Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, September 25, 2008

10 Voordele van swangerskap

It sometimes happens, even in the best of families, that a baby is born. This is not necessarily cause for alarm. The important thing is to keep your wits about you and borrow some money. - Elinor Goulding Smith -

Aanvanklik wou ek 'n artikel doen oor die nadele van swangerskap, totdat ek besef het dat dit eerder die vorm van 'n manuskrip sal aanneem. Dus het ek myself maar beperk tot die voordele van swangerskap. Let wel; ek is tans in my laaste 6 weke van swangerskap, so om enige voordele op te spoor is nie 'n maklike taak nie. Hiermee my top (miskien enigste) tien.
  1. Jy is deel van die mooiste wonderwerk op aarde.
  2. Wortelkoek en roomys met sjokolade sous is aanvaarbare vorms van ontbyt, middag- en aandete.
  3. 100% clevage 100% van die tyd.
  4. Crocs is 'n modebykomstigheid. Jy kan basies met jou pantoffels gaan inkopies doen en mense sal nie snaaks na jou kyk nie.
  5. Goedkoop dronk word is op die horison. Na 9 maande van geen alkohol, keer jou liggaam weer terug na die toleransievlak wat jy laas in die eerste week van jou eerstejaar op universiteit gehad het - 2 Glase rooiwyn en jy giggel soos 'n 10 jarige in 'n seksvoorligtingklas.
  6. Jy weet jy is vrugbaar - al die vroue dele is in werkende toestand en jou breë heupe het uiteindelik 'n doel.
  7. Jy het 'n permanente verskoning vir 'n voet massering. Om 'n gewillige masseerder te kry is 'n bietjie moeiliker, maar Pappa se kredietkaart by 'n spa behoort dieselfde uitwerking te hê.
  8. Jy kan huil enige tyd enige plek en oor enige iets sonder om 'n (goeie) rede te hê. Om byvoorbeeld in trane uit te bars oor die naaste vending machine nie meer kit-kats het nie, is heeltemal aanvaarbaar.
  9. Babybrain is 'n fantastiese verskoning - jy hoef niks meer te onthou nie. Ek het al byvoorbeeld my eie naam vergeet, my huisadres en my geboortedatum. Ek het selfs eendag vergeet dat ek swanger is en het myself boeglam geskrik toe ek verby 'n spieël loop.
  10. Jou broeke het rekke aan die bokant. Daar is dus geen aanduiding of konstante herhindering dat die omtrek van jou heupe vergroot nie. (En siende dat jy dit nou moes koop vir swangerskap, kan jy dit net sowel na die tyd ook dra.)

Nou as dit motivering is nie, weet ek nie wat sal wees nie. Moet my net nie vra oor die nadele nie, ek belowe jou jy het nie daai tipe tyd nie.

Monday, September 22, 2008

Pandora se doos


Ek het twee skoendose vol nostalgie wat ek by my ma se huis wegsteek met onder andere ou vrybriewe, liefdesgediggies, 'n dagboek en fotos. Op 'n onlangse besoek het my ma my aangemoedig om tog maar van die goed ontslae te raak. Miskien sal dit tog beter wees as daar geen tekens meer van my jeug oorbly nie, reken ek toe, want dan is daar geen bewyse teen my as daar eendag vir my dogter gesê word "jy aard so reg na jou ma" nie. (Die gebed hang egter nog steeds in die lug dat sy liewer maar na haar pa moet aard, maar mens kan seker nie te versigtig wees nie.)

Ek het meestal al vergeet wat ek presies in die dose begrawe het, maar het redelik iets in die lyn van Pandora verwag. Miskien moet daar ook net genoem word dat dit in die era voor sms'e, mxit en email was - ons het nog briewe met die hand geskryf op lyntjie papier. En daar is woorde soos 'vir ewig' en 'met my hele hart' gebruik, nie dat mens op 16 jarige ouderdom seker 'n benul het wat hierdie woorde presies behels nie, maar daar staan dit swart (of blou of borrelgom pienk) op wit. Kompleet met kruisies en hartjies aan die einde. Daar is selfs een of twee skatte met aftershave bespuit (nie dat jy dit nog kan ruik nie, maar ek neem aan dit is wat die bruin vlekke op sommige van die briewe verteenwoordig. Of altans ek hoop so, want die alternatief kan nie te aangenaam wees nie...)

Ek het ook al vergeet hoeveel seerkry ek daar gebêre het. Nie net myne nie, maar ook ander mense s'n as gevolg van my. (Mag ek asseblief van die geleentheid gebruik maak om nederig om verskoning te vra vir my onkunde. Ek is seker dit is lankal vergete, maar dit sal my beter laat slaap vanaand.) Spoortjies van my traanmerke wat van die woorde bietjie gesmudge het is tog 'n bewys dat ek nie heeltemal harteloos was nie.

