Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Monday, February 28, 2011

Jou kastaiings krap

Gee vir my 'n man wat sê wat waar is, as die duiwel daar is. Wat doen wat reg is, as die regter weg is. Wat trou by sy gewete bly, as hy straf in plaas van beloning kry.   - C J Langenhoven      
So tussen deur al die amazings en awesomes, vergeet mens soms watter mooi taal ons het. Ek het verlede week vir die eerste keer in Nelspruit 'n Kastaiing gesien, ook bekend as 'n Laeveld Okkerneut (nog nooit van gehoor nie.)  Die enigste wat ek al ooit gehoor het van 'n kastaiing is in die spreukwoord jou kastaiings uit die vuur krap. Een van my ouer kollegas het toe ook verduidelik waar hierdie spreekwoord vandaan kom. Bleikbaar kan jy die vrug aan die binnekant eet, maar dit moet eers gaar gemaak word. Om dit gaar te maak sit jy die hele vrug in die vuur, wat jy dan later uitkrap om te eet - en siedaar; 'n spreekwoord.

PS. ek weet die CJ Langenhoven gesegde het nie veel met kastaiings te doen nie, maar dis mooi en ek wou dit met jou deel en dis my blog so ek mag.






Thursday, February 17, 2011

Veels geluk liewe maatjie

Ek verjaar vandag. Voordat jy egter die kersies in die koek sit; ek probeer nog uitwerk hoe oud ek is. Ek is in 1979 gebore wat 32 jaar terug is. My heupe kraak egter soos my Ouma s'n en sy is in haar 80's. My kakebeen is defnitief in die vroeë 50's. Gelukkig is my boobies 22 (verlede jaar die tyd was hulle 45.) As ek dus die gemiddeld uitwerk dink ek ek is êrens in my laat 40's, so ek verwag om more te begin met Menopause.

Monday, February 14, 2011

Gelukkige valentyndsdag

Ek is 'n sucker vir Valenteinsdag. Ek weet dis 'n geldmaak foefie, maar dit bly lekker. Ek het vandag gesien hoe manne met pakke (seker die eerste keer hierdie jaar) in Tygervallei rondloop met bosse Woolworths blomme.

Ek en my beter helfte het besluit om nie iets te doen nie. Hy het egter vir my verras met 'n geskenkbewys vir 'n vollyf massering (erg brownie punte!!) En ek maak vanaand 'n aansit ete onder die sterre (dis nou as die wind dit toelaat. Nie so romanties as jy in ag neem die kinders is by nie, maar kinders gaan darem gewoontlik op 'n stadium slaap.....

Geniet dit en ek hoop jy word verskriklik bederf!

Tuesday, February 8, 2011

Musiek vir die agtergrond

Ek het besluit dat dit tyd geword het om my lyf weer op datum te kry. Siende Evan nou al 8 maande oud is, werk die verskoning 'ek was onlangs swanger' nie meer nie. Dit het my 'n halfuur gevat om my tekkies op te spoor. Hulle was effens verbaas om my te sien, maar tog gewillig. Ek het my iPod op my hardloop kompilasie (running mix) gestel en weggetrek (wegtrek in my lyf bestaan uit 'n draffie wat meer lyk soos 'n stappie.)

Die eerste 1.5km van my roete is opdraand. Die Dixie Chicks spring weg met 'Ready to run' op my iPod en ek voel sommer geïnspireer. Die inspirasie hou 'n volle 500m toe my longe begin brand. Nie eers Ryno Velvet se 'Ai my Lam' kry die woema terug nie. Nog 500m en ek begin spikkels sien - ek vermoed my brein kry nie genoeg suurstof nie. Kid Rock skop in met 'Sweet home Alabama' en ek stop eers om 'n bietjie te dans. Die motors verminder spoed as hulle by my verby kom - soos by 'n ongeluk. Bleikbaar kan ek ook nie meer skud soos in die ou dae nie en ek hardloop maar eerder verder.

1km verder en alles brand; my longe, my kuite, my bene, my linker heup en my kakebeen. Prince probeer hard om my aan die gang te kry met 'When doves cry,' maar selfs my Polar wys dat my hartklop 0 is (ek het die goedkoop model - as jou hartklop oor 200 gaan, kan hy hom nie meer optel nie en dan wys hy 0.) Dit het ek egter eers na die tyd uitgevind, so daar was 'n oomblik wat ek gedink het, ek is oppad uit. Ek het gesien hoe word my kinders sonder 'n ma groot. Was dit nie vir ACDC se 'Paradise City' nie, sou ek dit nooit tot by die huis gemaak het nie.

Toe ek by my voorhekkie instap breek ek sommer self uit in Rina Hugo se 'Ek lewe.'

Twee ure later en alles pyn steeds. Dit is soos hulle sê; it's painful to be beautiful.' Ten minste het my pyn goeie agtergrond musiek.