Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, October 17, 2012

50 Skakerings van grys

Ek moet bieg; ek het geswig onder groepsdruk. Dit was nie eers goeie groepsdruk soos bv. boekklub nie - dit was net algemene gesprekke op kantoor waaraan ek nie kon deelneem nie; wat my tot lees gedryf het. (Wat my herhinner ons beter weer boekklub begin, ek het indringend 'n verskoning nodig om saam met vriendinne wyn te drink en te skinder. O ja, en boek te lees, natuurlik.) Ek beveel dit egter ten sterkste aan, kry 'n verskoning om die boek te lees en as jy nie een het nie, dan sê jy ek het gesê jy moet.

Ek is geen vreemdeling vir erotika nie, ek het immers op die jeugdige ouderdom van 14 my ma se geheime stash Mills en Boons ontdek en verslint. Die boek gaan nie jou lewe verander nie, maar dit gaan 'n gesprek aankoop met behoeftes in jou lyf wat jy nie eers geweet het daar is nie (nie almal van hulle gaan goeie gesprekke wees nie.) Niks in die boek is realisties nie (maar ek reken as jy iets realisties wou lees, sou jy die Financial Mail gekoop het.) Daar is baie herhaling en heeltemal te veel seks. Dit is nie fantasties geskryf nie, en die vroulike karakter doen baie van die dade onder dwang (nie die tipe heldin wat jy vir jou dogter sou uitkies nie. Gelukkig het ek nie die boeke vir my dogter gekoop nie, en heldinne is overrated.) Wat ek egter net nie kan verstaan nie is hoe die arme vrou aan die einde van die eerste boek nog enigsins regoop kan staan wat nog te sê van loop.

Die boeke is nogal intimiderend vir 'n Afrikaanse, kleindorpie meisie soos ek (ok nie regtig nie, soos ek gesê het - ou hand - Mills en Boons en so) maar as jy verby die grootskaalse geshaggery kan kom, is daar 'n mooi liefdesverhaal tussen 'n onskuldige meisie en 'n man met 'n donker kant wat bleikbaar hemelse dinge met sy hande kan doen. Weer en weer en weer.... En wie hou nie van 'n man met 'n donker kant nie? Laat toe dat die boeke jou verlei (of eerder seduce) niemand behalwe jy hoef daarvan te weet nie. Die lewe is kort en ons het almal 'n bietjie seduction nodig - al is dit net in ons geestesoog.

Dit het my 2 weke geneem om al drie boeke te lees. Ja, daar was 'n geween oor aandag, kos is verbrand, die slaap was min en teen die einde was ek angstig om klaar te kry, want die boeke het ernstig begin inmeng in my sosiale lewe. Toe ek egter vanoggend die drie boeke oorhandig aan die volgende gelukkige leser, was daar so klein tikkie van jaloesie in my dat ek dit nooit weer vir die eerste keer sal kan lees nie.

Gisteraand lê ek in die bed besig met die laaste paar hoofstukkies toe Pappa sy jag tydskriffie neersit en met afwagtende honger oë na my begin staar. Ek maak 'n vinnige skatting en sien dat die boek my ten minste nog so 45 minute gaan besig hou. "Slaap maar solank," sê ek toe vir hom "ek sal jou wakker maak as ek klaar is..."



Thursday, March 1, 2012

As die een gebou soos die volgende begin lyk

Ja, dis ek en ja, ek verkluim
Ek was onlangs in Berlyn vir 'n week vir werk. Dit was 35 grade toe ek opklim in Kaapstad en -15 toe ek die volgende dag afklim in Duitsland. Dit is minus 15, indien daar enige onduidelikheid is. En ons in die Kaap kla oor die wind...

Dit was my vierde keer in Europa en as jy my vra is dit drie te veel. As ek nog 'n gebou; 'n brug; een of ander standbeeld of 'n Rennaisance skildery moet gaan kyk, kom ek iets oor. Om nie van die Europese snobbisme te praat nie. Hulle is bitter vinnig om kommentaar te lewer oor 'n land (dis nou die sonnige Suid Afrika) waarin hulle nog nooit was nie; mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie en politiek waarvan hulle absoluut niks verstaan nie. Dit alles terwyl hulle in hulle piepklein dupleks huisies sit (wat 'n fortuin kos) sonder grasperke of braai areas. "But at least they are safe." Have you ever!

Hulle lyk regtig almal dieselfde.

Behalwe ou geboue en aaklige winters is hulle wyn duur, restaurante onbekostigbaar en hulle bier bitter. Baie bitter. Die enigste plekke wat ek wel sal wil besoek is die lande wat op die rand van bankrotskap staan soos Griekeland en Spanje. Ten minste weet hulle hoe om vakansie te hou...

