Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Sunday, October 4, 2015

10 enkelvrou voornemens


Ek voel 'n bietjie soos die hond wat die bus gevang het. Na 'n huwelik van 10 jaar, 2 kinders en baie grys hare later vind ek myself; enkellopend. Daar is nie 'n handleiding vir 36-jarige enkellopende ma's nie (ek weet - die dude by exclusive books het my op speed-dial.) Vir 'n oomblik het ek internet dating oorweeg, maar ek kon nie 'n geskikte profiel foto kry nie. In elk geval nie een waar ek soos Cindy Crawford lyk nie; en dit is min of meer die look waarvoor ek gegaaan het. (Vir die wat nie weet wie Cindy Crawford is nie; miskien is dit belangriker om eers graad 5 deur te kom as om vreemde mense se blogs te lees...) So toe doen ek wat enige regdenkende 36 jarige, geskeide ma van 2 doen; ek maak 'n lys. Nie sommer enige lys nie, meer soos 'n voornemens lys vir wat om te doen terwyl ek (weer) enkellopend is. Ek het alles gegee:

  1. Verloor gewig en kry 'n bikini lyf. Ok, hierdie is miskien meer 'n lang-termyn projek, maar daar is min dinge so sexy soos 'n 40-jarige vrou wat goed lyk in 'n bikini. Ek is gelukkig nou eers (amper) 37. Ek reken 3 jaar se planking sal die ding doen... Kry daai lyfie met Linda, hier kom ons.
  2. Leer kitaar speel. Ek weet nie hoekom nie, maar ek wou nog altyd. So die volgende ding wat ek gaan doen is om vir my 'n swart of 'n blou kitaar te koop en iemand met dimpels te kry om my te leer. Ek weet nie waar die swart of blou vandaan kom nie, maar ek kan jou 'n storie oor die dimpels vertel. Op 'n ander dag; natuurlik.
  3. Skryf. Soos jy kan sien is hierdie blog redelik onaktief die laaste paar maande (jaar?) Daar is redes daarvoor. Egskeiding nie uitgesluit nie. Kom ons sê maar net soms is dit goed om liewer niks te sê nie. Dit is nou verby. 
  4. Roadtrip. Hierdie een kom al lank. My plan is om Desember langs die kus af te ry vir 2 weke. Die kinders is by hulle pa en die laaste ding wat ek wil doen is om my vriende se vakansies te versier my my lang onderlip. So as enige iemand weet van 'n goeie nuwejaars partytjie langs die Ooskus; laat my weet.
  5. Wees 'n klein bietjie roekeloos. Hierdie is natuurlik oop vir die ingewing van die oomblik, maar my idees is in die lyn van praat met 'n vreemdeling (verkieslik een met 'n sixpack - ek myself is meer 'n amber weiss meisie, maar lager sal ook doen;) spring van hoë goed af (met 'n valskerm of bungee tou, natuurlik) en voel weer hoe dit voel as jou hart te vinnig klop.
  6. Omring myself met positiewe, verkieslik skreeusnaakse mense. Ek het lus om te lag. uit my maag uit tot die trane by my oë uitloop. Ek onthou daar was 'n tyd wat dit natuurlik gekom het. En gelukkig weet ek waar om die mense te kry.
  7. Ek wil 'n tattoo kry wat my aan my broer herhinder. Niks uitspattigs nie, net iets wat sê: "just breathe" sodat hy my elke dag kan herhinder dat die lewe kort is en elke asemteug is 'n gawe.
  8. Ek wil ten minste 1 oorsese reis op my eie doen. My tyd vat. Dinge sien wat ek wil sien, kos eet wat ek wil eet. Ek wil verdwaal êrens waar niemand my taal praat nie (behalwe die 3 rugby spelers wat al vir 4 jaar daar is) en 'n storie kry wat net ek kan vertel.
  9. Ek wil dans. Gestruktureerd (ek is besig om bejaarde dansklasse te google soos ek hier tik) maar ook sommer net. Ek wil my heupe beweeg omdat die ritme met my praat. Of ek nou in 'n winkel sentrum is of by 'n onderhoud (ernstig: as jy agtergrondmusiek met ritme by 'n onderhoud speel, is ek joune vir ewig.)
  10. Laastens wil ek weer verlief raak. Ek praat van skoenlappers in my maag, spoegopdroog, vinnige hartklop verlief. Ek wil vergeet van elke hartseer oomblik, elke traan en vir een keer in my lewe weer voel asof dit iets is wat ek kan verdien. Ek soek iemand wat bang is om my te verloor. Hierdie een het egter nie 'n tydsbeperking nie. Hy kan oop bly tot hy gebeur, want soos die gesegde gaan: I've got nothing but time. (Ek praat absolute bollie, my heupe kraak en my oë wil nie meer so lekker sien nie, so jy beter jou boude roer. Wie jy ookal mag wees.)