Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, January 27, 2012

Pre Argus Malligheid


Dit is binnekort weer die Argus fietstoer in die Kaap en orals waar jy kyk is 'n mens op 'n fiets. Moet ook nie dink jy kan by 'n spinning klas by die gym inkom nie. Selfs die 90minute outjies is tjok en blok vol.

Nou die probleem is so; ek en my suster het dit goedgedink om te begin oefen vir 'n driekamp (ek weet ook nie wat ons besiel het nie.) Nou die een gedeelte van 'n driekamp is 'n entjie op die fiets. So staan ek toe vandag heel fluks 5 uur op om die 5h30 spinning klas by my naaste virgin active te vang. (Ek herhaal 5h00 - soos in die oggend!!)

Imagine net gou my verbasing to ek 05h20 daar aankom en die klas is reeds vol. Die mense sit ewe getrou op hulle fietse en warm solank op. Ek meen, watter nugterdenkende mens is daardie tyd van oggend wakker, wat nog te sê van op 'n fiets?!

Party mense het regtig nie 'n lewe nie...

PS. Die meisie op die foto hierbo is nie ek nie. En haar glimlag; defnitief fake.

Monday, January 16, 2012

'n Vinnige draai by ongevalle


Durbanville Medi Clinic se ongevalle personeel ken my al amper op die voornaam. As my kinders nie wakker word met 40 grade koors nie, dan haak Lisa se elmboog uit. Elke keer hoop ek dis nou my laaste.

Verlede Woensdag was Lisa se eerste skooldag by haar nuwe skooltjie. Sy was so opgewonde dat sy my nie eers gegroet het nie. Ek het nog met haar juffrou gestaan en gesels en toe ek wil omdraai om te soen en druk is sy weg. Heel bo op die klimraam, soos gewoontlik. Ek het net my kop geskud en toe maar gewaai.

11:00 kry ek egter 'n oproepie van die skool af; "Mev. jou kind het van klimraam afgeval op haar kop, ek dink jy moet haar dokter toe vat."  Ongevalle hier kom ons. Een breinscan later (en twee senuwee ineenstortings vir my) diagnoseer hulle erge harssingskudding en neem hulle haar op vir die aand vir observasie.

Vir die wat nog nie 'n aand saam met hulle kind in die hospitaal spandeer het nie, die sleeper couch/lazy boy aksie wat hulle het vir jou om op te slaap is nie die gemaklikste nie, maar dit kon erger gewees het.

3uur die oggend, egter, word ek wakker met 'n klein meisietjie langs my bed: "ek wil by mamma lê"

Ek kyk na haar bed waar die staal reelings opgeslaan is, sodat sy nie afval nie.

"Hoe het jy uit die bed gekom?" vra ek vir haar.

Sy kyk my aan of ek dom is: "Hier bo is 'n gaatjie, mamma."

Iets sê vir my hierdie gaan nie die laaste keer wees dat ek 'n aand saam met my loskop, rowwe dolla in  die hospitaal spandeer nie...