
Saturday, March 29, 2008
Op die paal

Saturday, March 8, 2008
Lewenslesse
- Wallace Stegner -
Terwyl ek nou onlangs begin het om op die onderwerp van ouderdom te dwaal, het ek gaan sit en dink oor die dinge wat ek in my lewe geleer het. Die dinge wat dalk vir jou kan sin maak of dalk net vir jou help om sin uit my te maak...
Vuur brand.
Alles wat jy van Stellenbosch gehoor het, is waar.
Ouderdom en wysheid is nie noodwendig iets wat hand aan hand loop nie. Die wysste man wat ek geken het was op daardie stadium 23 en die grootste idioot 55. Luiste na mense wat met jou hart praat en woorde gebruik wat jy kan verstaan.
Geld kan nie liefde koop nie. Dit kan wel die idee van liefde vir 'n ruk lank amuseer.
Hê baie lief. Moenie jou hart toemaak op 'n jong ouderdom nie en wag lank voor jy trou. Jy leer so baie van sterkwees en wie jy werklik is tydens (mislukte) verhoudings dat jy 'n groot deel van jouself sal verloor indien jy te vroeg al jouself vir ewig vir iemand gee.
Hou altyd 'n plekkie in jou hart oor vir die liefde wat jy verloor het. Dit sal maak dat jy waardeer wat jy het en wie geword het.
As jy hartseer is huil. Hard en aanhoudend. En doen dit naby iemand wat lief is vir jou, sodat jy die nodige troos kan kry. Alleen huil is vir die voëls.
Moet nooit spyt wees oor jou verlede nie. Al die gebeure in jou lewe slyp jou tot jy die mens is wat jy moet wees. As enige iemand nie kan saamleef met dit wat in jou verlede gebeur het nie, hoort hulle in elk geval nie in jou lewe nie.
'n Luiperd verander nooit van kolle nie en 'n jakkals se streke bly dieselfde. Maak nie saak hoe graag jy dit wil glo nie of hoe hard jy probeer nie. As jy nie saam met die foute kan lewe nie, maak dat jy wegkom. En selfs al verander die jakkals van sy streke, sit jy nog steeds met 'n jakkals...
Moet nooit saam met iemand wees wat jou wil verander nie.
Moet nooit toelaat dat iemand se jaloesie jou gedrag bepaal nie.
Wees lief vir die ou mense in jou lewe, hulle lippe is gewoonlik baie nader aan God se oor.
Eet sous saam met alles.
Moet nooit jou steakmes aflek nie.
Bly weg van dwelms. Die lewe is te mooi en te kort om soveel van jou kosbare self te mors op iets so sinneloos.
Drink altyd goeie rooiwyn.
Geniet dit om jonk te wees.
Maar die grootste les wat ek ooit geleer het, is dat dit wat jou breek, jou nie kan heelmaak nie. As iets jou eers een keer gebreek het, sal dit jou aanhou breek totdat jy dit laat gaan.
Friday, February 22, 2008
In die skadu van 30
- Abigail Van Buren -
Ek het nou onlangs die laaste jaar van my twintigs betree en beweeg nou aan die skadukant van 30. Alhoewel daar baie goeie dinge met ouderdom kom, (soos genoeg geld om te vlieg in plaas van Interkaap te ry) het ek besef dat daar wel 'n paar dinge is wat ek in my jeug-boksie sal moet pak, en onder my bed inskuif. Die volgende is 'n paar van die dinge wat ek defnitief sal moet groet op my 30ste verjaarsdag.
As ek aan saamslaap op 'n enkelbed dink, kry my arm outomaties daai lam naalde en spelde gevoel. Ek is seker daar was iets vreeslik aanlokliks daaran om mekaar se liggaamsdele in spasmas in te lê, maar ek kan nie nou dink wat dit kon wees nie. As ek slaap soek ek my spasie, my linker en regter voet moet so vêr moontlik van mekaar versprei wees en daar moet genoeg kombers wees vir altwee kante. Ek is nou gelukkig mooi groot en hoef nie meer te deel nie.
Bier (en ander alkoholiese) specials. Op universiteit het ek selde 'n bierspecial misgeloop (ek het selde enige special misgeloop.) R10 vir 5 biere mag dalk nou nog vir my soos 'n winskoop lyk, maar het heeltemal sy aantrekkingskrag verloor. Ek voel in elk geval soos 'n warm lugballon na 2 biere en goedkoop wyn gee my kopseer. En ek praat nie van daai kopsere wat jy vinnig regsien met 2 panados en McDonald's masjien-coke nie. Ek onthou daar was altyd 'n special by die naaste bottelstoor op hulle My kinda reeks - van My Kinda Vodka dwarsdeur tot by My kinda Brandy. My kinda se ma is al wat ek kan sê.
Sekere strategiese kledingstukke sal ook moet gaan, byvoorbeeld my orgasm donor T-shirt en daai nommer 32 Soviet jeans wat ek nou al vir 5 jaar op ys hou. Ek het nou al vrede gemaak dat my heupe nooit weer na hulle oorspronklike vorm sal terugkeur nie en dat geen mense ouer as 28 enige kledingstukke met seksuele boodskappe op moet dra nie - dit maak net die kinders deurmekaar. Ski-pants sal ek ook nooit weer in die openbaar kan dra nie, maak nie saak hoeveel denim rompies ek bo-oor aantrek nie. Daar is in elk geval geen manier dat my ouderdom ooit weer enige denim kledingstukke bo die knie sal toelaat nie.
Die dae van McDonald's vir ontbyt het ook die spit gedelf. En ek praat nie van hulle eier McMuffins nie, ek praat van Quaterpounder Deluxe met ekstra mayo en 'n vanilla milkshake. (Net die gedagte daaraan laat my gryp na 'n Rennie.) Hoe ek in elk geval dit gebruik het om die brand in my maag te blus, gaan my verstand te bowe. Deesdae is al wat werk twee slukke Gaviscon en yoghurt en ek kan in elk geval niks eet voor 10h00 nie - geen interne stelsel werk al so vroeg in die oggend nie.
My aande van tot 3uur die oggend kuier en nog die volgende dag gaan werk is seker ook verby. Nie dat ek kla nie, was gelukkig nog altyd baie lief vir my slaap. Maar soos ek die vergaan van my jeug en my liggaam moet deurwerk, kan ek seker vashou aan een ding: my seksuele peak is bleikbaar eers op 40...
Thursday, February 7, 2008
Skipskop
Die hele ons-sit-in-die-donker, ry-jy-of-bly-jy gesprek het my nou al so in vervoering, ek het waarlik gisteraand gedroom ek is oppad Australië toe. Daar sit ek in die vliegtuig kompleet met my black labour T-shirt en my multikleurige gesigverf (vir ingeval jy slegs geel en groen in Aussie kry.) Die man langs my spreek my aan as mate en wys vir my 'n foto van sy skapie in sy beursie. Ek word toe in 'n greep van koue sweet wakker en loop al heeldag met hierdie hol kol rond.
My vriende sal vir jou vertel ek is nie veel van 'n syfer mens nie, so die hele binnewerkinge van die ekonomie los my gewoonlik redelik koud en effens verward. Ek neem egter aan dit vat nie 'n doktorsgraad in Bedryfsekonomie of Politieke Wetenskap om te sien dinge gaan nie heeltemal klopdisselboom nie. Skaars twee jaar terug het almal nuwe huise, groot motors en espresso masjiene en flat screen TV's gekoop. Nou maak die huispaaiemente ons dood, jy kan nie petrol vir jou motor of koffie vir die masjien bekostig nie, en jy het 'n maand laas Egoli gekyk, want die krag is elke aand tussen 17h00 en 22h00 af. (Aan die positiewe kant, egter, het die verhouding met jou beter helfte nuwe vlam gevat siende dit elke aand 'n kerslig en tjoppies braai aand is.) Die volgende president se gunsteling liedjie het bleikbaar iets te make met masjien gewere en my volk voel onwelkom en leierloos (De LaRey is ongelukkig oorlede en Helen Zille sit in die Kaap.)
