Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, February 17, 2011

Veels geluk liewe maatjie

Ek verjaar vandag. Voordat jy egter die kersies in die koek sit; ek probeer nog uitwerk hoe oud ek is. Ek is in 1979 gebore wat 32 jaar terug is. My heupe kraak egter soos my Ouma s'n en sy is in haar 80's. My kakebeen is defnitief in die vroeë 50's. Gelukkig is my boobies 22 (verlede jaar die tyd was hulle 45.) As ek dus die gemiddeld uitwerk dink ek ek is êrens in my laat 40's, so ek verwag om more te begin met Menopause.

Monday, February 14, 2011

Gelukkige valentyndsdag

Ek is 'n sucker vir Valenteinsdag. Ek weet dis 'n geldmaak foefie, maar dit bly lekker. Ek het vandag gesien hoe manne met pakke (seker die eerste keer hierdie jaar) in Tygervallei rondloop met bosse Woolworths blomme.

Ek en my beter helfte het besluit om nie iets te doen nie. Hy het egter vir my verras met 'n geskenkbewys vir 'n vollyf massering (erg brownie punte!!) En ek maak vanaand 'n aansit ete onder die sterre (dis nou as die wind dit toelaat. Nie so romanties as jy in ag neem die kinders is by nie, maar kinders gaan darem gewoontlik op 'n stadium slaap.....

Geniet dit en ek hoop jy word verskriklik bederf!

Tuesday, February 8, 2011

Musiek vir die agtergrond

Ek het besluit dat dit tyd geword het om my lyf weer op datum te kry. Siende Evan nou al 8 maande oud is, werk die verskoning 'ek was onlangs swanger' nie meer nie. Dit het my 'n halfuur gevat om my tekkies op te spoor. Hulle was effens verbaas om my te sien, maar tog gewillig. Ek het my iPod op my hardloop kompilasie (running mix) gestel en weggetrek (wegtrek in my lyf bestaan uit 'n draffie wat meer lyk soos 'n stappie.)

Die eerste 1.5km van my roete is opdraand. Die Dixie Chicks spring weg met 'Ready to run' op my iPod en ek voel sommer geïnspireer. Die inspirasie hou 'n volle 500m toe my longe begin brand. Nie eers Ryno Velvet se 'Ai my Lam' kry die woema terug nie. Nog 500m en ek begin spikkels sien - ek vermoed my brein kry nie genoeg suurstof nie. Kid Rock skop in met 'Sweet home Alabama' en ek stop eers om 'n bietjie te dans. Die motors verminder spoed as hulle by my verby kom - soos by 'n ongeluk. Bleikbaar kan ek ook nie meer skud soos in die ou dae nie en ek hardloop maar eerder verder.

1km verder en alles brand; my longe, my kuite, my bene, my linker heup en my kakebeen. Prince probeer hard om my aan die gang te kry met 'When doves cry,' maar selfs my Polar wys dat my hartklop 0 is (ek het die goedkoop model - as jou hartklop oor 200 gaan, kan hy hom nie meer optel nie en dan wys hy 0.) Dit het ek egter eers na die tyd uitgevind, so daar was 'n oomblik wat ek gedink het, ek is oppad uit. Ek het gesien hoe word my kinders sonder 'n ma groot. Was dit nie vir ACDC se 'Paradise City' nie, sou ek dit nooit tot by die huis gemaak het nie.

Toe ek by my voorhekkie instap breek ek sommer self uit in Rina Hugo se 'Ek lewe.'

Twee ure later en alles pyn steeds. Dit is soos hulle sê; it's painful to be beautiful.' Ten minste het my pyn goeie agtergrond musiek.

Thursday, January 20, 2011

Nuwe jaar, nuwe dinge

Ek is veronderstel om julle van my nuwe boobies te vertel, maar ek was nog nie lus nie. Dis 'n snaakse storie en ek het nog nie lus gevoel vir snaaks wees nie. Wat ek wel kan sê is hulle is die pratigste ou twee goedjies wat ek nog ooit aan my lyf gehad het. Selfs my man dink hy date 'n hoërskool meisie. Maar meer hieroor later, ek belowe.

Eers wil ek sê voorspoedige nuwe jaar. Ek het gisteraand eers my Kersboom afgeslaan (ek weet dis bad luck, maar alhoewel die res van die land verspoel het, was dit hier te warm om te beweeg. En dit is presies wat ek gedoen het tot nou: niks.) My geld is al die 1ste Januarie op en ons eet nou al vir twee weke hoender. Ek kan nie meer 'n voël in die oë kyk nie.

My jaar het afgeskop met die nuus dat ons nie verhogings kry nie. Van toe af was ek nog nie weer in 'n goeie bui nie. Ek het my persoonlike begroting tot op die been gesny en besluit om my Virgin active te kanselleer; minder te eet; meer te hardloop en goedkoop wyn te drink. Ek het darem al die Virgin gekanselleer, sal nog by die res uitkom een of ander tyd, ek is seker.

Hoop julle nuwejaarsvoornemens is meer opwindend as myne en bevat dinge soos oorsese reise, tattoos en wilde flings met pragtige uitlanders. Moet my asseblief net nie daarvan vertel nie.

Friday, December 10, 2010

My Blom word 2


My blommetjie het op 31 Oktober 2 geword. Ek kan nie gloe hierdie warrelwindkind is al 2 jaar in my lewe nie. Sy is absoluut die lig in my lewe. Ek kan nie my lewe voorstel sonder haar blou oë en bossiekop nie. Sy is 'n bondel energie en liefde.

Op 2 jaar is haar wêreld as volg:
  • Sy kan al die kaste en yskas oopmaak. Die yskas het haar die langste gevat om uit te figure. Sy druk haar klein vingertjies tussen die rubber en die binnekant in en dan gaan dit oop. Joghurt en tamaties is haar gunsteling ding om uit die yskas uit te haal.
  • Sy is mal oor 'n besem en 'n skoppie. As jy al die vuilgoed bymekaar vee, dan kom krap sy weer alles deurmekaar met die besempie. Om die huis te probeer skoonmaak terwyl sy by is, is soos om 'n bad vol te tap wat nie 'n prop in het nie.
  • Sy is baie liefdevol - almal moet gesoen en gedruk word en as jy gelukkig is, sal jy 'n 'liefe jou' ook kry.
  • Sy is nie groot op luister nie. As ek vir haar sê om iets te doen, sal sy nie skroom oom vir my te sê 'nee Mamma' nie.
  • As sy wakker word in die oggend vertel sy altyd vir my: "hisa jekker esaap."
  • Sy is mal oor swaai en elke aand as ons by die huis kom wil sy " 'n bietjie swaai."
  • Sy kan nie haar aandag lank by een ding bepaal nie, behalwe TV. Sy is mal oor haar stories op Cbeebees.
  • Haar melk bottel noem sy Bottel Nannie (ons het geen idee hoekom nie, maar dis baie oulik.)
  • Suiker maak haar hiperaktief. Na 2 blokkies tjoklit (of tokkit soos sy dit noem) lyk sy soos die energiser bunny.
  • Seerplekke moet beter gesoen word.
  • Die trapleer in die kombuis is haar sleutel tot 'n ander wêreld. Sy kan sien waar mamma kosmaak, waar boetie bad en sy kan by die vrugtebak bykom. Sy noem hom ook sommer 'Hisa tappie.'
  • Alles wat raas soos 'n haardroër, grassnyer en klitser is 'n 'www'. Haar tannie Carla is 'Kakka,' haar pa is 'pappa Nè;' haar broer is 'boetie' en Dandre is 'Danna'
  • Sy is baie goed met name (defnitief nie by haar ma gekry nie.)
  • Sy is mal om met haar ouma en oupa op die telefoon te gesels, maar dan praat sy haar eie taal. Net sy en haar oupa weet wat sy sê...
  • Sy is 'n drama queen of note en as jy nie aandag gee wanneer sy huil nie, sal sy vinnig vir jou sê 'Hisa juil.'
  • Sy hou van haar tee partytjies almal moet altyd saam uit haar klein pienk blommetjie koppies drink.
  • Sy sal enige iets doen om nie te gaan slaap nie, maar as sy eers aan die slaap raak is sy 'n regte engeltjie.

Thursday, December 9, 2010

Sopdieet - dag 3

Gewig: 63kg (Dankie streetwise two)
Entoesiasme vlak: 2.5%
Spyskaart: Sop met vrugte en groente

08:30
Rooibos en heunig yoghurt. Ek weet, dit is nie op die spyskaart nie, maar die lewe is heeltemal te kort om sop vir ontbyt te eet.

13:00
Sop. Ek wurg dit in. Ek gril so bietjie met elke sluk.

17:00
Ek is besig om goed uit te sit vir aandete toe ek besef: die sop is op. Daar is 2 dinge wat nie vanaand gaan gebeur nie; 1. ek sal nie weer daai sopmengsel aanmaak nie, want 'n 3dae-uiereuk in my huis sien ek nie voor kans nie en 2. wynonthouding - mens kan net soveel dinge nugter hanteer.

18:30
Lasagne met slaai. Ek gooi sommer bietjie mayonnaise by vir effek. O ja, en 'n groot glas Merlot. Happiness.

Lesse:
  • Dieët is vir die voëls
  • Ek moet eerder meer oefen as minder eet.
  • Die lewe is te kort om heeltyd nugter te wees.
  • Sop maak jou dom.

Thursday, December 2, 2010

Sopdieet - dag 2

Gewig: 63kg (I kid you not, maar na gisteraand se ontploffing is ek nie verbaas nie.)
Entoesiasme vlak: 90% (was dit nie vir die 1kg verlies hierbo nie, sou dit baie laer wees.)
Spyskaart: Sop en groente - met 'n gebakte aartappel en botter vir aandete.

07:30
Ek skip die hele sop vir ontbyt ding en drink net 'n koffie. Ek leer uit my foute. By die kantoor werk ek nog 'n koppie koffie deur om net die ergste honger te bedaar.

09:30
My eerste koppie sop vir die dag. Ek gooi hom dood met sout en eet my stimorol na die tyd.

13:30
Middagete = sop. Het darem intussen al 2 wortels, 'n tamatie en 3 Rennies deurgewerk.

16:00
Sien uit na vanaand se aartappel en botter en ek is nie juis 'n aartappel mens nie - onthou dat ek julle eendag die storie vertel. Eet maar solank 'n tamatie met sout.

19:00
Moet gou Tygervallei toe, want die Eggenoot soek nuwe skoene en daar is glo 'n uitverkoping by ALDO. Ek is besig om dood te gaan van die honger en dit voel of die uie deur my vel kom. Lisa gee vir my een van haar koekies, maar eers nadat sy my maan: "sê seblief Lisa." Die Marie gaan lê tussen die uie en tamatie, maar die bietjie suiker smokkel met my kop. Ons loop verby 'n Kentucky en iets binne haak uit en daar is 'n ligte suising in my ore. 'n Streetwise two later bedaar dit eers...

21:00
Was laas so naar toe ek 8 weke swanger was met Lisa.