Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, June 24, 2011

Salon Catwalk

My man vergeet altyd hoe oud hy is as hy, sy swaer (my suster se man) en sy aangetroude nefie (my niggie se man) bymekaar kom. Jy sal sweer hulle is weer 16 jaar oud, het 'n bende en 'n geheime groet. Hulle het tot hulle eie liedjie (I kid you not) wat hulle luidkeels saamsing, veral na 11 in die aand...

So jy kan my nie kwalik neem dat toe ek onlangs 3 uur die oggend wakker word en hulle nog nie terug is van hulle aandjie uit nie, dat ek die ergste begin vermoed.

Die volgende oggend terwyl die 3 bere hulle roes afslaap sit ek, my niggie en my suster oor 'n koppie koffie en bespiegel oor waar hulle nou kon wees. Daar is net soveel plekke wat tot 3uur in die oggend nog oop is (dit is immers Durbanville, nie Stellenbosch nie.) Ek doen toe iets wat ek nooit doen nie (en waaroor ek glad nie trots is nie) - ek krap in my man se beurse vir 'n slippie. Eindelik kry ek 'n betaalstrokie uitgemaak aan Salon Catwalk vir R1800. Nou ek het al hiervan gehoor - Teazers sit altyd ander name bo-aan hulle slippies sodat die vrouens nie weet waar hulle mans was nie en Salon Catwalk klink vir my soos 'n tipiese Teazers nommertjie.

So werk ons drie toe nou vir ons behoorlik op. My niggie se man is skaars klaar gestort toe is hulle in die bakkie en ek hoor net so in die verbygaan my niggie sê: "Jy smile verniet ek weet waar was julle gisteraand." Terwyl ek wag vir my man om te ontwaak maak ek solank 'n lysie van alles wat ek kon doen met daai geld en met elke item, raak ek net nog 'n bietjie meer opgewerk.

Gelukkig voor my man wakker word lui my foon - dis my niggie en sy wil net sê dat haar man hoog en laag sweer hulle was nie by Teazers nie, net by Danskraal. Ek gaan kyk toe weer op die slippie en besef die datum is November verlede jaar en dit was vir die GHD wat hy vir my vir Kersfees gekoop het. Ek het lanklaas so stupid gevoel.

Hy was egter nog steeds in die moeilikheid, want Danskraal, ek meen, regtig!