Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Tuesday, January 26, 2010

Sê Nee vir Tee

Ek was nog nooit groot op 'n koek en tee nie. Koek, vir my, is iets wat jy op jou verjaarsdag eet en as jou boyfriend jou gelos het en tee is iets wat jy 10h00 in die oggend by die werk drink tydens jou teebreuk (dit is immers waar die naam vandaan kom.)



'n Tee situasie wat my heeltemal ontsenu is begrafnisse. Asof jy nie hartseer genoeg is nie, word daar nog van jou verwag om tee te drink waarin jou lepel regop staan en toebroodjies te eet wat twee dae terug gemaak is, en van binne af buite toe reeds bietjie nat is. Ek wonder net altyd of die susters van die wyk besef hoe naby van hierdie mense op daardie oomblik aan die afgrond beweeg. Ek is seker 'n nat toebroodjie sal hulle finaal in 'n depressie instuur. As ek die dag die emmer skop, hoop ek my mense sal genoeg sin hê om kaasborde te reël (en goeie rooiwyn, natuurlik.)



Dit was ook vir my 'n redelike krisis toe ek my vriendin se ooievaarstee (klem op die woordjie tee) moes reël. My suster was onlangs by 'n ooievaarstee waar elkeen 'n persentjie gekry het (kersies, of wierook of iets dergliks) en 'n kaartjie met 'n strikkie aan. Die kaartjie het elke persoon gevra om die strikkie om haar handsak te bind en dan elke keer aan die Mamma te dink as hulle na die strikkie kyk. (Ek het nou nie bewyse nie, maar ek sal my laaste drankgeld daarop sit dat die vrou wat dit gereël het ook hoofmeisie van haar skool en primaria van haar koshuis was. Ou uitblinker!)


Ek laat my egter afsit nie en gaan koop toe 'n paar linte. Dit het baie mooi gelyk om die wynbottels! (My vriendinne waardeer alkohol in elk geval baie meer as kersies.) Dit was natuurlik ook 'n bonus om 'n verskoning te hê om 11hoo in die oggend al te mag drink en nie soos alkoholiste te lyk nie. Veral as daar oor ernstige dinge soos voortplanting gepraat word...

Friday, January 15, 2010

'n Plek waar tyd stilstaan

Daar is 'n plek waar die tyd stilstaan
waar mense nog biddae hou vir reën
en vir middagetes huis toe gaan
en as dit moet jy gou 'n koppie suiker by die buurman kan leen

Daar is 'n plek waar kinders nog kaalvoet skool toe loop
en jy die reën in die grond kan ruik
waar jy gebreide hangeroortreksels by kerkbazare kan koop
en mense jou nog in die oë kan kyk

Daar is 'n plek waar jy nog tuisgemaakte konfyt kan kry
en toiletpoppe oor die toiletpapier
waar jy verniet die hele week kan eet en bly
en jou ma nog steeds jou buie verduur

dit is daar waar ek altyd 18 sal wees
en my onskuld in jou hart sal bly
waar jy nog die drome in my oë kan lees
en miskien altyd bietjie lief sal wees vir my

daar is 'n plek waar tyd stilstaan
as ek mooi vra,
sal jy saam met my gaan?