Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, April 30, 2008

Trek my aan, maar los my by die huis


Ek is een van daai mense wat jy kan aantrek, selfs 'n bietjie make-up aansit, maar nêrens heen kan vat nie. Dit weet die meeste van my vriende al, maar moes my man ongelukkig op die harde manier leer.


Dit was met een van sy werksfunksies dat ek myself maar by die versnapperingstafel gaan staanmaak het - prokureur praatjies maak my altyd honger. My gestel kan net soveel vat van artikel soveel van die wet op blah blah, voordat ek honger en dors raak. Ek peusel toe maar aan alles, van 'n kasie tot 'n koekie totdat ek uit die hoek van my oog 'n bakkie neute bespiegel. Nie jou gewone gebakte grondboontjie en roesyntjies nie, maar 'n donkerkleurige, langwerpige neut. Siende dat ek altyd tyd het om iets nuuts te probeer vat ek sommer vir my 'n handjievol en gooi dit in my mond. Met die dat ek afbyt (in afwagting vir daai neut geur om deur te kom) byt ek op ietsie hard vas. Toe nie neute nie. Tot my skok besef ek wat dit is, dieselfde tyd wat ek besef dat al die mense om die tafel na my staar - olyf pitte. Dit was die bakkie waarin die mense olyfpitte sit nadat hulle dit klaar geëet het. In my mond lê daar dus op daardie oomblik 'n versameling van verskeie mense se uitgespoegte olyfpitte... Ek het besef dat ek dit nie alles met een gebaar kon uitspoeg nie en haal dit toe maar een vir een uit en sit dit terug in die bakkie. My man was woordeloos en van toe af maak hy seker dat op elke partytjie hy vir my die bakkie olyfpitte uitwys voor die tyd. Hy hou dit altyd vir my en vra; "'n olyfpit vir jou?"


Op 'n ander geleentheid nader een van sy kollegas my en vra of ek 'n sekere vrou ken saam met wie ek geswot het. "Ja", sê ek baie seker van myself; "gay as a summer's day." Ek sien toe dat my man en die kollega effens wit raak. "O," sê die "ek trou volgende naweek met haar." Toe nie gay nie. My man het net sy kop geskud en weggeloop.


Dit was ook die laaste keer wat sy werk die gades saamgenooi het. Ook maar 'n bedekte seën, want ek weet nie hoe hy enige vooruitgang in sy beroep sal maak met die bystand van my sirkus toertjies nie.

1 comment:

Morras said...

Jy's snaaks.en pragtig.