Om swanger te wees is deesdae 'n modebykomstigheid. Swanger vroue is hoog nuus in Hollywood en tydskrifte betaal duisende rande vir pienkvoet se eerste fotosessie. Ons eie Patricia en Amor het self hulle rondings op al wat 'n voorblad van Suid Afrikaanse tydskrifte gehad. (Dank die vader swangerskap duur net 9 maande, want ek dink nie ek sou nog foto kon oorleef nie.) Kyk, ek verstaan dat 'n mense Brad en Angelina se nasate van nader wil bestudeer, want enige iets wat uit daai kombinasie kan voortspruit kan net lekker wees, maar vir die res, ek weet darem nie.
Sowat 'n jaar en 'n half gelede het ek en my beter helfte self besluit om ouerskap 'n kans te gee. (Dit was laat een Saterdagmiddag en ons het niks anders gehad om te doen nie.) Na my ma se vriendelike waarskuwing oor die vrugbaarheid van die vrouens in ons familie was ek redelik gerus dat dit nie 'n lang wag sou wees nie. Verbeel jou my verbasing toe daar na drie maande en vele stokkie-piepie sessies nog steeds net een strepie is. "Dit vat maar gewoonlik so 6 maande" was almal se wyse raad en ek besluit om tog maar die bietjie geduld in my stoorkamer te probeer gebruik. Nog drie maande en vele swangerskap toetse later en steeds net daai een strepie.
Tot my man se teleurstelling besluit die desperate Hanli om in te gryp met navorsing en soveel raad as wat my klein oortjies kan inneem. Ons probeer alles van op my kop staan (en die wat my ken sal weet 80% van my liggaam oppervlakte sit in my bolyf, so dit is nie 'n gemaklike posisie nie) tot my liggaamstemperatuur neem 06h00 in die oggend (met 'n koorspen wat geluide maak as hy gereed is om gelees te word) en shag op skedule (romanse se ma.)
Nog ses maande later en steeds ontwyk daardie tweede strepie op die swangerskap toets my en ek besluit om mediese hulp in te roep. Polarisistiese ovarium sindroom is die groot woorde wat die dokter by die fertiliteits kliniek in my ore kom lê. Ek ovuleer te ongereeld om presies vas te stel wanneer dit gebeur. Hy skryf vir my klein wit pilletjies voor wat my 'n voorsmakie gee op menoupause met die gloede wat ek kry en een drie maande later verskyn daar 'n tweede strepie, lig maar daar. Ek moet drie keer kyk om seker te maak dit is nie 'n hallusinasie nie. Ek ry dadelik hospitaal toe vir 'n bloedtoets, skuif nie by begin verby nie, samel nie R200 in nie. Dis Positief! sê suster aan die anderkant van die lyn en ek voel of ek haar oopmond kan soen.
Dit was 'n maand en 'n half terug en ek is vandag 8 weke swanger. Ek lyk glad nie soos Angelina (of Amor of Patricia) nie en het ook intussen uitgevind die 'positiewe gloei' waarvan ek so baie gehoor het is eintlik maar net olie wat jou vel afskei as gevolg van al die hormone. Great, my borste is 'n kortkoppie kleiner as Pamela Anderson s'n en ek blink! Ek lyk soos die vetgemaakte koei. Die reuk van rooivleis stuur rillings deur my lyf en ek gaan slaap elke aand 18h00. Maar in daai paar minute voor my lyf homself aan die nag oorgee, verbeel ek my ek kan 'n tweede hartklop voel...
1 comment:
Baie geluk Hanli!! Ek is saammet jou baie opgewonde!
Groete, Liezl (woordeaand)
Post a Comment