Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, March 1, 2012

As die een gebou soos die volgende begin lyk

Ja, dis ek en ja, ek verkluim
Ek was onlangs in Berlyn vir 'n week vir werk. Dit was 35 grade toe ek opklim in Kaapstad en -15 toe ek die volgende dag afklim in Duitsland. Dit is minus 15, indien daar enige onduidelikheid is. En ons in die Kaap kla oor die wind...

Dit was my vierde keer in Europa en as jy my vra is dit drie te veel. As ek nog 'n gebou; 'n brug; een of ander standbeeld of 'n Rennaisance skildery moet gaan kyk, kom ek iets oor. Om nie van die Europese snobbisme te praat nie. Hulle is bitter vinnig om kommentaar te lewer oor 'n land (dis nou die sonnige Suid Afrika) waarin hulle nog nooit was nie; mense wat hulle nog nooit ontmoet het nie en politiek waarvan hulle absoluut niks verstaan nie. Dit alles terwyl hulle in hulle piepklein dupleks huisies sit (wat 'n fortuin kos) sonder grasperke of braai areas. "But at least they are safe." Have you ever!

Hulle lyk regtig almal dieselfde.

Behalwe ou geboue en aaklige winters is hulle wyn duur, restaurante onbekostigbaar en hulle bier bitter. Baie bitter. Die enigste plekke wat ek wel sal wil besoek is die lande wat op die rand van bankrotskap staan soos Griekeland en Spanje. Ten minste weet hulle hoe om vakansie te hou...

Nee wat, gee my eerder somers in die Tuinroete en winters in die Bosveld, goedkoop wyn en braaibroodjies. Dan vat ek maar die man wat deur my venster klim, ek het mos twee groot honde, ADT en 'n panic button.