Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, September 3, 2008

Gesigte, drome name



My suster Carla het 'n hart so rein soos 'n gebed. Ek dink dit is hoekom mense altyd aangetrokke is tot haar, sy bedoel altyd goed. Sy is ook 'n baie goeie vriendin, en dit is dan ook een van die redes hoekom sy baie vriende het. Sy het ook onder andere meer bekende vriende, maar praat altyd van hulle asof hulle normale mense is. Sy sal byvoorbeeld nie na iemand verwys as Pietie wat in Binnelanders speel nie, maar bloot net na Pietie.

Hierdie mag dalk na 'n noemenswaardig goeie eienskap klink (en dit is,) maar het my al menigte kere in die verleentheid gebring. Ek dink aan een spesifieke gebeurtenis toe Carla nog in Pretoria gewoon het en ek in die Kaap. Sy het my laat weet sy stuur vir my 'n pakkie saam met haar vriend, Ivan, wat ek dan nou net by hom moet gaan oplaai in Melkbosstrand. Maklik genoeg.

Gedurende 'n baie deurmekaar Saterdag middag bel ek toe vir vriend Ivan sodat ons bymekaar kan uitkom. My vriendin Irene is toevallig by my in die motor. By die plek opgedaag kom Ivan na my toe aangestap en iets aan die man lyk vir my bekend. Ek stel myself en Irene voor en begin toe maar small talk maak, soos daar seker van die situasie verwag word.

"Ek ken jou," sê ek ewe, "jy't nie dalk op Stellenbosch geswot nie?" Ek kan voel hoe Irene bloos.

"Nee," sê Ivan heel beskeie, "maar ek kom baie in Durbanville, miskien het ons mekaar al daar raakgeloop."

"Nee," se ek (ek is soos 'n hond wat 'n bus jaag) ek gaan nie baie uit nie (en bleikbaar het ek ook nie 'n sosiale lewe nie) "is jy seker jy het nie dalk baie op Stellenbosch gekuier nie."

"Nee," sê hy weer, "miskien was dit tog maar in Durbanville."

"Ja, miskien." gee ek toe maar in.

Irene sit op hierdie stadium reeds in die motor en ek is seker as sy eerder in die kattebak kon inklim sou sy. Toe Ivan ons innooi vir tee, moes ek hom egter vriendelik van die hand wys, aangesien my vriendin op daardie stadium reeds die motor aangeskakel het. (Sy sal 'n goeie opsie wees om die getaway car te bestuur indien ons ooit daaraan sou dink om 'n bank te beroof.)

Toe ons om die eerste draai ry sê ek weer, eintlik so half vir myself "ek is seker ek ken die ou." Dit is toe dat Irene se damwal breek en sy begin lag tot die trane by haar oë uitloop. Al wat sy na seker 3 minute uitkry is slegs die woorde " dis Koert, van Egoli."

(Die foto bo-aan is van Ivan, oftewel Koert, en my suster. Die isident het al 'n paar jaar terug plaasgevind, maar ek wil net nog steeds sê hats off aan Ivan, jy's meer beskeie as wat mens sou verwag en ek is nie altyd so deur die weer nie. Alhoewel ek nog steeds dink jou dubbel het op Stellenbosch geswot...)



No comments: