Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, November 24, 2011

Ami

Van al Lize Beekman (en ek sien myself as 'n redelike groot Lize Beekman aanhanger) se liedjies is Ami seker my gunsteling. Dit laat my altyd nadink oor waar ek nou is teenoor waar ek vandaan gekom het. Dit laat my dan ook altyd onwillekeurig terug verlang na die dae van onskuldige liefde.

Liedjie: Ami
Kunstenaar: Lize Beekman
Prentjies: We heart it


Ek het nog altyd die meeste van jou gehou
want jy't mooi gelyk op my bicycle
as ek langs jou huis toe loop
ek het my dood gedra aan jou tas op my rug
op 'n drafstap om by te hou,
maar dit was a-okay, want
ek was dol verlief op jou

Ami, deur die jare
het ek iewers heen verdwaal
daar's modder op my 4x4
en Jack Daniels praat my taal

Ami, deur die jare het ek vergeet om jou te soek
Nou's my bicycle op verroes
en ek hou nog steeds die meeste van jou

ek het nog altyd die meeste van jou gehou
Jy't met my gedans by die sokkiejol
al het ek lomp jou hand gehou


jy't altyd skaam gelag
as ek weer wou hoor
hoe jy droom en lugkastele bou


van die vreemdste goed het jy sin gemaak
ja, ek was dol verlief op jou.


droom jy nog in engels en skryf dit neer in Afrikaans
glo jy nog dat Elvis lewe en wegkruip op die maan?

Tuesday, November 8, 2011

Troufotos

Ons het hierdie jaar 2 familie troues gehad - eers my suster en nou onlangs my boetie (jammer, ek bedoel broer - foto hierbo.)

Het jy al opgelet hoe vreemd troufotos regtig is (miskien is dit net ek.) Dan moet jy hier teen 'n stoordeur leuen en dan moet jy wydsbeen oor 'n treinspoor loop met 'n tassie in jou hand (om waarheen te gaan, weet nugter.) En dit alles doen jy terwyl jy meer make-up aanhet as Nataniël op 'n goeie dag en met soveel knippies in jou kop rondloop, jy kan 'n klein gemeenskap 2 weke van elektrisiteit voorsien as 'n weerligstraal jou sou tref. En vir dit alles betaal jy duisende rande en vat dit ure om jou so onnatuurlik mooi te kry.

Hoekom is dit dan dat van al die fotos wat op my broer se troue geneem is, hierdie een vir my die heel mooiste is?


Want dit het beteken dat Mamma uiteindelik bietjie kon gaan skud het...soos in die ou dae!!!


Thursday, September 29, 2011

Oom Kosie se boek

Een van die gereelde besoekers op ons blog; 'n Duisend Woorde het onlangs vir my gekontak om te hoor of hy een van my quotes op die agterblad van 'n boek mag gebruik. Hierdie is die proef wat hy vir my gestuur het.

Oom Kosie, ek weet nie wie jy is nie, maar ek en jy maak 'n mean team.

Wednesday, September 28, 2011

Skadu's teen die muur

Vandag was 'n moeilike dag. My vriendin op universiteit het altyd gepraat van die olifante wat op haar bors trap. Die olifante was vandag vierkantig op my bors. Die Engelse het 'n wonderlike uitdrukking van wallow in your misery. Nou as ek voel soos ek vandag voel, hou ek daarvan om te wallow in my misery. Die beste manier om dit te doen is om jou te omring met woorde wat met jou hart praat. En as daar nou een man is wat weet van wallow, dan is dit onse Koos du Plessis. So hierdie is opgedra aan my misery.

Liedjie: Skadu's teen die muur
Lirieke: Koos du Plessis
Alle prentjies: We heart it

Die donker kom van buite
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur

En die tafel en die laaikas
en alles wat eers vas was,
versmelt tot blote skadus teen die muur
Ons drome van gister,
word somber en sinister
want kyk, alles het 'n vasgestelde uur
Ons beplan toringblokke,
maar die slopers is betrokke,
en ons drome is bloot skadu's teen die muur
Met orrelbeleiding kom die voorspel tot die skeiding,
maar dis alles reg
die liefde is 'n vuur
En van die vurige hofmaak
hoor ons later in die hofsaak,
want die liefde is 'n skadu teen die muur.
In swart of wit getooi,
in 'n stoet of 'n konvooi,
wonder elkeen hoe lank alles nog sal duur.

En leef holderstebolder,
want die kis wag op die solder,
en die lewe is 'n skadu teen die muur
Die donker kom van buite,
en syfer deur die ruite,
en ek gooi nog 'n paar kole op die vuur
En my voete en my hande
word ou bekende lande,
in skadukaarte teen die kamer muur

Die wêreld word 'n skadu teen die muur
'n flikkerende skadu teen die muur.

Wednesday, September 21, 2011

Very end of the month salty crack

Jy weet dit gaan swaar in die Langenhoven huishouding as die hoof wyndrinker van die huis voor die wynrak staan en na die prys kyk in plaas van die bottel etikette. Ek het gister op 'n bottel Namaqua Merlot afgekom vir R19 (en ja, dit sluit BTW in.) Dit het my teruggeneem na my universiteitsdae toe ons nog Tassenberg kon koop vir R15 'n bottel. Nes Tas, raak Namaqua ook eers lekker hier so teen die einde van die tweede glas, maar dit is defnitief nie ondrinkbaar nie en teen R19 oor en oor 'n winskopie. Bleikbaar kan jy hierdie rakker ook in 'n doos kry, maar drank deur 'n kraantjie maak my op my senuwees. Ten minste as die bottel leeg is, weet ek ek het reeds te veel wyn in en ek moet dadelik ophou praat. Met 'n doos, wel, kom ons sê maar net dit sal nie 'n goeie idee wees nie. Vra my, ek weet.

Friday, September 2, 2011

Ruimte koekies

Ek raak oud. Dis onlangs net weereens bevestig by 'n verjaarsdagpartytjie van 'n vriend.

By die partytjie aangekom ruik ek die sigaretrook 'n myl vêr en trek solank al my pakkie tissues en Iliadin nader; dit gaan 'n lang nag wees, dink ek. Moenie dink ek's niks gewoond nie, daar was winterdae in my en Lienka se woonstel in Stellenbosch wat die rook blou wolke teen die dak gemaak het, omdat ons nie die vensters wou oopmaak nie. Bygesê toe het ek nog tot 12 uur in die oggende gelê en slaap en bier specials was R10 vir 5 biere...baie dinge het verander.

Vir snacks word daar space cakes bedien. Ek was nog nooit een vir dagga nie. Daar was daai een dag in Amsterdam, maar soos julle weet; what happens in Amsterdam, stays in Amsterdam, so dit tel nie. So ek laat dit maar verbygaan. Ek is egter bly ek het besluit om my 2-jarige dogter by die huis te los, want hoe sou ek nou aan haar verduidelik het dat die chocolate cupcakes is net vir die grootmense...

Half 12 die aand is die pot nog nie gaar nie. Baie ander dinge is gaar, maar dit kan mens seker te wagte wees vir daardie tyd van die aand in ag genome onder andere die snacks. Die gasvrou vra hewig om verskoning, maar ons kuier mos lekker. Al waaraan ek egter kan dink is die feit dat ek oor twee ure weer moet opstaan vir Evan se eerste bottel.

Soos ek sê, ek raak oud.

Friday, August 19, 2011

'n Duisend Woorde

Ek en my vriendin Lienka het 'n nuwe projekkie aangepak. Dit is so nuut dat daar letterlik nog net een 'post' op is. Lienka hou van fotos neem en ek hou van skryf, sou nou kombineer ons die twee. Sy stuur vir my 'n foto en ek sit woorde by. (Ek besef dit is nie 'n nuwe konsep nie, maar dit is in Afrikaans, so ten minste is dit nuut. Ek dink) Sal dit waardeur indien julle die projekkie kan ondersteun. Die site adres is http://www.duisendwoorde.blogspot.com/. Laat weet my wat julle dink.

Tuesday, July 19, 2011

Suikerbos

Hierdie is een van my gunsteling afrikaanse liedjies deur die groep Wasserfal. Die ding draai nou al heeldag in my kop, so toe besluit ek om dit met jou te deel. Ek het dit ook so bietjie opgejazz vir die pret.

Lied: Suikerbos
Groep: Wasserfal
Alle prentjies: we heart it

Suikerbos
Al sou jy dalk eendag by 'n ander man slaap
En partykeer my ore van my kop af praat



Jy's 'n teelepel suiker, jy's 'n handvol kaneel
Jy't my hart gesteel

Trane loop oor jou wang soos wyn
Jou drome is groot maar jou wêreld is klein
Daar's 'n boek vol dinge wat ek wil sê
En suikerbos ek wil jou hê
Suikerbos ek wil jou hê
Ons kan droom van 'n huis wat vêr oor die blou berge lê

In my drome kan ons dans tot waar die tyd stilstaan
Ek en my suikerbossie saam
Weet jy dat ek somtyds nog vir jou skryf
Van die maan wat dans oor jou sagte lyf
En die son wat sing oor jou sagte mond
En my dag sal kom
Het ek jou vertel dat ek jou wil hê
En van al die dinge wat ek vir jou wou sê
Maar dis 'n ander man wat nou langs jou lê
En suikerbos ek wil jou hê

Tuesday, July 12, 2011

Glasstukke

We write to taste life twice, in the moment and in retrospect - Anais Nin.

Ek onthou in een van ons voorgeskrewe boeke in Matriek, Die rebellie van Lafras Verwey, het een van die karakters se water gebreek en sy het toe so uitgesree; waarop Lafras haar van agter die deur geantwoord het; "moet net nie in die glasstukke trap nie."

Soms as iets binne my breek wil ek vir die mense rondom my ook waarsku; pasop net vir die glasstukke.

Glasstukke
jy moes dit nooit sien nie
ek het probeer om jou weg te hou
van die vlymskerp stukies van my hart
en die donker waaraan ek so krampagtig vashou

jou prentjie van my moes dieselfde bly
van 'n krulkop meisie met 'n sorgelose lag
maar toe kom krap jy in my donker hoekies
en probeer dag maak van my nag

jy het so hard probeer om my heel te maak
stukkie vir stukkie weer op te bou
deur my trane en jou herhinderinge
hard gesoek vir die meisie wat jy onthou

nou sit jy daar: prentjiemooi
jou hande stukkend gesny
en al wat ek oor my lippe kan kry
is ek wens jy kon bly

Friday, June 24, 2011

Salon Catwalk

My man vergeet altyd hoe oud hy is as hy, sy swaer (my suster se man) en sy aangetroude nefie (my niggie se man) bymekaar kom. Jy sal sweer hulle is weer 16 jaar oud, het 'n bende en 'n geheime groet. Hulle het tot hulle eie liedjie (I kid you not) wat hulle luidkeels saamsing, veral na 11 in die aand...

So jy kan my nie kwalik neem dat toe ek onlangs 3 uur die oggend wakker word en hulle nog nie terug is van hulle aandjie uit nie, dat ek die ergste begin vermoed.

Die volgende oggend terwyl die 3 bere hulle roes afslaap sit ek, my niggie en my suster oor 'n koppie koffie en bespiegel oor waar hulle nou kon wees. Daar is net soveel plekke wat tot 3uur in die oggend nog oop is (dit is immers Durbanville, nie Stellenbosch nie.) Ek doen toe iets wat ek nooit doen nie (en waaroor ek glad nie trots is nie) - ek krap in my man se beurse vir 'n slippie. Eindelik kry ek 'n betaalstrokie uitgemaak aan Salon Catwalk vir R1800. Nou ek het al hiervan gehoor - Teazers sit altyd ander name bo-aan hulle slippies sodat die vrouens nie weet waar hulle mans was nie en Salon Catwalk klink vir my soos 'n tipiese Teazers nommertjie.

So werk ons drie toe nou vir ons behoorlik op. My niggie se man is skaars klaar gestort toe is hulle in die bakkie en ek hoor net so in die verbygaan my niggie sê: "Jy smile verniet ek weet waar was julle gisteraand." Terwyl ek wag vir my man om te ontwaak maak ek solank 'n lysie van alles wat ek kon doen met daai geld en met elke item, raak ek net nog 'n bietjie meer opgewerk.

Gelukkig voor my man wakker word lui my foon - dis my niggie en sy wil net sê dat haar man hoog en laag sweer hulle was nie by Teazers nie, net by Danskraal. Ek gaan kyk toe weer op die slippie en besef die datum is November verlede jaar en dit was vir die GHD wat hy vir my vir Kersfees gekoop het. Ek het lanklaas so stupid gevoel.

Hy was egter nog steeds in die moeilikheid, want Danskraal, ek meen, regtig!

