Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Tuesday, June 17, 2008

Ou vriende en die land van silwer mis

Magoebaskloof is geleë aan die Noordelike punt van die Drakensberge in die Limpopo provinsie en word gereeld verwys as 'die land van silwer mis.' Dit was dan ook in hierdie prentjiemooi area waar ek my onlangs bevind het saam met 'n paar ou skoolvriende.

Ons - dit is nou my skoolvriendinne en ek - het vir die laaste drie jaar al 'n staande jaarlikse afspraak. Ons reël om oor 'n langnaweek êrens in die land te ontmoet en dan op te vang. Natuurlik gaan ons beter helftes saam, maar hulle slaan gewoonlik op die vlug met die eerste aanduiding van enige iets wat na 'n 'diep' gesprek lyk (en glo my daar is redelik baie.) Gewoonlik vlug hulle na die naaste golfbaan, of soos hierdie jaar, na die naaste viswater.


Vlieghengel is baie gewild in die kloof en een van my vriendinne se mans, Tiaan, is 'n redelike fanatikus. Hy het dan ook die ou takie op homself geneem om van die ander drie manne kranige vlieghengelaars te maak. Nou wat ek (of my man of enige van my ander vriendinne se mans) van vlieghengel af weet is gevaarlik. Ek en my vriendinne is dit egter eens dat dit glad nie sleg gelyk het toe Brad Pitt dit in A River Runs Through It gedoen het nie. Brad het dit egter makliker laat lyk as wat dit werklik is, soos Brad nou maar doen, want na die derde aand het ons manne met geen vis en seer skouers gesit. En soos Tiaan met reg gesê het, as jou skouer seer is, doen jy dit verkeerd.


Maar so vermaaklik soos hulle ook nou kan wees, is hierdie naweek nie vir die manne nie. Min mense bly vriende met die mense saam met wie hulle op skool was. Meeste mense ontmoet hulle lewensvriende eers na skool, wanneer hulle hulself nou gevind het en so aan. Ek is een van daai gelukkige mense wat die grootste gedeelte van my vriende al my lewe lank saam met my dra. Die meeste van hulle het saam met my groot geword, dwarsdeur van my eerste verjaarsdag tot nou. Hulle weet byvoorbeeld wie my eerste soen was, van al my swak haarstyl keuses en my kortstondige dog passievolle rebellie. Dit is dus vir my onmoontlik om 'n jaar te laat verbygaan sonder dat hulle deel was daarvan.
En in hierdie kloof kan jy goed opvang. Die stiltes maak jou rustig en laat jou toe om jou siel oop te gooi. Jy onthou weer van dinge wat jy amper al vergeet het en lag weer uit jou maag. In die koue aande om die kaggel voel jy asof niks meer geheim is nie en jy deel jou diepste seer. En niks maak 'n ou seerplek so heel soos 'n lekker huil saam met mense wat jou hart ken nie. Min plekke is in elk geval so veilig soos die in die harte van jou susters.

Ek ag myself gelukkig om so 'n mooi stukkie aarde te kon deel saam met mense vir wie ek lief is. Nog 'n prentjie van my mooi land en sy mooier mense wat ek kan gaan liaseer onder goeie herhinderinge. Ek kan nie wag vir die volgende keer nie.

No comments: