Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, December 13, 2007

Vreemde voornemens

2007 lê op haar rug, besef ek met 'n skok toe ek nou die dag my eerste khaki draende, kamera om die nek, moonbag om die heupe, faktor 40 gesig, toeris raakloop. In die Kaap meet ons lankal nie meer seisoene aan temperatuur nie, maar aan die toeneem en afneem van leliewit toeriste. (Temperatuur in die Kaap is in elk geval net so onvoorspelbaar soos 'n agtienjarige op 'n nuwejaarsparty by Santos.)

Die vooruitsig na nog 'n jaar is nie wat my op die stadium kwel nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie - my biologiese klok en grys hare is vir my 'n punt tot kommer, maar vandag is daar iets anders wat aan my gewete kom krap het; my nuwejaarsvoornemens. Daar is letterlik etlike dae oor voordat ek nuwes moet opstel en ek het nog nie eers my lysie vir 2007 afgetik nie en ek is seker daar moet een of twee wees wat ek ten minste amper nagekom het. Die wat ek dan nie nagekom het nie, kan ek altyd aanpas vir 2008...

Ek het gaan grou in my baie deurmekaar studeerkamer en onder baie rekeninge, 'n halwe Bar One en twee fotos van my hond het ek die stowweringe lysie gekry. Ek het besluit om dit uiteen te sit met kommentaar en dan ook die nodige aanpassings as volg te maak;

  1. Verloor 5 kg. Gaan nie gebeur nie; het wel 5kg opgetel. Nuwe voorneme vir 2008; verloor die 5kg wat jy veronderstel was om te verloor asook die 5kg wat jy opgetel het. (Ek sidder om te dink hoe hierdie een gaan lyk aan die einde van 2008.)
  2. Doen 'n halfmarathon. Reg, ek neem aan as ek hierdie een nagekom het, sou ek nie probleem nommer een gehad het nie. Nuwe voorneme: gaan soek jou tekkies en indien jy dit kan vind, gaan stap met die hond.
  3. Begin weer studeer. Ek het darem aan die begin van elke maand die M-net boekie opgeswot... Nuwe voorneme: Leer eerder iets wat jy kan gebruik bv. Salsa of Frans.
  4. Bungee jump of valskerm spring. Goed. Het defnitief te veel vonkelwyn in gehad toe ek met hierdie ene vorendag gekom het. Nuwe voorneme: Drink minder.
  5. Betaal al jou kredietkaarskuld. Miskien moet ek eers kruip voordat ek probeer loop. Ek dink hierdie kan ek eerder op my 5jaar plan probeer inwerk. Gans en al te veel druk vir een jaar. In elk geval sal dit nie inpas by my leuse: 'So many shoes, so little time' nie.
  6. Maak nuwe vriende. Ja, want wat is nou lekkerder as om opnuut al jou ou geraamtetjies uit te haal, af te stof en uit te stal... Skrap die een, die vriende wat ek het is almal klaar lief vir my en al my geraamtes en ek hou van hulle.

Ek bestudeer weer die lysie en dit lyk vir my heel haalbaar, maar eers volgende jaar, vir nou is daar eers 'n paar skoene by Tygervallei met my naam op en 'n bottel rooiwyn wat al asem haal.

No comments: