Liedjie: Skadu's teen die muur
Lirieke: Koos du Plessis
Alle prentjies: We heart it
Die donker kom van buite
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur
En die tafel en die laaikas
en alles wat eers vas was,
versmelt tot blote skadus teen die muur
Ons drome van gister,
word somber en sinister
want kyk, alles het 'n vasgestelde uur
Ons beplan toringblokke,
maar die slopers is betrokke,
en ons drome is bloot skadu's teen die muur
Met orrelbeleiding kom die voorspel tot die skeiding,
maar dis alles reg
die liefde is 'n vuur
En van die vurige hofmaak
hoor ons later in die hofsaak,
want die liefde is 'n skadu teen die muur.
In swart of wit getooi,
in 'n stoet of 'n konvooi,
wonder elkeen hoe lank alles nog sal duur.
En leef holderstebolder,
want die kis wag op die solder,
en die lewe is 'n skadu teen die muur
Die donker kom van buite,
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur
En my voete en my hande
word ou bekende lande,
in skadukaarte teen die kamer muur
Die wêreld word 'n skadu teen die muur
'n flikkerende skadu teen die muur.








