Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, December 7, 2007

Bragboek

Ek onthou nog my ouma se bragboek - so 'n plastiese foto album wat met gemak in 'n handsak kan pas en waarin al haar kinders en kleinkinders en agter-kleinkinders pryk. Sy is ook nie die enigste dame in haar geledere met so 'n boek nie; elke suster en vriendin werk heel jaar aan hulle eie bragboeke en fotos word op datum gehou met meer akkuraatheid as daardie oggend se nuus op Morning live. Op elke aangeleentheid word die boeke uitgeruk en dan word daar vergelyk; maar meestal gespog. "Jannie is nou 'n dokter en Sus het vir haar 'n advokaat gevang," ensovoorts. En alles is 'n prestasie - van tandewissel tot trou.

Dit was toe ek onlangs met oorsese besoekers rondgery het, dat ek besef het ek het my eie bragboek; my land. Maar in plaas van 'n plastiese foto boekie gebruik ek die fotos van my herhinderinge en my ervarings. En as ek eers begin, gaan ek in vervoering soos 'n eerstejaar student by 'n bierspecial. Ek raak in liries oor die spasie en stilte van die Karoo. Die reuk van die grond na 'n somerreën in die Noordkaap. Die klank van hael op 'n sinkdak in 'n plaashuis in die Bosveld. 'n Verdwaalde Baobab boom in die Noordelike provinsie. 'n Oranje rooi tapyt van herfs wingerdblare in die Heksrivier. Die gesig van Tafelberg op Bloubergstrand. Die skoonheid van die tuinroete en die onskuld van die Oos Kaap.

Daar is gereeld onsekerheid in my land oor die toekoms, veiligheid en werk om maar net 'n paar te noem; en baie Suid Afrikaners stroom landuit en lewer kommentaar van die kantlyn af. Ek kry gereeld emails van my vriende in ander lande wat iets raak gelees het: "Ek hoor julle vliegtuie se enjins val uit." of "Ek sien daar is 'n boer wat sy werkers vir die leeus voer." (Gewoonlik vat dit my dan ook 'n dag om al die stories te google sodat ek ook net op datum is van die vliegtuie en die leeus.) Daar is soveel menings oor my land as wat daar mense in die wêreld is en ek moet erken soms is daar selfs twyfel in my hart oor waarheen ons op pad is.

Ek kon myself egter nog nooit kry om emigrasie in oorweging te neem nie. Ek kan hierdie plek nie los nie; dit borrel in my bloed. Ek kan nie met 'n plastiese foto boekie in my handsak rondloop met poskaart fotos van Tafelberg en Knysna nie. Ek wil spog oor elke legkaartstuk van my land terwyl ek saam met Europeërs tussen die wingerde van die Heksrivier rondry. Ek wil Kampsbaai toe ry vir 'n sonsondergang en Stellenbosch toe vir nostalgie. Ek wil een keer 'n jaar Heroldsbaai toe gaan vir sielrus of die vlaktes van die Kalahari invaar sodat ek weer kan onthou wie ek is. Ek wil gaan luister na diere by 'n watergat of plat om my rug lê en na die sterre kyk by Sutherland.

Ek wil elke jaar ten minste een nuwe foto van my land vir ewig in my hart plak. Ek wil my siel onlosmakend geplant hou in hierdie deel van Afrika, want in niemand se handsak sal jy ooit 'n bragboek kry met fotos so mooi soos in die land van my hart nie.

No comments: