Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, July 16, 2010

'n Manne ding


My seuntjie, Evan Pieter Langenhoven, is 3 weke te vroeg op 2 Junie 2010 gebore. Dit bring die getal mans en vrouens in my huis op 'n gelyke skaal 2 teen 2, alhoewel my dogtertjie so rof is, dat dit meer voel soos 3 teen 1, maar sy is nou eers twee, so ek het nog tyd.

My man het 'n nuwe passie (sy woord; ek reken 'obsessie' som dit beter op)vir gewere. Hy het 'n klein fortuintjie spandeer op 'n jaggeweer en 'n haelgeweer. Sy pa het hom vir 'n jaar ingeteken op 'Magnum' ('n geweer tydskrif) vir sy verjaarsdag, waarvan hy tot die advertensie bladsy al elke aand vir die laaste week deurlees. Sodat hy kan weet hoeveel dinge kos, is sy verweer. (Ek sê mos; obsessie.)Hy het tot 'n gekamofleerde hoed uit Amerika bestel, wat vir my soos iets lyk wat jy tien teen een by die ko-operasie kon koop. So twee dae na Evan se geboorte begin my man praat van nog 'n geweer koop - vir sy laaitie. 'Kan ons eers wag totdat hy sy naam in die sand met sy eie piepie kan skryf,' was die enigste reaksie wat ek onder my hospitaal laken kon uitrky terwyl my 2.8kg bondeltjie aan my bors hang. Ek was miskien op pyndempers, maar so bedwelm is ek nog nie.

Ok, so ek kry dit nie. Die hele in-die-veld-agter-'n-bossie-lê-in-die-middel-van-die-winter ding gaan my verstand te bowe. En dit vir vleis wat niemand regtig wil eet nie (al laat jy dit vir 'n week in karringmelk lê en gooi jy hoeveel naeltjies en puff pastry bo-op.) Waarvoor jy boonop 'n drukkoker nodig het wat die reuk van wildsvleis vir 'n week in jou huis laat hang. Dit was egter toe ek die week by my paediater noem dat my man vir my seun 'n geweer wil koop en dat ons nie eers weet of die arme kind diere sal wil doodmaak nie wat hy vir my sê; "hy sal wil, dis 'n manne ding" en die volgende oomblik vir my fotos van sy seun se eerste koedoe wys, wat dit tot my deurdring; party dinge moet dalk nooit verstaan word nie.

My man wou vandag weet wat ek graag wil hê, aangesien hy nou vir eers alles het wat hy wil hê (3 gewere en 2 golfstelle later...) Ek sê toe maar die eerste ding bo-aan my duur lysie: nuwe boobs. Siende dit ook soortvan 'n manne ding is, het ek gereken geen verdere verduideliking sal benodig word nie. Ek was reg.