Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, March 18, 2010

Kuier is vir die voëls

My man reken ons lewe is besig om by ons verby te gaan, omdat ek nie wil uitgaan nie. Die mense wat my ken sal vinnig vir jou laat weet ek is voor in die koor vir 'n goeie kuier, maar nie as ek lyk soos 'n klein seekoei'tjie nie (case and point die foto aan die bokant van die artikel.)

Vir die wat nog nooit swanger was nie, kom ek skets vir jou 'n tipiese aandjie uit (dit sluit in restaurant kuiers, braai, rugby kyk en enige ander aangeleentheid waar drank gewoontlik betrokke is.) Dit begin gewoontlik of laatmiddag of in die aand - teen hierdie tyd is die tipiese swanger vrou se rug seer van heeldag pens en boobs ronddra. (Gaan loop maar vir 'n dag lank met rugsak vol waterballonne, vasgemaak aan jou voorkant en laat weet my hoe jou rug voel aan die einde van die dag.) Dan word daar verwag dat jy met jou seer ongemaklike lyf op harde plastiek stoeltjies moet sit wat gekoop is meer vir hulle estetiese waarde as gemak.

Hoe langer die aand word, hoe dronker (en natuurlik slimmer) word al die mense om jou. Die vriendin van 'n vriendin wat jy nog net twee keer van tevore ontmoet het, deel met jou haar hele verhaal van hoe sy sukkel om swanger te word. Teen die einde van die aand sal jy presies weet wanneer sy ovuleer, hoeveel keer 'n week sy seks het, maar jy sukkel nog steeds om haar naam te onthou. En dit vertel sy alles vir jou terwyl sy haar brandewyn nurse en 2 pakkies Lexingtons rook. Een van jou man se vriende voel dit nodig om vir jou te vertel dat jy sy tipiese droomvrou is. Die vriendin wat 'n eed geneem het om nooit kinders te kry nie, vertel ten minste een keer elke 20 minute vir jou hoe braaf sy dink jy is en hoe sy dit NOOIT sou kon doen nie. Daar is so hier en daar 'n vriendin wat haar ewigdurende vriendskap en liefde tranerig aan jou verklaar en jy is dink iemand het aan jou boud gevat, maar jy kan dit nie met sekerheid sê nie, want jy het al 3 ure terug alle gevoel in daardie area verloor.

Teen die tyd wat jy eet (dis nou as jy dit so lank kan uithou) is die tjops verbrand, die botter op die knoffelbroodjie nog kliphard en koud en die avo in slaai al bruin.

Teen 21h30 is daar slegs drie gedagtes wat deur jou kop gaan; 1 - sal dit ongeskik wees as ek 22h00 al loop, 2. klink ek ook so as ek gedrink het en 3. praat my vriende altyd so baie nonsens of is dit net vanaand...

So as my man begin met sy "lewe wat besig is om by hom verby te gaan" het ek gewoontlik net een antwoord; geen mens is gebou om nugter te kuier nie, so laat hy maar verby gaan.