Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, March 18, 2010

Kuier is vir die voëls

My man reken ons lewe is besig om by ons verby te gaan, omdat ek nie wil uitgaan nie. Die mense wat my ken sal vinnig vir jou laat weet ek is voor in die koor vir 'n goeie kuier, maar nie as ek lyk soos 'n klein seekoei'tjie nie (case and point die foto aan die bokant van die artikel.)

Vir die wat nog nooit swanger was nie, kom ek skets vir jou 'n tipiese aandjie uit (dit sluit in restaurant kuiers, braai, rugby kyk en enige ander aangeleentheid waar drank gewoontlik betrokke is.) Dit begin gewoontlik of laatmiddag of in die aand - teen hierdie tyd is die tipiese swanger vrou se rug seer van heeldag pens en boobs ronddra. (Gaan loop maar vir 'n dag lank met rugsak vol waterballonne, vasgemaak aan jou voorkant en laat weet my hoe jou rug voel aan die einde van die dag.) Dan word daar verwag dat jy met jou seer ongemaklike lyf op harde plastiek stoeltjies moet sit wat gekoop is meer vir hulle estetiese waarde as gemak.

Hoe langer die aand word, hoe dronker (en natuurlik slimmer) word al die mense om jou. Die vriendin van 'n vriendin wat jy nog net twee keer van tevore ontmoet het, deel met jou haar hele verhaal van hoe sy sukkel om swanger te word. Teen die einde van die aand sal jy presies weet wanneer sy ovuleer, hoeveel keer 'n week sy seks het, maar jy sukkel nog steeds om haar naam te onthou. En dit vertel sy alles vir jou terwyl sy haar brandewyn nurse en 2 pakkies Lexingtons rook. Een van jou man se vriende voel dit nodig om vir jou te vertel dat jy sy tipiese droomvrou is. Die vriendin wat 'n eed geneem het om nooit kinders te kry nie, vertel ten minste een keer elke 20 minute vir jou hoe braaf sy dink jy is en hoe sy dit NOOIT sou kon doen nie. Daar is so hier en daar 'n vriendin wat haar ewigdurende vriendskap en liefde tranerig aan jou verklaar en jy is dink iemand het aan jou boud gevat, maar jy kan dit nie met sekerheid sê nie, want jy het al 3 ure terug alle gevoel in daardie area verloor.

Teen die tyd wat jy eet (dis nou as jy dit so lank kan uithou) is die tjops verbrand, die botter op die knoffelbroodjie nog kliphard en koud en die avo in slaai al bruin.

Teen 21h30 is daar slegs drie gedagtes wat deur jou kop gaan; 1 - sal dit ongeskik wees as ek 22h00 al loop, 2. klink ek ook so as ek gedrink het en 3. praat my vriende altyd so baie nonsens of is dit net vanaand...

So as my man begin met sy "lewe wat besig is om by hom verby te gaan" het ek gewoontlik net een antwoord; geen mens is gebou om nugter te kuier nie, so laat hy maar verby gaan.

Tuesday, January 26, 2010

Sê Nee vir Tee

Ek was nog nooit groot op 'n koek en tee nie. Koek, vir my, is iets wat jy op jou verjaarsdag eet en as jou boyfriend jou gelos het en tee is iets wat jy 10h00 in die oggend by die werk drink tydens jou teebreuk (dit is immers waar die naam vandaan kom.)



'n Tee situasie wat my heeltemal ontsenu is begrafnisse. Asof jy nie hartseer genoeg is nie, word daar nog van jou verwag om tee te drink waarin jou lepel regop staan en toebroodjies te eet wat twee dae terug gemaak is, en van binne af buite toe reeds bietjie nat is. Ek wonder net altyd of die susters van die wyk besef hoe naby van hierdie mense op daardie oomblik aan die afgrond beweeg. Ek is seker 'n nat toebroodjie sal hulle finaal in 'n depressie instuur. As ek die dag die emmer skop, hoop ek my mense sal genoeg sin hê om kaasborde te reël (en goeie rooiwyn, natuurlik.)