Nee wat, gee my eerder somers in die Tuinroete en winters in die Bosveld, goedkoop wyn en braaibroodjies. Dan vat ek maar die man wat deur my venster klim, ek het mos twee groot honde, ADT en 'n panic button.




Tuesday, February 21, 2012

Ek het jou lief


Siende dit die maand van liefde is, het ek gedink hierdie is erg gepas. Ek het onlangs Lize Beekman se nuwe cd waarvan ek het jou lief die titelsnit is, in die pos gekry vir my verjaarsdag. Dit het my 2 dinge laat besef: 1. presentjies (of briefies) in die pos is die heel lekkerste en 2. liefde is nie altyd maklik nie, maar dis altyd lekker.

Mag elkeen briefies in die pos kry en meer as genoeg liefde.

Lied: Lize Beekman
Titel: Ek het jou lief
Prentjies: (behalwe die een hierbo wat ek self geneem het van 'n deur in Belgie.) We heart it


Ek dink dis lankal so
ek dink dit oor en oor
en sou jy naby kyk
sou jy dit lees in my oë


Sonder uitroep of punt
en ek gaan wonder wat jy dink,
maar my hart het reeds gekies
eenvoudig soos dit is - ek het jou lief!


So, ek kies my woorde mooi,
want so genadeloos kan
 die waarheid wreed verdraai
as jy net die helfte hoor.



Ek sou vir jare kon praat
as ek die hele woordeboek gaan haal,
maar liefs gaan ek kies
om te se net soos dit is:
ek het jou lief.


Ek kon dit doodgewoon skryf
vir jou die bladsy wys
dan staan dit swart op wit
my hart in woorde en ink


dit sal vir jare daar staan
en jy kan dit weer en weer gaan haal
so, liefs gaan ek kies
om te skryf net wat dit is:
ek het jou lief




Friday, January 27, 2012

Pre Argus Malligheid


Dit is binnekort weer die Argus fietstoer in die Kaap en orals waar jy kyk is 'n mens op 'n fiets. Moet ook nie dink jy kan by 'n spinning klas by die gym inkom nie. Selfs die 90minute outjies is tjok en blok vol.

Nou die probleem is so; ek en my suster het dit goedgedink om te begin oefen vir 'n driekamp (ek weet ook nie wat ons besiel het nie.) Nou die een gedeelte van 'n driekamp is 'n entjie op die fiets. So staan ek toe vandag heel fluks 5 uur op om die 5h30 spinning klas by my naaste virgin active te vang. (Ek herhaal 5h00 - soos in die oggend!!)

Imagine net gou my verbasing to ek 05h20 daar aankom en die klas is reeds vol. Die mense sit ewe getrou op hulle fietse en warm solank op. Ek meen, watter nugterdenkende mens is daardie tyd van oggend wakker, wat nog te sê van op 'n fiets?!

Party mense het regtig nie 'n lewe nie...

PS. Die meisie op die foto hierbo is nie ek nie. En haar glimlag; defnitief fake.

Monday, January 16, 2012

'n Vinnige draai by ongevalle


Durbanville Medi Clinic se ongevalle personeel ken my al amper op die voornaam. As my kinders nie wakker word met 40 grade koors nie, dan haak Lisa se elmboog uit. Elke keer hoop ek dis nou my laaste.

Verlede Woensdag was Lisa se eerste skooldag by haar nuwe skooltjie. Sy was so opgewonde dat sy my nie eers gegroet het nie. Ek het nog met haar juffrou gestaan en gesels en toe ek wil omdraai om te soen en druk is sy weg. Heel bo op die klimraam, soos gewoontlik. Ek het net my kop geskud en toe maar gewaai.

11:00 kry ek egter 'n oproepie van die skool af; "Mev. jou kind het van klimraam afgeval op haar kop, ek dink jy moet haar dokter toe vat."  Ongevalle hier kom ons. Een breinscan later (en twee senuwee ineenstortings vir my) diagnoseer hulle erge harssingskudding en neem hulle haar op vir die aand vir observasie.

Vir die wat nog nie 'n aand saam met hulle kind in die hospitaal spandeer het nie, die sleeper couch/lazy boy aksie wat hulle het vir jou om op te slaap is nie die gemaklikste nie, maar dit kon erger gewees het.

3uur die oggend, egter, word ek wakker met 'n klein meisietjie langs my bed: "ek wil by mamma lê"

Ek kyk na haar bed waar die staal reelings opgeslaan is, sodat sy nie afval nie.

"Hoe het jy uit die bed gekom?" vra ek vir haar.

Sy kyk my aan of ek dom is: "Hier bo is 'n gaatjie, mamma."

Iets sê vir my hierdie gaan nie die laaste keer wees dat ek 'n aand saam met my loskop, rowwe dolla in  die hospitaal spandeer nie...