Die vraag is wanneer is dit tyd om te gaan? Tot wanneer moet ek bly en probeer veg vir wat myne is en wanneer moet ek die streep in die sand trek en gat skoonmaak? Seker nie maklike vrae nie en siende dat ek ook nie vir ewig jonk genoeg gaan wees om vir 'n ander land soos 'n aanwins te lyk nie, moet ek probeer om 'n maatstaf vir myself te stel. Die volgende is die beste waarmee ek (vir nou) kon opkom;
Solank die woorde "Uit die blou van onse hemel" nog deel is van die volkslied en jy die HAT by Exclusive Books kan koop. Tot dan sal ek bly, maar nie 'n dag langer nie...
Nou moet ek egter eers Johannes Kerkorrel se Halala Afrika of Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufort Wes gaan luister vir perspektief, want ek het sopas vir die derde keer Skipskop in my kop begin...
Wednesday, February 6, 2008
Bloed en water
'n Joodse vriend van my het eenkeer aan my vertel dat jy slegs natuurlik 'n Jood kan wees as jou ma 'n Jood was. Want, het hy gesê, jy kan altyd met sekerheid sê wie jou ma is. Of dit waar is, weet ek nie, maar dit is seker die een ding wat jy met sekerheid kan weet. Asook wie jou broers en susters is aangesien hulle dan ook uit dieselfde ma gekom het. Daar is baie argumente oor die dikte van bloed teen water en meestal stem ek daarmee saam. Tuesday, February 5, 2008
Kom lê jou lyfie neer
vir 'n boodskap dat jy kom
'n teken dat jy wel daar is
maar steeds bly alles stom
kom lê jou lyfie neer
in die holte van my seer
kom lê jou lyfie neer
ek ken nog nie jou naam nie
jou huis is hol en leeg
maar jou lewe, my begeerte
aan iets wat binne beweeg
kom lê jou lyfie neer
in die holte van my seer
kom lê jou lyfie neer
ek voel alreeds hoe jou vingers
elke hoek van my gesig ontdek
my liefde vir jou vir altyd
in onvoorwaardelikheid toegetrek
kom lê jou lyfie neer
in die holte van my seer
kom lê jou lyfie neer
Thursday, January 10, 2008
Want sy wil dans
Ek het grootgeword in 'n boeregemeenskap in die NoordWes provinsie en daar was gereeld geskoffel. Ek kon ritme hou voor ek kon praat, en die eerste liedjie wat ek uit my kop uit geken het was Racey se Boy oh Boy:
And it was, boy oh boy
One night with you, and it´s
Boy oh boy
What I could do with you
It was too much
Well oh boy the first time we touched
(die wat glad nie weet waarvan ek praat nie, Nicholis Louw het 'n weergawe daarvan op sy vorige cd...)
Elke tweede Vrydag aand het die Hoërskool 'n sokkie gehad en daar was ten minste so een keer 'n maand een of ander dans op Vryburg self of 'n nabyliggende dorp soos Stella of Piet Plessis. Enige gebeurtenis het gewoonlik 'n dans regverdig - vanaf perde uithouritte tot die verandering van die seisoen. Die een met 'n lisensie het dan sy pa se motor geleen en ons het almal afgesak, gemaklike skoene en gereed vir aksie.
Vandat ek in die Kaap woon, word daar nie meer geskoffel nie, (oftewel nie in Kaapstad self nie, ek het wel al bietjie geskud by Flamingo's in Langebaan, maar dis 'n storie op sy eie.) Daar is wel plekke soos Danskraal, maar om een of ander rede as ek deur daai tonnel ry terug in die Kaap, verruil ek weer my brandewyn en coke vir rooiwyn en steek ek my plattelandse maniere weg vir die samelewing, noem dit maar my oorlewingspakkie.
So met die lus saam begin ek toe nou rondkyk vir danse, maar in Desember is die brandewyn- en vleisfeeste maar skaars. Dit was egter toe ek op 'n plakaat by die Spar se kennisgewing bord sien dat Gin en Tonic in die Jannie Louw saal speel vir nuwejaar en dat "hardehout en coke" halfprys gaan wees, dat ek maar tog besluit om dit te laat oorstaan. Miskien het ek intussen tog 'n bietjie verkaap...