Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Showing posts with label gedigte. Show all posts
Showing posts with label gedigte. Show all posts

Tuesday, July 12, 2011

Glasstukke

We write to taste life twice, in the moment and in retrospect - Anais Nin.

Ek onthou in een van ons voorgeskrewe boeke in Matriek, Die rebellie van Lafras Verwey, het een van die karakters se water gebreek en sy het toe so uitgesree; waarop Lafras haar van agter die deur geantwoord het; "moet net nie in die glasstukke trap nie."

Soms as iets binne my breek wil ek vir die mense rondom my ook waarsku; pasop net vir die glasstukke.

Glasstukke
jy moes dit nooit sien nie
ek het probeer om jou weg te hou
van die vlymskerp stukies van my hart
en die donker waaraan ek so krampagtig vashou

jou prentjie van my moes dieselfde bly
van 'n krulkop meisie met 'n sorgelose lag
maar toe kom krap jy in my donker hoekies
en probeer dag maak van my nag

jy het so hard probeer om my heel te maak
stukkie vir stukkie weer op te bou
deur my trane en jou herhinderinge
hard gesoek vir die meisie wat jy onthou

nou sit jy daar: prentjiemooi
jou hande stukkend gesny
en al wat ek oor my lippe kan kry
is ek wens jy kon bly

Friday, January 15, 2010

'n Plek waar tyd stilstaan

Daar is 'n plek waar die tyd stilstaan
waar mense nog biddae hou vir reën
en vir middagetes huis toe gaan
en as dit moet jy gou 'n koppie suiker by die buurman kan leen

Daar is 'n plek waar kinders nog kaalvoet skool toe loop
en jy die reën in die grond kan ruik
waar jy gebreide hangeroortreksels by kerkbazare kan koop
en mense jou nog in die oë kan kyk

Daar is 'n plek waar jy nog tuisgemaakte konfyt kan kry
en toiletpoppe oor die toiletpapier
waar jy verniet die hele week kan eet en bly
en jou ma nog steeds jou buie verduur

dit is daar waar ek altyd 18 sal wees
en my onskuld in jou hart sal bly
waar jy nog die drome in my oë kan lees
en miskien altyd bietjie lief sal wees vir my

daar is 'n plek waar tyd stilstaan
as ek mooi vra,
sal jy saam met my gaan?

Tuesday, November 10, 2009

Stukkies

my hartswoorde wat in jou ore lê
my trane en my lag
my skop en skree
was alles stukkies van my
wat ek vir jou wou gee

sal jy dit vir my veilig hou
êrens in die gange van jou hart
en dit met jou sagtheid toevou
sodat ons miskien eendag weer
as al die geraas ophou
die stukkies weer heel kan bou

Thursday, July 2, 2009

Voodoo

ek weet jy is nog hier iewers
jou spore lê duidelik in die sand
jou reuk speel wegkruipertjie in die lug
jou lippe sag in die holte van my hand
jou stem eggo deur die gange
jou trane hardloop deur my skryf
ek weet jy is nog hier iewers
in die voodoo van my lyf

Saturday, August 16, 2008

Meisiekind

Meisiekind
jy hardloop deur my
soos die wilde wind;
jaag vlinders deur my lyf
en hang jou glimlag
aan my hart se punt.

Met elke klop van jou hart
bly my liefde blind
vir ewig aan jou gebind
My hart blom rooi
vir jou my mooiste mooi
meisiekind

Tuesday, February 5, 2008

Kom lê jou lyfie neer

ek wag nog 'n maand en nog een
vir 'n boodskap dat jy kom
'n teken dat jy wel daar is
maar steeds bly alles stom

kom lê jou lyfie neer
in die holte van my seer
kom lê jou lyfie neer

ek ken nog nie jou naam nie
jou huis is hol en leeg
maar jou lewe, my begeerte
aan iets wat binne beweeg

kom lê jou lyfie neer
in die holte van my seer
kom lê jou lyfie neer

ek voel alreeds hoe jou vingers
elke hoek van my gesig ontdek
my liefde vir jou vir altyd
in onvoorwaardelikheid toegetrek

kom lê jou lyfie neer
in die holte van my seer
kom lê jou lyfie neer