Thursday, March 24, 2011

Die storie van die waentjie

Ons het meer familie troues hierdie jaar as die Brady bunch. Siende ons nou 'n uitgebreide familie het en vlieg is nie meer 'n opsie nie (nie net finansieël nie, maar ons is bang hulle gooi ons uit net as ons oor Kimberley vlieg, en julle verstaan nie hoe graag ek nog altyd in Kimberley wou bly nie...) So ons besluit toe om vir ons 'n Venter karretjie te koop, soos die meeste voorbeeldige Afrikaners met 1.2 kinders. Dan hoef ons ten minste nie te kies wat gaan agterbly tussen Evan se stootkarretjie en Renè se golfstokke nie. (Dis nooit Renè se golfstokke nie, so raai op wie se heup sit Evan heel vakansie?)

Na die eerste dag besef ons dat ons defnitief nie nou 'n nuwe een in ons begroting kan inwerk nie (ek sukkel om Evan se 2de pak doeke vir die maand in die begroting in te werk.) Renè vaar toe Gumtree binne en kry 'n tweedehandse een (met bietjie werk) in die Strand. Bietjie werk raak toe ernstige moeite wat draai by 'n uitklarings sertifikaat by die polisiestasie. Die vreeslike 'hulpvaardige en vriendelike' polisieman aan diens merk toe op dat dat die 'vin' plaatjie vermis is en toe gebeur die volgende:

Polisieman (PM): "Meneer, daar's met hierdie waentjie gepeuter, ons sal eers beslag lê op die waentjie en 'n ondersoek instel. Trek dit asseblief vir ons onder die boom."

Rene: "Hoe lank sal hierdie ondersoek neem?"

PM: "Kannie sê nie, enige tyd van 3 na 6 maande."

Renê: "Reg."

Dis net daar wat my man sien hoe sy golfstokke by die huis bly, want sy vrou het al die vorige keer gewaarsku sy gaan nie weer op vakansie sonder die pram nie. Hy haak die Venter, maar in plaas van die ding onder die boom parkeer ry hy by die hek uit tot by die huis.

Die volgende oggend is daar 'n oproep; "Meneer Langenhoven, ons staan voor jou huis, om jou en jou waentjie in hegtenis te neem." (Twee polisie manne, een vir my man en een vir die waentjie. Bleikbaar word daar geen ernstige misdade 8uur in die oggend gepleeg nie, so hulle kon 2 spaar.) Gelukkig het hulle die verkeerde adres gehad en my man het belowe om die waentjie self in te vat.

Lang storie kort, Renè het sy beste prokureurtaal uitgepak en hulle confuse met baie papiere (of bewyse - sy woord.) Die waentjie staan in ons agterplaas, gereed vir enige familietroue en Renè het steeds nie 'n kriminele rekord nie, wel nie waarvan ek weet nie.

Monday, February 28, 2011

Jou kastaiings krap

Gee vir my 'n man wat sê wat waar is, as die duiwel daar is. Wat doen wat reg is, as die regter weg is. Wat trou by sy gewete bly, as hy straf in plaas van beloning kry.   - C J Langenhoven      
So tussen deur al die amazings en awesomes, vergeet mens soms watter mooi taal ons het. Ek het verlede week vir die eerste keer in Nelspruit 'n Kastaiing gesien, ook bekend as 'n Laeveld Okkerneut (nog nooit van gehoor nie.)  Die enigste wat ek al ooit gehoor het van 'n kastaiing is in die spreukwoord jou kastaiings uit die vuur krap. Een van my ouer kollegas het toe ook verduidelik waar hierdie spreekwoord vandaan kom. Bleikbaar kan jy die vrug aan die binnekant eet, maar dit moet eers gaar gemaak word. Om dit gaar te maak sit jy die hele vrug in die vuur, wat jy dan later uitkrap om te eet - en siedaar; 'n spreekwoord.

PS. ek weet die CJ Langenhoven gesegde het nie veel met kastaiings te doen nie, maar dis mooi en ek wou dit met jou deel en dis my blog so ek mag.






Thursday, February 17, 2011

Veels geluk liewe maatjie

Ek verjaar vandag. Voordat jy egter die kersies in die koek sit; ek probeer nog uitwerk hoe oud ek is. Ek is in 1979 gebore wat 32 jaar terug is. My heupe kraak egter soos my Ouma s'n en sy is in haar 80's. My kakebeen is defnitief in die vroeë 50's. Gelukkig is my boobies 22 (verlede jaar die tyd was hulle 45.) As ek dus die gemiddeld uitwerk dink ek ek is êrens in my laat 40's, so ek verwag om more te begin met Menopause.

