Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, September 29, 2011

Oom Kosie se boek

Een van die gereelde besoekers op ons blog; 'n Duisend Woorde het onlangs vir my gekontak om te hoor of hy een van my quotes op die agterblad van 'n boek mag gebruik. Hierdie is die proef wat hy vir my gestuur het.

Oom Kosie, ek weet nie wie jy is nie, maar ek en jy maak 'n mean team.

Wednesday, September 28, 2011

Skadu's teen die muur

Vandag was 'n moeilike dag. My vriendin op universiteit het altyd gepraat van die olifante wat op haar bors trap. Die olifante was vandag vierkantig op my bors. Die Engelse het 'n wonderlike uitdrukking van wallow in your misery. Nou as ek voel soos ek vandag voel, hou ek daarvan om te wallow in my misery. Die beste manier om dit te doen is om jou te omring met woorde wat met jou hart praat. En as daar nou een man is wat weet van wallow, dan is dit onse Koos du Plessis. So hierdie is opgedra aan my misery.

Liedjie: Skadu's teen die muur
Lirieke: Koos du Plessis
Alle prentjies: We heart it

Die donker kom van buite
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur

En die tafel en die laaikas
en alles wat eers vas was,
versmelt tot blote skadus teen die muur
Ons drome van gister,
word somber en sinister
want kyk, alles het 'n vasgestelde uur
Ons beplan toringblokke,
maar die slopers is betrokke,
en ons drome is bloot skadu's teen die muur
Met orrelbeleiding kom die voorspel tot die skeiding,
maar dis alles reg
die liefde is 'n vuur
En van die vurige hofmaak
hoor ons later in die hofsaak,
want die liefde is 'n skadu teen die muur.
In swart of wit getooi,
in 'n stoet of 'n konvooi,
wonder elkeen hoe lank alles nog sal duur.

En leef holderstebolder,
want die kis wag op die solder,
en die lewe is 'n skadu teen die muur
Die donker kom van buite,
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur
En my voete en my hande
word ou bekende lande,
in skadukaarte teen die kamer muur

Die wêreld word 'n skadu teen die muur
'n flikkerende skadu teen die muur.

Wednesday, September 21, 2011

Very end of the month salty crack

Jy weet dit gaan swaar in die Langenhoven huishouding as die hoof wyndrinker van die huis voor die wynrak staan en na die prys kyk in plaas van die bottel etikette. Ek het gister op 'n bottel Namaqua Merlot afgekom vir R19 (en ja, dit sluit BTW in.) Dit het my teruggeneem na my universiteitsdae toe ons nog Tassenberg kon koop vir R15 'n bottel. Nes Tas, raak Namaqua ook eers lekker hier so teen die einde van die tweede glas, maar dit is defnitief nie ondrinkbaar nie en teen R19 oor en oor 'n winskopie. Bleikbaar kan jy hierdie rakker ook in 'n doos kry, maar drank deur 'n kraantjie maak my op my senuwees. Ten minste as die bottel leeg is, weet ek ek het reeds te veel wyn in en ek moet dadelik ophou praat. Met 'n doos, wel, kom ons sê maar net dit sal nie 'n goeie idee wees nie. Vra my, ek weet.

Friday, September 2, 2011

Ruimte koekies

Ek raak oud. Dis onlangs net weereens bevestig by 'n verjaarsdagpartytjie van 'n vriend.

By die partytjie aangekom ruik ek die sigaretrook 'n myl vêr en trek solank al my pakkie tissues en Iliadin nader; dit gaan 'n lang nag wees, dink ek. Moenie dink ek's niks gewoond nie, daar was winterdae in my en Lienka se woonstel in Stellenbosch wat die rook blou wolke teen die dak gemaak het, omdat ons nie die vensters wou oopmaak nie. Bygesê toe het ek nog tot 12 uur in die oggende gelê en slaap en bier specials was R10 vir 5 biere...baie dinge het verander.

Vir snacks word daar space cakes bedien. Ek was nog nooit een vir dagga nie. Daar was daai een dag in Amsterdam, maar soos julle weet; what happens in Amsterdam, stays in Amsterdam, so dit tel nie. So ek laat dit maar verbygaan. Ek is egter bly ek het besluit om my 2-jarige dogter by die huis te los, want hoe sou ek nou aan haar verduidelik het dat die chocolate cupcakes is net vir die grootmense...

Half 12 die aand is die pot nog nie gaar nie. Baie ander dinge is gaar, maar dit kan mens seker te wagte wees vir daardie tyd van die aand in ag genome onder andere die snacks. Die gasvrou vra hewig om verskoning, maar ons kuier mos lekker. Al waaraan ek egter kan dink is die feit dat ek oor twee ure weer moet opstaan vir Evan se eerste bottel.

Soos ek sê, ek raak oud.