Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, January 15, 2010

'n Plek waar tyd stilstaan

Daar is 'n plek waar die tyd stilstaan
waar mense nog biddae hou vir reën
en vir middagetes huis toe gaan
en as dit moet jy gou 'n koppie suiker by die buurman kan leen

Daar is 'n plek waar kinders nog kaalvoet skool toe loop
en jy die reën in die grond kan ruik
waar jy gebreide hangeroortreksels by kerkbazare kan koop
en mense jou nog in die oë kan kyk

Daar is 'n plek waar jy nog tuisgemaakte konfyt kan kry
en toiletpoppe oor die toiletpapier
waar jy verniet die hele week kan eet en bly
en jou ma nog steeds jou buie verduur

dit is daar waar ek altyd 18 sal wees
en my onskuld in jou hart sal bly
waar jy nog die drome in my oë kan lees
en miskien altyd bietjie lief sal wees vir my

daar is 'n plek waar tyd stilstaan
as ek mooi vra,
sal jy saam met my gaan?

No comments: