Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, November 28, 2007

Familie Kersfees


Die silly seisoen is op ons en ons slaan op vlug. Desember is om die draai en die Moederstad bars uit haar nate. Daar is meer 4x4 met venterkarre wat die stad binnery as wat hulle mense verwag in 2010. Parkering by winkelsentrums is 'n vae herhindering nes jou verlore jeug en die hoenderrakke in Pick 'n Pay staan leeg. As jy gelukkig is kan jy nog hier en daar 'n verlore kalkoen optel.

Ek vlug Vryburg toe. Die dorp waar my ma my met moeite in die lewe gebring het. 'n Mooi stukkie aarde waar jy nog die grond kan ryk as dit reën en waar jy by die koöperasie op skuld kan koop tot na die oes. Ek vlug na my ma se kookkos en my pa Weber disse. Daar waar jy van drank praat as harde hout en wyn iets is wat jy slegs drink tydens nagmaal. (Ek vat maar my eie dosie Kaapse nektar saam, want van die laaste keer wat ek brandewyn gedrink het, het ek 'n indiepte filosofiese gesprek met my hond gevoer oor die relevansie van Freud se teorie op vandag se jeug - sy was daarna nooit weer dieselfde poedel nie.)

Ek sien uit daarna om weer 'n normale Kersfees te kan hê waar ek heeltyd wonder hoekom het mense opgehou om kinders pakslae te gee en vir die 4de jaar in 'n ry my ouma verseker dat dit net 'n stick-on tattoo is. Wanneer ek my tekkies slegs inpak vir gemoedsrus, want niemand kan in elk geval met 'n babbelas in 30 grade Celcius gaan draf nie. En al hardloop ek ook drie keer om die dorp, sal ek in elk geval nie lyk soos enige een van my FHM-model niggies nie. Kersoggend sal die familie twee kerkbanke vol sit en hulleself probeer afkoel met die deurflyers. Aan die einde van die diens sal die slagter se dogter soos oudergewoonte haar sopraan solo lewer wat sal sorg dat jy vir die res van die dag met so 'n dowwe suisgeluid in jou ore rondstap. En so tussendeur al die kos, drank en geskenke is daar ernstige debat oor wie nou eintlik die swaarste gekry het toe hulle jonk was en lag ons oor hoe my broer my suster se dagboek in standerd sewe vir R10 aan haar ex verkoop het.

Ek begin met kinderlikke opgewondenheid uitsien, maar daar is een probleem - Vryburg is 1200km van die Kaap af en ons moet ry, venterkarretjie, golfstokke, the works. Roadtrip, soos in die ou dae toe ons nog drie kinders agter in die groen Ford kon inpas. Die vakansie begin gewoonlik met my man wat probeer om my te kry om padkos in te pak - vir die nostalgie. Die woord padkos wek egter altyd herhinderinge uit my jeug van pap tamatie toebroodjies wat ek met soet flou tee êrens langs die pad, onder 'n boom tussen Beaufort Wes en Kimberley probeer afwurg terwyl daar elke vyf sekondes 'n kombi verby ry. Die ander opsies in die tupper bak was koue, blou hardgekookte eiers en gisteraand se boerewors waarvan ek weet die vet vir die hele dag aan jou verhemelte gaan vassit. En na dit alles kan jy 'n vinnige veldtie vang, terwyl iemand kuiwie hou, want niks het gesê jy is nou op 'n Desember vakansie soos gras in jou watsenaam nie. So nee dankie, Shell Ultra City en Wimpy is al wat my man uit my uitkry, nostalgie se ma.

Ons beplan om 6h00 te ry, maar ek weet 7h00 is nader aan die waarheid, want my man sal die motor ten minste drie keer oorpak, omdat hy nie plek kry vir my vanity case nie. Voor die tonnel sal hy begin kla omdat hy honger is, maar ek glo mos nie in padkos nie. Op Beaufort sal hy dreig om my Jan Blohm cd by die ruit uit te gooi as ek nog een keer daarna luister en net duskant Victoria Wes sal hy 'n debat begin oor die wonder van hoe ek dit regkry om in enige posisie aan die slaap te raak. Wonderbaarlik kom ons altyd in een stuk daar aan en ek voel soos die verlore kind wat huis toe gekom het, kompleet met die vetgemaakte kalf reeds op die spit.

Ek raak sommer tranerig van opgewondenheid en verlange. Niks kom naby 'n kersvakansie saam met familie nie, dink ek terwyl ek my tekkies inpak en my wekker vir 5uur stel.

1 comment:

Unknown said...

How about a English version too ;)