Ek het 'n drang na rebelsheid. Daai goth-chick met die oorring deur haar neus en 'n tattoo van Elvis op haar linker bo-arm hier binne my, is besig om amok te saai. Ek neem aan dit het iets te doen met die feit dat ek amper 7 maande swanger is, en die besef dat die lewe soos ek dit tot nou toe geken is, amptelik verby is.
Miskien as ek een van daardie vrouens was wat geblom het tydens hulle swangerskap, sou dit dalk makliker gewees het. Jy weet, die Angelina tipe wat met 'n tweeling kan rondloop en nog steeds lyk soos 'n Griekse godin. Nee, ek blom nie. Die enigste glans wat ek afgee is die olie wat my vel uitskei van al die hormone. My neus is permanent toe en ek begin 'n effense swelling om my enkels optel. En om iets te kry om aan te trek vir 'n troue is hoogs onmoontlik want die swanger klere reekse lyk almal of jy op 'n staptoer moet gaan. Asof hulle aanneem omdat jy nie drink nie, sal jy seker nie wil uitgaan nie.
Maar terug by my rebelsheid. Ek is ernstig in die bui vir een laaste wilde aand. Ek wil my stywe jeans en my lae hals toppie aantrek, êrens gaan waar ek op die tafel kan dans en 'n paar shooters kan afgooi. En dan in die vroeë oggend ure wil ek iets onvanpas doen soos skinny dip in Bloubergstrand se ysige see of 'n tattoo van 'n goudvis op my linkerboud kry.
Maar siende dat ek nie my ongebore kind wil skend vir die res van haar lewe nie (en dat ek na 21h00 in die aande omval van moegheid) sal ek maar moet gaan vir die tweede beste - 3 bakke roomys met sjokolade sous, ronddans (in my kamer) in my onderklere op maat van Enrique en 'n lang, warm skuimbad. Ons kan more weer oorslaan na groente en Barok, want kom ons wees eerlik, dit is my kind en dit sal baie meer as barok vat vir haar om heeltemal normaal te wees.
No comments:
Post a Comment