Dit was ook vir my 'n redelike krisis toe ek my vriendin se ooievaarstee (klem op die woordjie tee) moes reël. My suster was onlangs by 'n ooievaarstee waar elkeen 'n persentjie gekry het (kersies, of wierook of iets dergliks) en 'n kaartjie met 'n strikkie aan. Die kaartjie het elke persoon gevra om die strikkie om haar handsak te bind en dan elke keer aan die Mamma te dink as hulle na die strikkie kyk. (Ek het nou nie bewyse nie, maar ek sal my laaste drankgeld daarop sit dat die vrou wat dit gereël het ook hoofmeisie van haar skool en primaria van haar koshuis was. Ou uitblinker!)


Ek laat my egter afsit nie en gaan koop toe 'n paar linte. Dit het baie mooi gelyk om die wynbottels! (My vriendinne waardeer alkohol in elk geval baie meer as kersies.) Dit was natuurlik ook 'n bonus om 'n verskoning te hê om 11hoo in die oggend al te mag drink en nie soos alkoholiste te lyk nie. Veral as daar oor ernstige dinge soos voortplanting gepraat word...

Friday, January 15, 2010

'n Plek waar tyd stilstaan

Daar is 'n plek waar die tyd stilstaan
waar mense nog biddae hou vir reën
en vir middagetes huis toe gaan
en as dit moet jy gou 'n koppie suiker by die buurman kan leen

Daar is 'n plek waar kinders nog kaalvoet skool toe loop
en jy die reën in die grond kan ruik
waar jy gebreide hangeroortreksels by kerkbazare kan koop
en mense jou nog in die oë kan kyk

Daar is 'n plek waar jy nog tuisgemaakte konfyt kan kry
en toiletpoppe oor die toiletpapier
waar jy verniet die hele week kan eet en bly
en jou ma nog steeds jou buie verduur

dit is daar waar ek altyd 18 sal wees
en my onskuld in jou hart sal bly
waar jy nog die drome in my oë kan lees
en miskien altyd bietjie lief sal wees vir my

daar is 'n plek waar tyd stilstaan
as ek mooi vra,
sal jy saam met my gaan?

Monday, November 30, 2009

Kroeë en bokkoppe

  1. Ons is op soek na 'n nuwe huis. Nie dat ons huis nou al heeltemal verkoop is nie, maar ons is ten minste optimisties. Ons was gister weer van skouhuis tot skouhuis en ek sal jou nie eers verveel met die belaglike pryse wat mense deesdae vir gehuggies vra nie. Ons het nog op niks afgekom wat regtig die ligte laat aangaan nie, maar ek het wel gesien wat ek nie wil hê nie;

'n Kroeg. Miskien is dit die feit dat ek in 'n plek soos Vryburg grootgeword het waar mans altyd om die kroeg gesit het en die vrouens in die sitkamer. Ek haat 'n kroeg in 'n huis. Ek kan om die dood nie dink hoekom 'n mens jou drank so wil uitstal vir die wêreld om te sien nie. Jy kan net sowel 'n groot kennisgewingbord daar laat opsit: 'HIER DRINK ONS.' As my man die dag besluit hy wil 'n kroeg hê, sal hy vir hom 'n buitekamer vir die doel moet aanbou. En die ruite laat 'tint' dat mens nie van buite af kan insien nie.

Bokkoppe teen die muur. Daar is min dinge wat my so ontsenu soos dooie diere teen 'n muur. As dit dan moet, hang maar 'n foto op waar jy met jou bebloede gesig en wapen kniel langs die lewelose dier, maar moet net nie die goed opstop en teen 'n muur hang nie. Ons is nie Amerikaners nie. Ons bly in Afrika en jag is nou maar net een van daai dinge wat ons in die winter doen wanneer Hartenbos te koud is. Moenie maak of jy niks gewoond is nie. Hierdie een sal ek nie eers toelaat in die buitekamer met sy getinte ruite nie.

'Jacuzzis' Moet asseblief nie dink jy bederf my met 'n borrelbad in 'n huis nie. Tensy dit in die hoofslaapkamer se 'en-suite' is en jy weet dis vir privaat gebruik. Ek praat van daai borrelbaddens wat langs die kroeg staan of in die tuin. Daai een wat jy weet al 'n paar onsedelike dade in sy leeftyd gesien het. Daai wat altyd so 'n olie lagie bo-op het na 'n partytjie. Ek probeer dink wanneer dit mode was; moes gewees het tydens een of ander dwelm fase soos die sewentigs en tagtigs.

