Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Showing posts with label swangerskap. Show all posts
Showing posts with label swangerskap. Show all posts

Thursday, September 25, 2008

10 Voordele van swangerskap

It sometimes happens, even in the best of families, that a baby is born. This is not necessarily cause for alarm. The important thing is to keep your wits about you and borrow some money. - Elinor Goulding Smith -

Aanvanklik wou ek 'n artikel doen oor die nadele van swangerskap, totdat ek besef het dat dit eerder die vorm van 'n manuskrip sal aanneem. Dus het ek myself maar beperk tot die voordele van swangerskap. Let wel; ek is tans in my laaste 6 weke van swangerskap, so om enige voordele op te spoor is nie 'n maklike taak nie. Hiermee my top (miskien enigste) tien.
  1. Jy is deel van die mooiste wonderwerk op aarde.
  2. Wortelkoek en roomys met sjokolade sous is aanvaarbare vorms van ontbyt, middag- en aandete.
  3. 100% clevage 100% van die tyd.
  4. Crocs is 'n modebykomstigheid. Jy kan basies met jou pantoffels gaan inkopies doen en mense sal nie snaaks na jou kyk nie.
  5. Goedkoop dronk word is op die horison. Na 9 maande van geen alkohol, keer jou liggaam weer terug na die toleransievlak wat jy laas in die eerste week van jou eerstejaar op universiteit gehad het - 2 Glase rooiwyn en jy giggel soos 'n 10 jarige in 'n seksvoorligtingklas.
  6. Jy weet jy is vrugbaar - al die vroue dele is in werkende toestand en jou breë heupe het uiteindelik 'n doel.
  7. Jy het 'n permanente verskoning vir 'n voet massering. Om 'n gewillige masseerder te kry is 'n bietjie moeiliker, maar Pappa se kredietkaart by 'n spa behoort dieselfde uitwerking te hê.
  8. Jy kan huil enige tyd enige plek en oor enige iets sonder om 'n (goeie) rede te hê. Om byvoorbeeld in trane uit te bars oor die naaste vending machine nie meer kit-kats het nie, is heeltemal aanvaarbaar.
  9. Babybrain is 'n fantastiese verskoning - jy hoef niks meer te onthou nie. Ek het al byvoorbeeld my eie naam vergeet, my huisadres en my geboortedatum. Ek het selfs eendag vergeet dat ek swanger is en het myself boeglam geskrik toe ek verby 'n spieël loop.
  10. Jou broeke het rekke aan die bokant. Daar is dus geen aanduiding of konstante herhindering dat die omtrek van jou heupe vergroot nie. (En siende dat jy dit nou moes koop vir swangerskap, kan jy dit net sowel na die tyd ook dra.)

Nou as dit motivering is nie, weet ek nie wat sal wees nie. Moet my net nie vra oor die nadele nie, ek belowe jou jy het nie daai tipe tyd nie.

Thursday, August 14, 2008

Stille rebellie

Ek het 'n drang na rebelsheid. Daai goth-chick met die oorring deur haar neus en 'n tattoo van Elvis op haar linker bo-arm hier binne my, is besig om amok te saai. Ek neem aan dit het iets te doen met die feit dat ek amper 7 maande swanger is, en die besef dat die lewe soos ek dit tot nou toe geken is, amptelik verby is.

Miskien as ek een van daardie vrouens was wat geblom het tydens hulle swangerskap, sou dit dalk makliker gewees het. Jy weet, die Angelina tipe wat met 'n tweeling kan rondloop en nog steeds lyk soos 'n Griekse godin. Nee, ek blom nie. Die enigste glans wat ek afgee is die olie wat my vel uitskei van al die hormone. My neus is permanent toe en ek begin 'n effense swelling om my enkels optel. En om iets te kry om aan te trek vir 'n troue is hoogs onmoontlik want die swanger klere reekse lyk almal of jy op 'n staptoer moet gaan. Asof hulle aanneem omdat jy nie drink nie, sal jy seker nie wil uitgaan nie.

Maar terug by my rebelsheid. Ek is ernstig in die bui vir een laaste wilde aand. Ek wil my stywe jeans en my lae hals toppie aantrek, êrens gaan waar ek op die tafel kan dans en 'n paar shooters kan afgooi. En dan in die vroeë oggend ure wil ek iets onvanpas doen soos skinny dip in Bloubergstrand se ysige see of 'n tattoo van 'n goudvis op my linkerboud kry.

