Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, December 4, 2008

Hierdie gaan 'n klein bietjie seermaak

Babies are such a nice way to start people. - Don Herrold -

Op 31 Oktober 2008 was my lang gewag eindelik verby; ons dogtertjie was oppad. Vroëer daardie week het ons dokter begin twyfel of Lisa ooit gaan sak en as sy wel sou of ek groot genoeg sou wees om haar te kon uitstoot. Gelukkig het ons nooit uitgevind nie, want ek het besluit tot hier toe en nie verder nie. (Ek het nog nie rekmerke gehad nie en 'n mens se vel kan net soveel spanning hanteer. En my klein poplap was reeds 3.8kg en my rug was amptelik besig om in te gee.)

Vroeg die oggend het ek al 'n bleek gelaatskleurtjie gehad. Kyk, ek is nie van nature 'n bang mens nie - ek het al van 'n brug afgespring en van The Heads af ge-abseil, maar ek het 'n effense naaldefobie. My ma sal kan getuig van die vele kere wat sy my in 'n spreekkamer moes rondjaag omdat ek weggehardloop het vir 'n inspuiting. Maar die winter se griepinspuiting en 'n naald in jou ruggraat is nie regtig dieselfde ding nie. Dus toe vooroor gebuk luister hoe die narkotiseer vir my sê hierdie gaan 'n klein bietjie seermaak, wat ek amper net daar op die operasietafel gepiepie het van banggeit. Die seer was darem nie so groot soos ek gedink het nie (geen naaldepyn is ooit so groot soos ek antisipeer nie, ek dink dis die hele punt van 'n fobie...) en skaars 10 minute later hoor ek die eerste perfekte gil van die mooiste meisiekind wat ek nog ooit my oë op gelê het.

'As jou baba eers daar is, vergeet jy van al die pyn en swaarkry' is woorde wat ek oor en oor gehoor het tydens my swangerskap as ek gekla het. 'Vet kans,' het ek gedink, 'ek het my blindederm laat uithaal toe ek 15 was en ek kan nog presies al die pyn onthou. Ek vergeet baie dinge, maar nie pyn nie.' Maar hier waar ek nou lê met my perfekte meisiekind, met haar pragtige mond en groot, wakker oë kan ek eerlikwaar sê: 'pyn, watter pyn?'

1 comment:

@wordnomad said...

Jy is so braaf, vriendin. Klink of jy baie reg is as jy se kinders kry is nie perde koop nie. Velang na jou!