Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, November 2, 2007

Sê nou maar



"The way to develop self-confidence is to do the thing you fear and get a record of successful experiences behind you. Destiny is not a matter of chance, it is a matter of choice; it is not a thing to be waited for, it is a thing to be achieved." - William Jennings Bryan.


"Sê nou maar is 'n lekker sê; alles wat 'n mens wil hê.." was die reimpie wat my ma altyd vir my opgesê het as ek iets wou hê wat ek nie kon kry nie. Soos ek groter geword het, het 'sê nou maar' die moontlikheid van 'n persoon geword wie ek kon wees indien ek ander keuses gemaak het. Die persoon wat links gedraai het, toe ek regs gegaan het. Die wilde kant wat aanhou lewe het toe ek rustiger geraak het. Mens kan êrens in die hoekie van jou siel plek maak vir al die sê-nou-maars in jou lewe of jy kan daarvan vergeet, jou belsuite aanvaar en altyd vorentoe kyk. Wyse mense sal ook vir jou sê dat laasgenoemde die beter besluit sal wees. Ek het egter teen my beter wete besluit om dit deel te maak van my lewe, om dit selfs deur iemand anders te beleef en om dit soms gestalte te gee in die ink wat uit my pen kom.

Ek het 'n vriendin, Lize, wat my siel ronddra, net in 'n ander pakkie. Sy het my manier van dink en droom, my liefde vir skryf en 'n hart wat te veel emosie roddra vir so 'n klein lyfie. Sy is my sê-nou-maar mens wat die afdraai paaie vir my loop - ek het gaan werk, sy het verder studeer; ek het getrou, sy het gaan reis ensovoorts ensomeer. Lize dra 'n stukkie van my hart en siel saam met haar en ek dra 'n stukkie van haar saam met my. Ons vat tyd af om in mekaar se wêrelde in te beweeg om te gaan kyk hoe lyk die keuses wat ons nie gemaak het nie. Om vir 'n oomblik net weer te besef ek is waar ek moet wees en sy is die engel wat my nuuskierigheid op 'n veilige plek hou.

Ek besef ek kan nie meer teruggaan en oor kies nie, want dan mag ek dalk nooit by die ander geleenthede uitkom wat nou voor my lê nie; en moet ek dalk my skatte prysgee wat ek nou in my lewe het. Dus sal elke sê-nou-maar deels ongeantwoord bly, maar sal dit aanhou glimlag met die potensiaal van wat dit kon wees en sal my hart altyd met 'n tikkie heimwee wonder, en bietjie verlang.

Ek is gelukkig om vir Lize en ander vriendinne te hê waardeur ek 'n gedeelte van my leemte kan voed. Ek kan hulle stories indrink en vir oomblikke daarin verlore raak. Ek maak dit my eie en dra dit rond in die kamers van my siel wat vol staan met die kanse wat verby is. En alhoewel ek tevrede gelukkig is met die besluite en die plek waar ek myself bevind, sal ek nog altyd 'n vlammetjie laat brand vir die afdraai padjies wat nie gevat is nie, want sê nou maar...


Gaan asseblief ook op reis saam met Lize by http://www.parisandpomegranates.blogspot.com/

No comments: