ek iets oor. Om nie van die Europese snobbisme te praat nie. Hulle is bitter vinnig om kommentaar te lewer oor 'n land (dis nou die sonnige Suid Afrika) waarin hulle nog nooit was nie; mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie en politiek waarvan hulle absoluut niks verstaan nie. Dit alles terwyl hulle in hulle piepklein dupleks huisies sit (wat 'n fortuin kos) sonder grasperke of braai areas. "But at least they are safe." Have you ever!

Hulle lyk regtig almal dieselfde.

Behalwe ou geboue en aaklige winters is hulle wyn duur, restaurante onbekostigbaar en hulle bier bitter. Baie bitter. Die enigste plekke wat ek wel sal wil besoek is die lande wat op die rand van bankrotskap staan soos Griekeland en Spanje. Ten minste weet hulle hoe om vakansie te hou...

Nee wat, gee my eerder somers in die Tuinroete en winters in die Bosveld, goedkoop wyn en braaibroodjies. Dan vat ek maar die man wat deur my venster klim, ek het mos twee groot honde, ADT en 'n panic button.




Tuesday, February 21, 2012

Ek het jou lief


Siende dit die maand van liefde is, het ek gedink hierdie is erg gepas. Ek het onlangs Lize Beekman se nuwe cd waarvan ek het jou lief die titelsnit is, in die pos gekry vir my verjaarsdag. Dit het my 2 dinge laat besef: 1. presentjies (of briefies) in die pos is die heel lekkerste en 2. liefde is nie altyd maklik nie, maar dis altyd lekker.

Mag elkeen briefies in die pos kry en meer as genoeg liefde.

Lied: Lize Beekman
Titel: Ek het jou lief
Prentjies: (behalwe die een hierbo wat ek self geneem het van 'n deur in Belgie.) We heart it


Ek dink dis lankal so
ek dink dit oor en oor
en sou jy naby kyk
sou jy dit lees in my oë


Sonder uitroep of punt
en ek gaan wonder wat jy dink,
maar my hart het reeds gekies
eenvoudig soos dit is - ek het jou lief!


So, ek kies my woorde mooi,
want so genadeloos kan
 die waarheid wreed verdraai
as jy net die helfte hoor.



Ek sou vir jare kon praat
as ek die hele woordeboek gaan haal,
maar liefs gaan ek kies
om te se net soos dit is:
ek het jou lief.


Ek kon dit doodgewoon skryf
vir jou die bladsy wys
dan staan dit swart op wit
my hart in woorde en ink


dit sal vir jare daar staan
en jy kan dit weer en weer gaan haal
so, liefs gaan ek kies
om te skryf net wat dit is:
ek het jou lief




Friday, January 27, 2012

Pre Argus Malligheid


Dit is binnekort weer die Argus fietstoer in die Kaap en orals waar jy kyk is 'n mens op 'n fiets. Moet ook nie dink jy kan by 'n spinning klas by die gym inkom nie. Selfs die 90minute outjies is tjok en blok vol.

Nou die probleem is so; ek en my suster het dit goedgedink om te begin oefen vir 'n driekamp (ek weet ook nie wat ons besiel het nie.) Nou die een gedeelte van 'n driekamp is 'n entjie op die fiets. So staan ek toe vandag heel fluks 5 uur op om die 5h30 spinning klas by my naaste virgin active te vang. (Ek herhaal 5h00 - soos in die oggend!!)

Imagine net gou my verbasing to ek 05h20 daar aankom en die klas is reeds vol. Die mense sit ewe getrou op hulle fietse en warm solank op. Ek meen, watter nugterdenkende mens is daardie tyd van oggend wakker, wat nog te sê van op 'n fiets?!

Party mense het regtig nie 'n lewe nie...

PS. Die meisie op die foto hierbo is nie ek nie. En haar glimlag; defnitief fake.