Maar die ware skatte en gedrogte is die van die briewe wat ek nie kan onthou nie. Ek het al gehoor van mense wat die herhinderinge aan slegte gebeure so onderdruk dat hulle dit glad nie kan onthou nie. Ek neem aan die volgende kan as sulke gevalle geklassifiseer word;

In een brief word daar melding gemaak van my kortstondige en redelik katastrofiese modellooppaan (die aangehegte foto is van die model op 16.) Om sielkundige skade te beperk sal ek nie hierop uitbrei nie, maar kan jy jouself indink watter absolute noodlottige gevolge dit vir my selfbeeld sou inhou indien ek sou besluit het om wel my innerlike Mej. Suid-Afrika na te streef?

Verder is daar so twee briewe (liefdesbriewe nogal) van mense wat ek glad nie kan onthou nie. Ek het tot my vriendin Tersia (wat gewoonlik 'n in-diepte verslag van elke man wat my pad gekruis het, gekry het) gebel en selfs sy kan hulle nie onthou nie. Ek probeer om myself nie te veel hieroor te bekommer nie, want ek is seker hulle is nie een van 'die wat weggekom het nie' maar ek wonder tog wat dit van my sê? Dit laat my egter tog maar weer net so 'n vinnige gebedjie doen dat Lisa tog maar na haar pa sal aard, net vir ingeval.
PS. Net vir die rekord, ek kon dit toe nie oor my hart kry om enige van Pandora se ongediertes te vernietig nie. Net te veel nostalgie om op een dag op te gee.


Wednesday, September 3, 2008

Gesigte, drome name



My suster Carla het 'n hart so rein soos 'n gebed. Ek dink dit is hoekom mense altyd aangetrokke is tot haar, sy bedoel altyd goed. Sy is ook 'n baie goeie vriendin, en dit is dan ook een van die redes hoekom sy baie vriende het. Sy het ook onder andere meer bekende vriende, maar praat altyd van hulle asof hulle normale mense is. Sy sal byvoorbeeld nie na iemand verwys as Pietie wat in Binnelanders speel nie, maar bloot net na Pietie.

Hierdie mag dalk na 'n noemenswaardig goeie eienskap klink (en dit is,) maar het my al menigte kere in die verleentheid gebring. Ek dink aan een spesifieke gebeurtenis toe Carla nog in Pretoria gewoon het en ek in die Kaap. Sy het my laat weet sy stuur vir my 'n pakkie saam met haar vriend, Ivan, wat ek dan nou net by hom moet gaan oplaai in Melkbosstrand. Maklik genoeg.

Gedurende 'n baie deurmekaar Saterdag middag bel ek toe vir vriend Ivan sodat ons bymekaar kan uitkom. My vriendin Irene is toevallig by my in die motor. By die plek opgedaag kom Ivan na my toe aangestap en iets aan die man lyk vir my bekend. Ek stel myself en Irene voor en begin toe maar small talk maak, soos daar seker van die situasie verwag word.

"Ek ken jou," sê ek ewe, "jy't nie dalk op Stellenbosch geswot nie?" Ek kan voel hoe Irene bloos.

"Nee," sê Ivan heel beskeie, "maar ek kom baie in Durbanville, miskien het ons mekaar al daar raakgeloop."

"Nee," se ek (ek is soos 'n hond wat 'n bus jaag) ek gaan nie baie uit nie (en bleikbaar het ek ook nie 'n sosiale lewe nie) "is jy seker jy het nie dalk baie op Stellenbosch gekuier nie."

"Nee," sê hy weer, "miskien was dit tog maar in Durbanville."

"Ja, miskien." gee ek toe maar in.

Irene sit op hierdie stadium reeds in die motor en ek is seker as sy eerder in die kattebak kon inklim sou sy. Toe Ivan ons innooi vir tee, moes ek hom egter vriendelik van die hand wys, aangesien my vriendin op daardie stadium reeds die motor aangeskakel het. (Sy sal 'n goeie opsie wees om die getaway car te bestuur indien ons ooit daaraan sou dink om 'n bank te beroof.)

Toe ons om die eerste draai ry sê ek weer, eintlik so half vir myself "ek is seker ek ken die ou." Dit is toe dat Irene se damwal breek en sy begin lag tot die trane by haar oë uitloop. Al wat sy na seker 3 minute uitkry is slegs die woorde " dis Koert, van Egoli."

(Die foto bo-aan is van Ivan, oftewel Koert, en my suster. Die isident het al 'n paar jaar terug plaasgevind, maar ek wil net nog steeds sê hats off aan Ivan, jy's meer beskeie as wat mens sou verwag en ek is nie altyd so deur die weer nie. Alhoewel ek nog steeds dink jou dubbel het op Stellenbosch geswot...)