Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, March 1, 2012

As die een gebou soos die volgende begin lyk

Ja, dis ek en ja, ek verkluim
Ek was onlangs in Berlyn vir 'n week vir werk. Dit was 35 grade toe ek opklim in Kaapstad en -15 toe ek die volgende dag afklim in Duitsland. Dit is minus 15, indien daar enige onduidelikheid is. En ons in die Kaap kla oor die wind...

Dit was my vierde keer in Europa en as jy my vra is dit drie te veel. As ek nog 'n gebou; 'n brug; een of ander standbeeld of 'n Rennaisance skildery moet gaan kyk, kom ek iets oor. Om nie van die Europese snobbisme te praat nie. Hulle is bitter vinnig om kommentaar te lewer oor 'n land (dis nou die sonnige Suid Afrika) waarin hulle nog nooit was nie; mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie en politiek waarvan hulle absoluut niks verstaan nie. Dit alles terwyl hulle in hulle piepklein dupleks huisies sit (wat 'n fortuin kos) sonder grasperke of braai areas. "But at least they are safe." Have you ever!

Hulle lyk regtig almal dieselfde.

Behalwe ou geboue en aaklige winters is hulle wyn duur, restaurante onbekostigbaar en hulle bier bitter. Baie bitter. Die enigste plekke wat ek wel sal wil besoek is die lande wat op die rand van bankrotskap staan soos Griekeland en Spanje. Ten minste weet hulle hoe om vakansie te hou...

Nee wat, gee my eerder somers in die Tuinroete en winters in die Bosveld, goedkoop wyn en braaibroodjies. Dan vat ek maar die man wat deur my venster klim, ek het mos twee groot honde, ADT en 'n panic button.




Tuesday, February 21, 2012

Ek het jou lief


Siende dit die maand van liefde is, het ek gedink hierdie is erg gepas. Ek het onlangs Lize Beekman se nuwe cd waarvan ek het jou lief die titelsnit is, in die pos gekry vir my verjaarsdag. Dit het my 2 dinge laat besef: 1. presentjies (of briefies) in die pos is die heel lekkerste en 2. liefde is nie altyd maklik nie, maar dis altyd lekker.

Mag elkeen briefies in die pos kry en meer as genoeg liefde.

Lied: Lize Beekman
Titel: Ek het jou lief
Prentjies: (behalwe die een hierbo wat ek self geneem het van 'n deur in Belgie.) We heart it


Ek dink dis lankal so
ek dink dit oor en oor
en sou jy naby kyk
sou jy dit lees in my oë


Sonder uitroep of punt
en ek gaan wonder wat jy dink,
maar my hart het reeds gekies
eenvoudig soos dit is - ek het jou lief!


So, ek kies my woorde mooi,
want so genadeloos kan
 die waarheid wreed verdraai
as jy net die helfte hoor.



Ek sou vir jare kon praat
as ek die hele woordeboek gaan haal,
maar liefs gaan ek kies
om te se net soos dit is:
ek het jou lief.


Ek kon dit doodgewoon skryf
vir jou die bladsy wys
dan staan dit swart op wit
my hart in woorde en ink


dit sal vir jare daar staan
en jy kan dit weer en weer gaan haal
so, liefs gaan ek kies
om te skryf net wat dit is:
ek het jou lief




Friday, January 27, 2012

Pre Argus Malligheid


Dit is binnekort weer die Argus fietstoer in die Kaap en orals waar jy kyk is 'n mens op 'n fiets. Moet ook nie dink jy kan by 'n spinning klas by die gym inkom nie. Selfs die 90minute outjies is tjok en blok vol.

Nou die probleem is so; ek en my suster het dit goedgedink om te begin oefen vir 'n driekamp (ek weet ook nie wat ons besiel het nie.) Nou die een gedeelte van 'n driekamp is 'n entjie op die fiets. So staan ek toe vandag heel fluks 5 uur op om die 5h30 spinning klas by my naaste virgin active te vang. (Ek herhaal 5h00 - soos in die oggend!!)

Imagine net gou my verbasing to ek 05h20 daar aankom en die klas is reeds vol. Die mense sit ewe getrou op hulle fietse en warm solank op. Ek meen, watter nugterdenkende mens is daardie tyd van oggend wakker, wat nog te sê van op 'n fiets?!

Party mense het regtig nie 'n lewe nie...

PS. Die meisie op die foto hierbo is nie ek nie. En haar glimlag; defnitief fake.

Monday, January 16, 2012

'n Vinnige draai by ongevalle


Durbanville Medi Clinic se ongevalle personeel ken my al amper op die voornaam. As my kinders nie wakker word met 40 grade koors nie, dan haak Lisa se elmboog uit. Elke keer hoop ek dis nou my laaste.

