Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Monday, November 30, 2009

Kroeë en bokkoppe

  1. Ons is op soek na 'n nuwe huis. Nie dat ons huis nou al heeltemal verkoop is nie, maar ons is ten minste optimisties. Ons was gister weer van skouhuis tot skouhuis en ek sal jou nie eers verveel met die belaglike pryse wat mense deesdae vir gehuggies vra nie. Ons het nog op niks afgekom wat regtig die ligte laat aangaan nie, maar ek het wel gesien wat ek nie wil hê nie;

'n Kroeg. Miskien is dit die feit dat ek in 'n plek soos Vryburg grootgeword het waar mans altyd om die kroeg gesit het en die vrouens in die sitkamer. Ek haat 'n kroeg in 'n huis. Ek kan om die dood nie dink hoekom 'n mens jou drank so wil uitstal vir die wêreld om te sien nie. Jy kan net sowel 'n groot kennisgewingbord daar laat opsit: 'HIER DRINK ONS.' As my man die dag besluit hy wil 'n kroeg hê, sal hy vir hom 'n buitekamer vir die doel moet aanbou. En die ruite laat 'tint' dat mens nie van buite af kan insien nie.

Bokkoppe teen die muur. Daar is min dinge wat my so ontsenu soos dooie diere teen 'n muur. As dit dan moet, hang maar 'n foto op waar jy met jou bebloede gesig en wapen kniel langs die lewelose dier, maar moet net nie die goed opstop en teen 'n muur hang nie. Ons is nie Amerikaners nie. Ons bly in Afrika en jag is nou maar net een van daai dinge wat ons in die winter doen wanneer Hartenbos te koud is. Moenie maak of jy niks gewoond is nie. Hierdie een sal ek nie eers toelaat in die buitekamer met sy getinte ruite nie.

'Jacuzzis' Moet asseblief nie dink jy bederf my met 'n borrelbad in 'n huis nie. Tensy dit in die hoofslaapkamer se 'en-suite' is en jy weet dis vir privaat gebruik. Ek praat van daai borrelbaddens wat langs die kroeg staan of in die tuin. Daai een wat jy weet al 'n paar onsedelike dade in sy leeftyd gesien het. Daai wat altyd so 'n olie lagie bo-op het na 'n partytjie. Ek probeer dink wanneer dit mode was; moes gewees het tydens een of ander dwelm fase soos die sewentigs en tagtigs.

Daar is nog 'n paar, maar ek sal eerder nou ophou, want netnou dink julle ek is vol nonsens (en ek is so nie.) Daar is egter hierdie laaste twee wat ek van my hart af sal moet kry; mense wat hulle voortuin plavei omdat hulle nie gras wil sny nie en huise wat toegerank is (ek kan net dink hoeveel spinnekop en slangfamilies lê en wag dat jy 'n venster moet oopmaak.)

1 comment:

Sunee said...

Ek stem heelhartig saam met alles!