Monday, February 14, 2011

Gelukkige valentyndsdag

Ek is 'n sucker vir Valenteinsdag. Ek weet dis 'n geldmaak foefie, maar dit bly lekker. Ek het vandag gesien hoe manne met pakke (seker die eerste keer hierdie jaar) in Tygervallei rondloop met bosse Woolworths blomme.

Ek en my beter helfte het besluit om nie iets te doen nie. Hy het egter vir my verras met 'n geskenkbewys vir 'n vollyf massering (erg brownie punte!!) En ek maak vanaand 'n aansit ete onder die sterre (dis nou as die wind dit toelaat. Nie so romanties as jy in ag neem die kinders is by nie, maar kinders gaan darem gewoontlik op 'n stadium slaap.....

Geniet dit en ek hoop jy word verskriklik bederf!

Tuesday, February 8, 2011

Musiek vir die agtergrond

Ek het besluit dat dit tyd geword het om my lyf weer op datum te kry. Siende Evan nou al 8 maande oud is, werk die verskoning 'ek was onlangs swanger' nie meer nie. Dit het my 'n halfuur gevat om my tekkies op te spoor. Hulle was effens verbaas om my te sien, maar tog gewillig. Ek het my iPod op my hardloop kompilasie (running mix) gestel en weggetrek (wegtrek in my lyf bestaan uit 'n draffie wat meer lyk soos 'n stappie.)

Die eerste 1.5km van my roete is opdraand. Die Dixie Chicks spring weg met 'Ready to run' op my iPod en ek voel sommer geïnspireer. Die inspirasie hou 'n volle 500m toe my longe begin brand. Nie eers Ryno Velvet se 'Ai my Lam' kry die woema terug nie. Nog 500m en ek begin spikkels sien - ek vermoed my brein kry nie genoeg suurstof nie. Kid Rock skop in met 'Sweet home Alabama' en ek stop eers om 'n bietjie te dans. Die motors verminder spoed as hulle by my verby kom - soos by 'n ongeluk. Bleikbaar kan ek ook nie meer skud soos in die ou dae nie en ek hardloop maar eerder verder.

1km verder en alles brand; my longe, my kuite, my bene, my linker heup en my kakebeen. Prince probeer hard om my aan die gang te kry met 'When doves cry,' maar selfs my Polar wys dat my hartklop 0 is (ek het die goedkoop model - as jou hartklop oor 200 gaan, kan hy hom nie meer optel nie en dan wys hy 0.) Dit het ek egter eers na die tyd uitgevind, so daar was 'n oomblik wat ek gedink het, ek is oppad uit. Ek het gesien hoe word my kinders sonder 'n ma groot. Was dit nie vir ACDC se 'Paradise City' nie, sou ek dit nooit tot by die huis gemaak het nie.

Toe ek by my voorhekkie instap breek ek sommer self uit in Rina Hugo se 'Ek lewe.'

Twee ure later en alles pyn steeds. Dit is soos hulle sê; it's painful to be beautiful.' Ten minste het my pyn goeie agtergrond musiek.

Thursday, January 20, 2011

Nuwe jaar, nuwe dinge

Ek is veronderstel om julle van my nuwe boobies te vertel, maar ek was nog nie lus nie. Dis 'n snaakse storie en ek het nog nie lus gevoel vir snaaks wees nie. Wat ek wel kan sê is hulle is die pratigste ou twee goedjies wat ek nog ooit aan my lyf gehad het. Selfs my man dink hy date 'n hoërskool meisie. Maar meer hieroor later, ek belowe.

Eers wil ek sê voorspoedige nuwe jaar. Ek het gisteraand eers my Kersboom afgeslaan (ek weet dis bad luck, maar alhoewel die res van die land verspoel het, was dit hier te warm om te beweeg. En dit is presies wat ek gedoen het tot nou: niks.) My geld is al die 1ste Januarie op en ons eet nou al vir twee weke hoender. Ek kan nie meer 'n voël in die oë kyk nie.

My jaar het afgeskop met die nuus dat ons nie verhogings kry nie. Van toe af was ek nog nie weer in 'n goeie bui nie. Ek het my persoonlike begroting tot op die been gesny en besluit om my Virgin active te kanselleer; minder te eet; meer te hardloop en goedkoop wyn te drink. Ek het darem al die Virgin gekanselleer, sal nog by die res uitkom een of ander tyd, ek is seker.

Hoop julle nuwejaarsvoornemens is meer opwindend as myne en bevat dinge soos oorsese reise, tattoos en wilde flings met pragtige uitlanders. Moet my asseblief net nie daarvan vertel nie.