Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, January 10, 2008

Want sy wil dans

Dit was toe ek onlangs weer terug in my tuisdorp was, dat daar oudergewoonte so 'n lus in my begin opstoot vir 'n lekker dans. En ek praat nie van die doef-doef danse van vandag se jeug nie, ek praat van langarm, boude uitstoot en hopperig rondskuifel, kompleet met two-step en interessante draaie. Dit moet iets in die water wees, want selfs my suster merk so onder haar verveeldheid op; "Ek's nou lus vir 'n lekker Piet Plessis dans."

Ek het grootgeword in 'n boeregemeenskap in die NoordWes provinsie en daar was gereeld geskoffel. Ek kon ritme hou voor ek kon praat, en die eerste liedjie wat ek uit my kop uit geken het was Racey se Boy oh Boy:

And it was, boy oh boy
One night with you, and it´s
Boy oh boy
What I could do with you
It was too much
Well oh boy the first time we touched

(die wat glad nie weet waarvan ek praat nie, Nicholis Louw het 'n weergawe daarvan op sy vorige cd...)

Elke tweede Vrydag aand het die Hoërskool 'n sokkie gehad en daar was ten minste so een keer 'n maand een of ander dans op Vryburg self of 'n nabyliggende dorp soos Stella of Piet Plessis. Enige gebeurtenis het gewoonlik 'n dans regverdig - vanaf perde uithouritte tot die verandering van die seisoen. Die een met 'n lisensie het dan sy pa se motor geleen en ons het almal afgesak, gemaklike skoene en gereed vir aksie.

Vandat ek in die Kaap woon, word daar nie meer geskoffel nie, (oftewel nie in Kaapstad self nie, ek het wel al bietjie geskud by Flamingo's in Langebaan, maar dis 'n storie op sy eie.) Daar is wel plekke soos Danskraal, maar om een of ander rede as ek deur daai tonnel ry terug in die Kaap, verruil ek weer my brandewyn en coke vir rooiwyn en steek ek my plattelandse maniere weg vir die samelewing, noem dit maar my oorlewingspakkie.

So met die lus saam begin ek toe nou rondkyk vir danse, maar in Desember is die brandewyn- en vleisfeeste maar skaars. Dit was egter toe ek op 'n plakaat by die Spar se kennisgewing bord sien dat Gin en Tonic in die Jannie Louw saal speel vir nuwejaar en dat "hardehout en coke" halfprys gaan wees, dat ek maar tog besluit om dit te laat oorstaan. Miskien het ek intussen tog 'n bietjie verkaap...

1 comment:

@wordnomad said...

Dans rondom jou eetkamertafel, deur jou sitkamer en by die kombuisdeur uit tot op die grasperk. Vergeet jou Kaapse maniere en dans vroutjie, die lewe is te kort om dit te laat oorstaan.