Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Monday, January 26, 2009

Emmer lysie

I like the dreams of the future better than the history of the past. - Thomas Jefferson -

Januarie is al amper verby en steeds staan my nuwejaarsvoornemens lysie op ‘gewig verloor.’ Dit opsig self is kommerwekkend aangesien ‘gewig verloor’ al die laaste 5 jaar bo-aan my lysie is, maar nog nooit tot vervulling gekom het nie. Inteendeel, ek word jaarliks eerder groter as kleiner. (Kind kry en my mayonnaise fetish help seker ook nie regtig nie.)

2009 is egter ‘n groot jaar – ek word in Februarie 30 wat terselfdetyd ‘n opwindende en ‘n vreesaanjaende vooruitsig is. Ek sien uit na die volwasse, meer verantwoordelike ek wat hopelik haar verskyning gaan maak (of nie), maar dit is ook met ‘n tikkie heimwee wat ek my roekelose jeug agter my laat.

Ek onthou nog hoe ek op die skrale ouderdom van 20 eenkeer vir ‘n restaurantbestuurder by wie ek ‘n kelner was gesê het; “oor 5 jaar is ek gepubliseer en dan flip jy nog steeds burgers vir ‘n lewe.” Ek is nog nie gepubliseer nie (wel nie regtig nie) en ek weet nie of die ou nog burgers flip nie, maar dit is darem fassinerend hoe vol bravade ‘n mens kan wees as jou lewe nog bars met potensiaal. Dit is meestal ook wat ek raaksien as ek na my 3 maande oue dogtertjie kyk – vragte en vragte potensiaal.

Ek het nou wel 3 dekades (minus 3 maande) minder potensiaal aan my kant, maar het besluit dat hierdie jaar sal ek in plaas van nuwejaarsvoornemens eerder lewens voornemens maak. 10 goed wat ek wil doen voor ek 40 is – ‘n hele 10 jaar se potensiaal opgesluit in 10 voornemens. Amper soos Morgan Freeman en Jack Nicholson se emmerlysie in die fliek “the bucket list” met hopelik die een groot verskil dat ek nie die emmer sal skop voor 40 nie. Maar mens weet nooit nie…

  1. Publiseer iets. Soos met die meeste talente kan mens slegs beter daarin word as jy oefen. My doel is om te oefen totdat ek goed genoeg is om deel te neem en dan sommer te wen ook.
  2. Word bruin langs die Spaanse of Griekse kus. Ek wil ‘n somervakansie in Europa gaan hou en dan met ‘n egte Spaanse tan terug kom.
  3. Tango en Salsa in Argentinie. Vir hierdie een sal ek egter eers my man moet ompraat om te gaan vir ‘n paar klasse – dit sal letterlik moeiliker wees as om daar te kom, maar wie's bang?
  4. Spandeer ten minste een keer ‘n jaar ‘n naweek saam met vriendinne in ‘n spa. En ek praat nie van Poppie se beauty salon in haar garage nie, ek praat van die plekke waar die mense met geld uithang. Ons sal egter net moet wag vir die special.
  5. Hardloop ‘n halfmarathon.
  6. Wees ‘n goeie (en beter) ma, vrou, vriendin, dogter en suster. My wiskunde onderwyser het altyd gesê ‘wees so dat mens vir jou kan lief wees’ - ek dink hierdie een val in daardie kategorie.
  7. Leef naby my Skepper. Was dit nie vir my geloof nie sou ek letterlik nie my 30ste verjaarsdag gesien het nie. Ek kan ook nie ‘n dag in my toekoms sonder Sy leiding en liefde indink nie.
  8. Lees, lees, lees. Ek wil soveel moontlik lees, nie net vir myself nie, maar ook vir my kind(ers.) Ek sal graag my groot liefde vir die letterkunde ook aan hulle wil gee.
  9. Gaan skinny dip saam met my man op ‘n plek waar dit verbode is. Ok, hierdie een is soortvan al gedoen een aand by die publieke swembad in Malmesbury, maar ek het ‘n meer eksotiese plek in gedagte gehad. (Hierdie is ook een van daardie dinge wat ek nie sal omgee om gereeld te doen nie.)
  10. Maak elke oggend opnuut my hart oop vir die potensiaal wat elke dag inhou en spandeer soveel tyd moontlik saam met al die engele in my lewe.

Kom ons hoop die volgende 30 jaar is net so interessant soos die 30 wat verby is.