As jy nie meer permanent daar bly nie, dan vergeet jy maklik. Jy is dit ook nie meer gewoond nie; so dat almal alles van jou af weet. En dat jy weer die persoon raak wat hulle laaste gesien het, hetsy dit nou 10 jaar terug is, of nie.
So was dit toe ook toe ons huis toe is vir my boetie, Nelis, se begrafnis. Ek gaan elke jaar Vryburg toe, maar het dit nog altyd reg gekry om redelik ongemerk in en uit te beweeg. Maar die keer was daar nie wegkruipplek nie. Mense het soos toergroepe by die kango grotte daar opgedaag. Die eetgoed het die wêreld vol gestaan. Daar was genoeg koeksisters en hoenderboudjies om 'n paar Afrika lande vir 'n maand te voed. Maar dis mos mense se ding: tee vir 'n gebreekte hart. Die tee kan niks aan die hart doen nie, maar dit gee die ou wat dit maak iets om te doen. Want almal wil iets doen en ek glo dit kom van 'n goeie plek af.
Jy word gedruk en gesoen en vreemde tannies praat van jou asof jy in hulle agterplaas groot geword het. Ja tannie, dankie tannie.
Die oggend na die begrafnis sit ek, my suster en my ma en nog 'n klomp van die familie tannies, niggies en susters om die tafel en lag en huil gelyk, toe ek 'n plan kry. Daar het 'n pepperment crips tert êrens tussen die hoenderboudjies in gesluip en gelukkig spoor ek hom op. En net daar met telepels eet ons die hele pyrex bak uit.
Miskien help tee nie vir 'n gebroke hart nie, maar as jy dan nou jou hande moet besig hou - 'n peppermint crist tert is defnitief die rigting om in te beweeg.
- dankie vir almal se aandra, gebede, oproepe en drukkies. dit help om te weet dat daar so baie omgee is. -