Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, October 6, 2010

Ek moes die ouerskap handleiding gelees het


Babas moes saam met handleidigs gekom het. O wag, daar is 'n paar beskikbaar. Miskien moet ek eerder sê: ek moes 'n paar handleidings gelees het voordat ek kinders gehad het. Maar nee, ek is mos 'n blommekind, glo vas my moederlike instink sal sorg dat my kinders min of meer normaal anderkant uitkom. (Toemaar, ek het alreeds 'n fonds gestig vir hulle sielkundige behandeling.)

My vriendin kuier nou die dag by my. Haar seuntjie is so 2 maande jonger as my Lisa. Op 'n stadium wys hy met sy klein vingertjie na 'n voorwerp en sê: "mamma, blou." Daar tref dit my toe soos 'n emmer koue water teen die voorkop; ek het die f*ken kleure vergeet.

Lisa kan 123, ABC en selfs al haar eie naam sê, maar weet nie die verskil tussen blou, geel en groen nie. My moederlike instink het heeltemal verby die kleure afdeling gegaan. Dit mag een van daai breinselle wees wat ek verloor het tydens my roekelose jeug.

Ons het dus nou inderhaas begin met kleure, maar op die oomblik het nog net "groen" vasgesteek en ook nie baie goed nie, want alles is groen. Selfs haar pienk bakkie is ook groen, of eerder "goen" soos sy dit sê. Nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het nie, maar ek reken dis 'n begin.

Kommin met 'n hoofletter K


Ek is nog altyd van mening dat my volk 'n blou streep weg het. Ek sluit myself natuurlik nie uit nie - na twee glase wyn ken ek elke woord van "ek het 'n toeter op my water skoeter." Sommige van ons probeer egter baie hard om die blou te verbloem - ek het gereken as ek uit Pretoria wegtrek en my semi-soet vir Pinotage verruil, is daar geen manier dat die blou my tot in Durbanville sal kan volg nie...
Groot was my verbasing dus toe ek onlangs in een van Durbanville se meer toonaangewende geskenke winkels rondloop en so tussen die Carol Boyes broodmesse en Wonky Ware breekgoed iets gewaar wat my na my asem laat snak. 'n Dosie plastiek boob balle met die woorde "feels like the real thing" in grootdruk op die kant. My eerste gedagte toe ek een optel, was "I think not" en my tweede gedagte was "waar op aarde is ek." Ek kon natuurlik ook nie help om te wonder of ek nie maar ene moet koop vir my seuntjie vir wanneer ek binnekort weer begin werk nie ... jy weet, net vir ingeval hy my mis.
Dit is toe dat ek maar die balletjie terug sit, my Oakley donkerbrille opsit en stadig wegstap. Ek dink darem nie iemand het my gesien nie.