Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, March 24, 2011

Die storie van die waentjie

Ons het meer familie troues hierdie jaar as die Brady bunch. Siende ons nou 'n uitgebreide familie het en vlieg is nie meer 'n opsie nie (nie net finansieël nie, maar ons is bang hulle gooi ons uit net as ons oor Kimberley vlieg, en julle verstaan nie hoe graag ek nog altyd in Kimberley wou bly nie...) So ons besluit toe om vir ons 'n Venter karretjie te koop, soos die meeste voorbeeldige Afrikaners met 1.2 kinders. Dan hoef ons ten minste nie te kies wat gaan agterbly tussen Evan se stootkarretjie en Renè se golfstokke nie. (Dis nooit Renè se golfstokke nie, so raai op wie se heup sit Evan heel vakansie?)

Na die eerste dag besef ons dat ons defnitief nie nou 'n nuwe een in ons begroting kan inwerk nie (ek sukkel om Evan se 2de pak doeke vir die maand in die begroting in te werk.) Renè vaar toe Gumtree binne en kry 'n tweedehandse een (met bietjie werk) in die Strand. Bietjie werk raak toe ernstige moeite wat draai by 'n uitklarings sertifikaat by die polisiestasie. Die vreeslike 'hulpvaardige en vriendelike' polisieman aan diens merk toe op dat dat die 'vin' plaatjie vermis is en toe gebeur die volgende:

Polisieman (PM): "Meneer, daar's met hierdie waentjie gepeuter, ons sal eers beslag lê op die waentjie en 'n ondersoek instel. Trek dit asseblief vir ons onder die boom."

Rene: "Hoe lank sal hierdie ondersoek neem?"

PM: "Kannie sê nie, enige tyd van 3 na 6 maande."

Renê: "Reg."

Dis net daar wat my man sien hoe sy golfstokke by die huis bly, want sy vrou het al die vorige keer gewaarsku sy gaan nie weer op vakansie sonder die pram nie. Hy haak die Venter, maar in plaas van die ding onder die boom parkeer ry hy by die hek uit tot by die huis.

Die volgende oggend is daar 'n oproep; "Meneer Langenhoven, ons staan voor jou huis, om jou en jou waentjie in hegtenis te neem." (Twee polisie manne, een vir my man en een vir die waentjie. Bleikbaar word daar geen ernstige misdade 8uur in die oggend gepleeg nie, so hulle kon 2 spaar.) Gelukkig het hulle die verkeerde adres gehad en my man het belowe om die waentjie self in te vat.

Lang storie kort, Renè het sy beste prokureurtaal uitgepak en hulle confuse met baie papiere (of bewyse - sy woord.) Die waentjie staan in ons agterplaas, gereed vir enige familietroue en Renè het steeds nie 'n kriminele rekord nie, wel nie waarvan ek weet nie.