Daar is nog 'n paar, maar ek sal eerder nou ophou, want netnou dink julle ek is vol nonsens (en ek is so nie.) Daar is egter hierdie laaste twee wat ek van my hart af sal moet kry; mense wat hulle voortuin plavei omdat hulle nie gras wil sny nie en huise wat toegerank is (ek kan net dink hoeveel spinnekop en slangfamilies lê en wag dat jy 'n venster moet oopmaak.)

Thursday, November 19, 2009

'n man soos jan


Dit het gekom! Die ontvangsdame het my laat weet daar is vir my 'n pakkie by ontvangs en ek het dadelik geweet wat dit is. Danksy Look 'n Listen skeur ek my weg van die marktender waarmee ek besig is en haas my by twee stelle trappe af. Ek voel soos 'n kind op Oukersaand. Ek plaas 'n man soos jan se cd, die ritme van jou naam, in my rekenaar en luister met my oorfone na woorde soos


Jou lyf is my oase, jou hart is die fontein

Jou oë so groen soos olywe, jou lippe proe soos wyn

Jy is die nomade in my lewe se woestyn

Ek en jy my baby is soos yster en satyn.


Ek het letterlik hoendervleis. Hoe ek verder moet werk sal die Hemel alleen weet. Daar is ook drie duets op die cd saam met Jak de Priester, Lize Beekman en Richard van der Westhuizen, wat boekdele spreek oor die talent wat hier raakgesien word. Ek kan dit aanbeveel as jy soos ek van mooi woorde hou (sy stem is ook glad nie sleg nie.)

Wednesday, November 18, 2009

Hartswoorde


Ek hou van van liedjies met mooi woorde. Ek hou van sangers wat hulle eie goed skryf. Stories, wat vir my klink asof dit al met my gebeur het, soos Lize Beekman of Jan Blohm. Ek het onlangs hierdie liedjie raakgelees (nog nie geluister nie, maar slegs raakgelees) van Hanno van Heerden of 'n man soos Jan soos sy verhoogspersoonlikheid bekend staan. Na 'n lang gesukkel het ek die cd in die hande gekry wat nou oppad is in die pos. As ek dit geluister het sal ek julle laat weet, maar vir eers, laat hierdie jou nie verlang nie?


Die ritme van jou naam

Dis nie dat ek jou mis nie

Dis net dat ek wil weet

Sukkel jy ook somtyds

om van alles te vergeet

En drink jy ook nog rooiwyn

as jy na 'n vreemdeling verlang

En is jy nou al sterker

of maak dit jou nog bang

Haat jy nog daai fênsie woorde

wat die jonges so gebruik

Is jou hart nog so groot soos

die weduwee se kruik?

En die waaroms word nie minder nie

want die hoekoms word net meer

En die heelmaak van jou wonde

gaan gepaard met soveel seer

Dis nie dat ek verlang nie

maar ek dink nou ek verstaan

Ek verlang nie maar ek mis net

ja ek mis maar net die ritme van jou naam.

Lê jy klokslag nog met nuwemaan

op die gras voor ons ou huis

En laaik jy dit nog steeds om al die sterre

met jou vinger uit te wys

En dra jy nog steeds die pyle

in die koker van jou hart

om jouself te kan regverdig

en al jou brue af te brand

Fluister jy nog steeds uit woede

instede van te skree

En skryf jy nog gedigte

van daai sinkdak en die reën.


In Limbo

Ek wil hardloop, maar my voete raak nie die grond nie. Dis hoe ek tans voel; alles hang so half in die lug. Ek is half swanger, ons huis is soortvan verkoop en ek het geen idee wat ek besig is om met my lewe te doen nie. Daar was 'n tyd in my lewe wat hierdie tipe van onsekerheid 'n goeie ding was; ek kon depressief wees, myself jammer kry en saam met rooiwyn baie gedigte skryf. Nou is daar nie tyd vir myself jammer kry nie. Te veel mense wat antwoorde en aandag soek. Nou dadelik.

Ek wens ek kon dit weer geniet om in die lug te hang. Maar my voete wil hardloop en ek raak nie die grond nie.