Ek het twee skoendose vol nostalgie wat ek by my ma se huis wegsteek met onder andere ou vrybriewe, liefdesgediggies, 'n dagboek en fotos. Op 'n onlangse besoek het my ma my aangemoedig om tog maar van die goed ontslae te raak. Miskien sal dit tog beter wees as daar geen tekens meer van my jeug oorbly nie, reken ek toe, want dan is daar geen bewyse teen my as daar eendag vir my dogter gesê word "jy aard so reg na jou ma" nie. (Die gebed hang egter nog steeds in die lug dat sy liewer maar na haar pa moet aard, maar mens kan seker nie te versigtig wees nie.)
Ek het meestal al vergeet wat ek presies in die dose begrawe het, maar het redelik iets in die lyn van Pandora verwag. Miskien moet daar ook net genoem word dat dit in die era voor sms'e, mxit en email was - ons het nog briewe met die hand geskryf op lyntjie papier. En daar is woorde soos 'vir ewig' en 'met my hele hart' gebruik, nie dat mens op 16 jarige ouderdom seker 'n benul het wat hierdie woorde presies behels nie, maar daar staan dit swart (of blou of borrelgom pienk) op wit. Kompleet met kruisies en hartjies aan die einde. Daar is selfs een of twee skatte met aftershave bespuit (nie dat jy dit nog kan ruik nie, maar ek neem aan dit is wat die bruin vlekke op sommige van die briewe verteenwoordig. Of altans ek hoop so, want die alternatief kan nie te aangenaam wees nie...)
Ek het ook al vergeet hoeveel seerkry ek daar gebêre het. Nie net myne nie, maar ook ander mense s'n as gevolg van my. (Mag ek asseblief van die geleentheid gebruik maak om nederig om verskoning te vra vir my onkunde. Ek is seker dit is lankal vergete, maar dit sal my beter laat slaap vanaand.) Spoortjies van my traanmerke wat van die woorde bietjie gesmudge het is tog 'n bewys dat ek nie heeltemal harteloos was nie.
Maar die ware skatte en gedrogte is die van die briewe wat ek nie kan onthou nie. Ek het al gehoor van mense wat die herhinderinge aan slegte gebeure so onderdruk dat hulle dit glad nie kan onthou nie. Ek neem aan die volgende kan as sulke gevalle geklassifiseer word;
In een brief word daar melding gemaak van my kortstondige en redelik katastrofiese modellooppaan (die aangehegte foto is van die model op 16.) Om sielkundige skade te beperk sal ek nie hierop uitbrei nie, maar kan jy jouself indink watter absolute noodlottige gevolge dit vir my selfbeeld sou inhou indien ek sou besluit het om wel my innerlike Mej. Suid-Afrika na te streef?
Verder is daar so twee briewe (liefdesbriewe nogal) van mense wat ek glad nie kan onthou nie. Ek het tot my vriendin Tersia (wat gewoonlik 'n in-diepte verslag van elke man wat my pad gekruis het, gekry het) gebel en selfs sy kan hulle nie onthou nie. Ek probeer om myself nie te veel hieroor te bekommer nie, want ek is seker hulle is nie een van 'die wat weggekom het nie' maar ek wonder tog wat dit van my sê? Dit laat my egter tog maar weer net so 'n vinnige gebedjie doen dat Lisa tog maar na haar pa sal aard, net vir ingeval.
PS. Net vir die rekord, ek kon dit toe nie oor my hart kry om enige van Pandora se ongediertes te vernietig nie. Net te veel nostalgie om op een dag op te gee.
No comments:
Post a Comment