Verlede Woensdag was Lisa se eerste skooldag by haar nuwe skooltjie. Sy was so opgewonde dat sy my nie eers gegroet het nie. Ek het nog met haar juffrou gestaan en gesels en toe ek wil omdraai om te soen en druk is sy weg. Heel bo op die klimraam, soos gewoontlik. Ek het net my kop geskud en toe maar gewaai.

11:00 kry ek egter 'n oproepie van die skool af; "Mev. jou kind het van klimraam afgeval op haar kop, ek dink jy moet haar dokter toe vat."  Ongevalle hier kom ons. Een breinscan later (en twee senuwee ineenstortings vir my) diagnoseer hulle erge harssingskudding en neem hulle haar op vir die aand vir observasie.

Vir die wat nog nie 'n aand saam met hulle kind in die hospitaal spandeer het nie, die sleeper couch/lazy boy aksie wat hulle het vir jou om op te slaap is nie die gemaklikste nie, maar dit kon erger gewees het.

3uur die oggend, egter, word ek wakker met 'n klein meisietjie langs my bed: "ek wil by mamma lê"

Ek kyk na haar bed waar die staal reelings opgeslaan is, sodat sy nie afval nie.

"Hoe het jy uit die bed gekom?" vra ek vir haar.

Sy kyk my aan of ek dom is: "Hier bo is 'n gaatjie, mamma."

Iets sê vir my hierdie gaan nie die laaste keer wees dat ek 'n aand saam met my loskop, rowwe dolla in  die hospitaal spandeer nie...

Thursday, November 24, 2011

Ami

Van al Lize Beekman (en ek sien myself as 'n redelike groot Lize Beekman aanhanger) se liedjies is Ami seker my gunsteling. Dit laat my altyd nadink oor waar ek nou is teenoor waar ek vandaan gekom het. Dit laat my dan ook altyd onwillekeurig terug verlang na die dae van onskuldige liefde.

Liedjie: Ami
Kunstenaar: Lize Beekman
Prentjies: We heart it


Ek het nog altyd die meeste van jou gehou
want jy't mooi gelyk op my bicycle
as ek langs jou huis toe loop
ek het my dood gedra aan jou tas op my rug
op 'n drafstap om by te hou,
maar dit was a-okay, want
ek was dol verlief op jou

Ami, deur die jare
het ek iewers heen verdwaal
daar's modder op my 4x4
en Jack Daniels praat my taal

Ami, deur die jare het ek vergeet om jou te soek
Nou's my bicycle op verroes
en ek hou nog steeds die meeste van jou

ek het nog altyd die meeste van jou gehou
Jy't met my gedans by die sokkiejol
al het ek lomp jou hand gehou


jy't altyd skaam gelag
as ek weer wou hoor
hoe jy droom en lugkastele bou


van die vreemdste goed het jy sin gemaak
ja, ek was dol verlief op jou.


droom jy nog in engels en skryf dit neer in Afrikaans
glo jy nog dat Elvis lewe en wegkruip op die maan?

Tuesday, November 8, 2011

Troufotos

Ons het hierdie jaar 2 familie troues gehad - eers my suster en nou onlangs my boetie (jammer, ek bedoel broer - foto hierbo.)

Het jy al opgelet hoe vreemd troufotos regtig is (miskien is dit net ek.) Dan moet jy hier teen 'n stoordeur leuen en dan moet jy wydsbeen oor 'n treinspoor loop met 'n tassie in jou hand (om waarheen te gaan, weet nugter.) En dit alles doen jy terwyl jy meer make-up aanhet as Nataniël op 'n goeie dag en met soveel knippies in jou kop rondloop, jy kan 'n klein gemeenskap 2 weke van elektrisiteit voorsien as 'n weerligstraal jou sou tref. En vir dit alles betaal jy duisende rande en vat dit ure om jou so onnatuurlik mooi te kry.

Hoekom is dit dan dat van al die fotos wat op my broer se troue geneem is, hierdie een vir my die heel mooiste is?


Want dit het beteken dat Mamma uiteindelik bietjie kon gaan skud het...soos in die ou dae!!!


Thursday, September 29, 2011

Oom Kosie se boek

Een van die gereelde besoekers op ons blog; 'n Duisend Woorde het onlangs vir my gekontak om te hoor of hy een van my quotes op die agterblad van 'n boek mag gebruik. Hierdie is die proef wat hy vir my gestuur het.

Oom Kosie, ek weet nie wie jy is nie, maar ek en jy maak 'n mean team.