Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, June 24, 2009

Hoeveel geld moet jy hê om ryk te wees

If you want to know what God thinks of money, just look at the people he gave it to.
- Dorothy Parker -

Ons ken almal daai stories van hoe die vorige geslag arm groot geword het - daar was nooit geld vir skoene of vakansies nie. Hulle het hulle eie speelgoed gemaak en met die donkiekar skool toe gery. Al hulle klere was handgemaak, hulle het pap geëet en seep gekook. En dan sal hulle altyd sug en met so vêr-af kyk in hulle oë sê 'julle jongmense weet nie wat dit is om arm te wees nie.'

Ek het nog altyd so na hierdie stories geluister en maar net my seëninge getel, want die hemel weet ek hou nie van pap nie en my seep moet na blomme ruik. Dit is egter die laaste tyd wat my man gereeld vir my hierdie sinnetjie voor my kop gooi, dat ek werklik daaroor begin dink het en tot die skokkende besef gekom dat ek wel arm groot geword het...

Ons huis het sementvloere gehad, want daar was nie geld vir matte of teëls nie. Ons het 'n groen Ford Grenada gery wat se uitlaatpyp gereeld op die grond gesleep het. Ek het so geel no-name brand rakket gehad wat se verf naderhand begin afgaan het, want daar was net eenvoudig nie geld vir 'n nuwe een nie. Ek was in 'n koshuis en het R5 per week sakgeld gekry. Daar was nooit regtig geld vir enige iets behalwe die noodsaaklikste nie, maar dit het my nie gepla nie, want ek het nooit gevoel ek kom iets kort nie. Ek het nie duur speelgoed nodig gehad nie, want ek kon ure op die plaas ronddwaal in my eie wêreld. Dit was heerlik om in die warm somer op die koel sementvloer te gaan lê. Jy kon maar vir my 'n Wilson ook gegee het, maar met my rughand sou ek in elk geval nie verder as die skool se 2de span kom nie. Ek en my suster het ons doodgelag vir die groen Ford (ons doen nou nog.) My pa het die beste sin vir humor gehad so alles was altyd snaaks en my ma kon jy deur 'n ring trek al het sy nie die duurste klere aangehad nie. Ek het my nooit geskaam vir my huis of my ouers of my eie tekortkominge nie. Miskien was dit die plek waar ek grootgeword het of miskien was ons net gelukkig ten spyte van ons min geld.

My oupa Jerry het altyd 'n sêding gehad; "mens hoef nie ryk te wees om 'n rykman se maniere te hê nie." Daar is 'n groot verskil tussen arm en armsalig. Ek het arm grootgeword, maar ek het dit nooit besef nie, want ek was heeltemal te besig om myself te geniet.