Maar siende dat ek nie my ongebore kind wil skend vir die res van haar lewe nie (en dat ek na 21h00 in die aande omval van moegheid) sal ek maar moet gaan vir die tweede beste - 3 bakke roomys met sjokolade sous, ronddans (in my kamer) in my onderklere op maat van Enrique en 'n lang, warm skuimbad. Ons kan more weer oorslaan na groente en Barok, want kom ons wees eerlik, dit is my kind en dit sal baie meer as barok vat vir haar om heeltemal normaal te wees.

Saturday, March 29, 2008

Op die paal


Om swanger te wees is deesdae 'n modebykomstigheid. Swanger vroue is hoog nuus in Hollywood en tydskrifte betaal duisende rande vir pienkvoet se eerste fotosessie. Ons eie Patricia en Amor het self hulle rondings op al wat 'n voorblad van Suid Afrikaanse tydskrifte gehad. (Dank die vader swangerskap duur net 9 maande, want ek dink nie ek sou nog foto kon oorleef nie.) Kyk, ek verstaan dat 'n mense Brad en Angelina se nasate van nader wil bestudeer, want enige iets wat uit daai kombinasie kan voortspruit kan net lekker wees, maar vir die res, ek weet darem nie.


Sowat 'n jaar en 'n half gelede het ek en my beter helfte self besluit om ouerskap 'n kans te gee. (Dit was laat een Saterdagmiddag en ons het niks anders gehad om te doen nie.) Na my ma se vriendelike waarskuwing oor die vrugbaarheid van die vrouens in ons familie was ek redelik gerus dat dit nie 'n lang wag sou wees nie. Verbeel jou my verbasing toe daar na drie maande en vele stokkie-piepie sessies nog steeds net een strepie is. "Dit vat maar gewoonlik so 6 maande" was almal se wyse raad en ek besluit om tog maar die bietjie geduld in my stoorkamer te probeer gebruik. Nog drie maande en vele swangerskap toetse later en steeds net daai een strepie.


Tot my man se teleurstelling besluit die desperate Hanli om in te gryp met navorsing en soveel raad as wat my klein oortjies kan inneem. Ons probeer alles van op my kop staan (en die wat my ken sal weet 80% van my liggaam oppervlakte sit in my bolyf, so dit is nie 'n gemaklike posisie nie) tot my liggaamstemperatuur neem 06h00 in die oggend (met 'n koorspen wat geluide maak as hy gereed is om gelees te word) en shag op skedule (romanse se ma.)


Nog ses maande later en steeds ontwyk daardie tweede strepie op die swangerskap toets my en ek besluit om mediese hulp in te roep. Polarisistiese ovarium sindroom is die groot woorde wat die dokter by die fertiliteits kliniek in my ore kom lê. Ek ovuleer te ongereeld om presies vas te stel wanneer dit gebeur. Hy skryf vir my klein wit pilletjies voor wat my 'n voorsmakie gee op menoupause met die gloede wat ek kry en een drie maande later verskyn daar 'n tweede strepie, lig maar daar. Ek moet drie keer kyk om seker te maak dit is nie 'n hallusinasie nie. Ek ry dadelik hospitaal toe vir 'n bloedtoets, skuif nie by begin verby nie, samel nie R200 in nie. Dis Positief! sê suster aan die anderkant van die lyn en ek voel of ek haar oopmond kan soen.


Dit was 'n maand en 'n half terug en ek is vandag 8 weke swanger. Ek lyk glad nie soos Angelina (of Amor of Patricia) nie en het ook intussen uitgevind die 'positiewe gloei' waarvan ek so baie gehoor het is eintlik maar net olie wat jou vel afskei as gevolg van al die hormone. Great, my borste is 'n kortkoppie kleiner as Pamela Anderson s'n en ek blink! Ek lyk soos die vetgemaakte koei. Die reuk van rooivleis stuur rillings deur my lyf en ek gaan slaap elke aand 18h00. Maar in daai paar minute voor my lyf homself aan die nag oorgee, verbeel ek my ek kan 'n tweede hartklop voel...