Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, January 20, 2011

Nuwe jaar, nuwe dinge

Ek is veronderstel om julle van my nuwe boobies te vertel, maar ek was nog nie lus nie. Dis 'n snaakse storie en ek het nog nie lus gevoel vir snaaks wees nie. Wat ek wel kan sê is hulle is die pratigste ou twee goedjies wat ek nog ooit aan my lyf gehad het. Selfs my man dink hy date 'n hoërskool meisie. Maar meer hieroor later, ek belowe.

Eers wil ek sê voorspoedige nuwe jaar. Ek het gisteraand eers my Kersboom afgeslaan (ek weet dis bad luck, maar alhoewel die res van die land verspoel het, was dit hier te warm om te beweeg. En dit is presies wat ek gedoen het tot nou: niks.) My geld is al die 1ste Januarie op en ons eet nou al vir twee weke hoender. Ek kan nie meer 'n voël in die oë kyk nie.

My jaar het afgeskop met die nuus dat ons nie verhogings kry nie. Van toe af was ek nog nie weer in 'n goeie bui nie. Ek het my persoonlike begroting tot op die been gesny en besluit om my Virgin active te kanselleer; minder te eet; meer te hardloop en goedkoop wyn te drink. Ek het darem al die Virgin gekanselleer, sal nog by die res uitkom een of ander tyd, ek is seker.

Hoop julle nuwejaarsvoornemens is meer opwindend as myne en bevat dinge soos oorsese reise, tattoos en wilde flings met pragtige uitlanders. Moet my asseblief net nie daarvan vertel nie.