Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Saturday, May 31, 2008

Wens

Ek kom uit 'n familie van sterk vrouens, en hulle is oral. Van my ouma, deur haar dogters tot by my en my suster en my niggies. Elkeen maar met 'n wil van haar eie. Die mans in my familie moes maar nog altyd effens ligloop. Dit was dus vir my geen verbasing toe die dokter na een van ons sonars vir my sê dat ek 'n dogtertjie verwag nie. My man, aan die anderkant, kom uit 'n familie van mans. Mans net waar jy kyk en ek dink hy het werklik geglo dat dit hoogs onmoontlik is vir hom om enigsins 'n dogtertjie te maak. Dit was dus ook nie vir my snaaks toe hy, effens bleek, vir my vra "wat maak 'n mens met dogtertjies?" nie. My antwoord was eenvoudig "jy't hulle net lief, die res doen hulle gewoonlik self."

Ons het besluit om haar Lisa te noem en sal haar ook so inlig wanneer sy ons die dag met haar teenwoordigheid kom vereer. Lisa is afkomstig van my ma en haar ouma se familie name Elizabeth en Eliza. In Hebreeus beteken Lisa "Consecrated to God" of direk vertaal God se spesiale een of God se heilige een. Dit is 'n wenner wens vir enige iemand en bo dit wens ek haar ook die volgende.

Wens - vir Lisa

Ek wens vir jou 'n lewe vol mense wat jou in jou oë kan kyk en tot binne jou hart sien.
Ek wens vir jou briewe wat met die hand geskryf word, vol woorde wat in jou binneste speel.
Ek wens dat jy altyd naby jou familie sal wees, want hulle weet waar jy vandaan kom en wie jy is.
Ek wens vir jou 'n land waar jy jou eie taal kan praat en jou voetspore kan neerlê in haar sand.
Ek wens vir jou 'n geloof wat jou altyd weer heel sal maak, maak nie saak hoeveel keer jy breek nie.
Ek wens vir jou musiek wat stories vertel met woorde wat met jou hart praat.
Ek wens vir jou boeke en boeke vol woorde.
Ek wens vir jou ten minste een groot liefde wat jou knieë sal lam maak en jou spoeg sal laat opdroog. Met baie vlinders en bietjie bloos.
Ek wens dat jy altyd sal weet hoe spesiaal jy is, nie omdat jy eerstespan hokkie speel of 'n A vir Wiskunde kry nie, maar omdat jy 'n hart het so groot soos die oseaan en die glimlag van 'n engel.
Ek wens vir jou 'n sagte hart in onskuld toegevou, selfs al maak die lewe jou soms seer.
Ek wens vir jou vriende wat jou geheime sal hou en jou trane sal afdroog.
Ek wens vir jou eindelose drome, gelukkige herhinderinge en baie hoop.
Maar bo dit als wens ek vir jou vir altyd net liefde.