Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, October 17, 2012

50 Skakerings van grys

Ek moet bieg; ek het geswig onder groepsdruk. Dit was nie eers goeie groepsdruk soos bv. boekklub nie - dit was net algemene gesprekke op kantoor waaraan ek nie kon deelneem nie; wat my tot lees gedryf het. (Wat my herhinner ons beter weer boekklub begin, ek het indringend 'n verskoning nodig om saam met vriendinne wyn te drink en te skinder. O ja, en boek te lees, natuurlik.) Ek beveel dit egter ten sterkste aan, kry 'n verskoning om die boek te lees en as jy nie een het nie, dan sê jy ek het gesê jy moet.

Ek is geen vreemdeling vir erotika nie, ek het immers op die jeugdige ouderdom van 14 my ma se geheime stash Mills en Boons ontdek en verslint. Die boek gaan nie jou lewe verander nie, maar dit gaan 'n gesprek aankoop met behoeftes in jou lyf wat jy nie eers geweet het daar is nie (nie almal van hulle gaan goeie gesprekke wees nie.) Niks in die boek is realisties nie (maar ek reken as jy iets realisties wou lees, sou jy die Financial Mail gekoop het.) Daar is baie herhaling en heeltemal te veel seks. Dit is nie fantasties geskryf nie, en die vroulike karakter doen baie van die dade onder dwang (nie die tipe heldin wat jy vir jou dogter sou uitkies nie. Gelukkig het ek nie die boeke vir my dogter gekoop nie, en heldinne is overrated.) Wat ek egter net nie kan verstaan nie is hoe die arme vrou aan die einde van die eerste boek nog enigsins regoop kan staan wat nog te sê van loop.

Die boeke is nogal intimiderend vir 'n Afrikaanse, kleindorpie meisie soos ek (ok nie regtig nie, soos ek gesê het - ou hand - Mills en Boons en so) maar as jy verby die grootskaalse geshaggery kan kom, is daar 'n mooi liefdesverhaal tussen 'n onskuldige meisie en 'n man met 'n donker kant wat bleikbaar hemelse dinge met sy hande kan doen. Weer en weer en weer.... En wie hou nie van 'n man met 'n donker kant nie? Laat toe dat die boeke jou verlei (of eerder seduce) niemand behalwe jy hoef daarvan te weet nie. Die lewe is kort en ons het almal 'n bietjie seduction nodig - al is dit net in ons geestesoog.

Dit het my 2 weke geneem om al drie boeke te lees. Ja, daar was 'n geween oor aandag, kos is verbrand, die slaap was min en teen die einde was ek angstig om klaar te kry, want die boeke het ernstig begin inmeng in my sosiale lewe. Toe ek egter vanoggend die drie boeke oorhandig aan die volgende gelukkige leser, was daar so klein tikkie van jaloesie in my dat ek dit nooit weer vir die eerste keer sal kan lees nie.

Gisteraand lê ek in die bed besig met die laaste paar hoofstukkies toe Pappa sy jag tydskriffie neersit en met afwagtende honger oë na my begin staar. Ek maak 'n vinnige skatting en sien dat die boek my ten minste nog so 45 minute gaan besig hou. "Slaap maar solank," sê ek toe vir hom "ek sal jou wakker maak as ek klaar is..."