Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, January 10, 2008

Want sy wil dans

Dit was toe ek onlangs weer terug in my tuisdorp was, dat daar oudergewoonte so 'n lus in my begin opstoot vir 'n lekker dans. En ek praat nie van die doef-doef danse van vandag se jeug nie, ek praat van langarm, boude uitstoot en hopperig rondskuifel, kompleet met two-step en interessante draaie. Dit moet iets in die water wees, want selfs my suster merk so onder haar verveeldheid op; "Ek's nou lus vir 'n lekker Piet Plessis dans."

Ek het grootgeword in 'n boeregemeenskap in die NoordWes provinsie en daar was gereeld geskoffel. Ek kon ritme hou voor ek kon praat, en die eerste liedjie wat ek uit my kop uit geken het was Racey se Boy oh Boy:

And it was, boy oh boy
One night with you, and it´s
Boy oh boy
What I could do with you
It was too much
Well oh boy the first time we touched

(die wat glad nie weet waarvan ek praat nie, Nicholis Louw het 'n weergawe daarvan op sy vorige cd...)

Elke tweede Vrydag aand het die Hoërskool 'n sokkie gehad en daar was ten minste so een keer 'n maand een of ander dans op Vryburg self of 'n nabyliggende dorp soos Stella of Piet Plessis. Enige gebeurtenis het gewoonlik 'n dans regverdig - vanaf perde uithouritte tot die verandering van die seisoen. Die een met 'n lisensie het dan sy pa se motor geleen en ons het almal afgesak, gemaklike skoene en gereed vir aksie.

Vandat ek in die Kaap woon, word daar nie meer geskoffel nie, (oftewel nie in Kaapstad self nie, ek het wel al bietjie geskud by Flamingo's in Langebaan, maar dis 'n storie op sy eie.) Daar is wel plekke soos Danskraal, maar om een of ander rede as ek deur daai tonnel ry terug in die Kaap, verruil ek weer my brandewyn en coke vir rooiwyn en steek ek my plattelandse maniere weg vir die samelewing, noem dit maar my oorlewingspakkie.

So met die lus saam begin ek toe nou rondkyk vir danse, maar in Desember is die brandewyn- en vleisfeeste maar skaars. Dit was egter toe ek op 'n plakaat by die Spar se kennisgewing bord sien dat Gin en Tonic in die Jannie Louw saal speel vir nuwejaar en dat "hardehout en coke" halfprys gaan wees, dat ek maar tog besluit om dit te laat oorstaan. Miskien het ek intussen tog 'n bietjie verkaap...

Tuesday, January 8, 2008

'n Nuwe Begin

Much as we may wish to make a new beginning, some part of us resist doing so as though we were making the first step towards disaster. - William Bridges -

'n Nuwe jaar bring gewoonlik saam met hom die belofte of hoop van 'n nuwe begin. Daai oefenplan wat jy gaan afstof, of daardie dansklas wat jy gaan vat of die nuwe taal wat jy gaan aanleer. Die pessimis in my kan egter nie help om ook die einde van 'n ou begin raak te sien nie - daai oefenplan waarby jy nooit uitgekom het nie ensovoorts ensovoorts.

Oor die algemeen is ek maar huiwerig vir enige nuwe begin. Die begin van 'n nuwe jaar is ongelukkig een van daai dinge wat 'n mens nie vanaf kan wegkom nie. En daardie mislukkings gevoel wat ek op die 31ste Desember beleef, het ek al telke male suksesvol gestil. Dit lei gewoonlik tot 'n redelike kopseer en 'n gal aanval op die 1ste Januarie, maar niks wat Gaviscon en Panados nie kan beter maak nie.

Die volgende 'nuwe beginne' vermy ek egter (sovêr moontlik,) soos die dood;

Nuwe verhoudings. Ja, ek weet ek is getroud, maar in my prulle jeug was die begin van 'n nuwe verhouding vir my soos tandetrek. Jou selfrespek wat by die sekonde afneem terwyl jy wag vir 'n telefoon oproep. Daai 'beste voetjie voor' persoonlikheid wat jy moet gaan opsoek. Die nuwe familie wat jy moet ontmoet en die glimlag wat jy moet dra selfs al is die oupa bietjie vatterig. En dan as die maanskyn en rose fase (wat in my geval gewoonlik so 2 weke gehou het) verby is, kruip al die klein jakkalsies uit hulle gate; daai wit huisies in die hoekies van sy mond terwyl hy eet; die voutjies wat sy vel in sy nek maak; sy hare wat die stortprop (en jou skeurmes) verstop en die FHM wat altyd bo die Fair Lady langs die toilet lê. Nee wat, gee my eerder die gemak van bekende irritasies as die aanpassing van nuwes.

Nuwe vriendskappe. Die probleem met nuwe vriendskappe is dat dit gewoonlik gepaard gaan met die een ding in my lewe wat ek die meeste haat - small talk. 'Wie is jy, wat doen jy en waar kom jy vandaan' gesprekke, maak my net lighoofdig. Ek dink dit is hoekom ek so baie vriende van my jeug oorgehou het - hulle weet waar ek vandaan kom, wat ek gedoen het vir aandag en wat ek kwyt raak as ek gedrink is en hulle het my nog nie gelos nie. En niks is meer aangenaam as 'n vreemdeling se 'ek-dink-nie-ons-is-al-op-hierdie-vlak' gesig as ek daai geraamtetjies begin afstof nie. Ek het wel 'n paar nuwe vriende gemaak die laaste twee jaar, meestal oor 'n bottel rooiwyn en tydens gesprekke oor interessante dinge, soos wanneer raak baie skoene te veel skoene... Al my vriende kan ek egter met trots aankondig is van daai tipe wat sal bly, wat my behoefte aan meer vriende gelukkig minder maak. Ek meen, ek het net soveel insiggewende raad wat ek kan uitdeel...

Nuwe Motor. 'n Motor se aantrekkingskrag vir pale, opspring klippies en uitsteek drade is direk eweredig aan sy ouderdom; hoe jonger hy is hoe groter is die kans. Die laaste (en moet ek dalk sê, enigste) keer wat ek 'n nuwe motor gekoop het, het dit my presies 2 weke, 3ure en 20 sekondes geneem om hom teen 'n paal vas te parkeer. 'n skamele week nadat die paneelkloppers die skade herstel het, het ek ons elektroniese hek teen die deur toegemaak wat 'n klein, dog sigbare duik gelaat het. Ek gee toe dat my loskop persoonlikheid en bestuursvernuf defnitief tot die aangeleenthede bygedra het, maar die feit dat dit 'n nuwe motor is, maak die pyn net bietjie erger. Die volgende keer wat ek besluit om 'n nuwe ryding aan te skaf, bestel ek hom met 'n duik in. Dit sal my die antisipasie spaar.

Nuwe skoonmaakmiddels. Kyk, ek is nou eenmaal 'n Handy Andy en Sunlight Liquid girl. As daar een ding is wat ek nou al geleer het, is dat niks wynringe van 'n kombuiskas afhaal soos Handy Andy nie, die res los vir jou so 'n ligte pers-groen ring. Net Sunlight Liquid kan potjiekos vet uit 'n swartpot was. Die res los vir jou so 'n lekker lagie om mee te werk vir die volgende pot. Dus is daar altyd so 'n smakie van jou vorige pot wat deurskemer in jou huidige.


Ek hoop jou nuwe jaar is vol ou, bekende genot en dat al die nuwe dinge wat jy aanpak pynloos en vrugtevol sal wees.