Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Wednesday, February 6, 2008

Bloed en water

'n Joodse vriend van my het eenkeer aan my vertel dat jy slegs natuurlik 'n Jood kan wees as jou ma 'n Jood was. Want, het hy gesê, jy kan altyd met sekerheid sê wie jou ma is. Of dit waar is, weet ek nie, maar dit is seker die een ding wat jy met sekerheid kan weet. Asook wie jou broers en susters is aangesien hulle dan ook uit dieselfde ma gekom het. Daar is baie argumente oor die dikte van bloed teen water en meestal stem ek daarmee saam.

Ek en my suster, Carla, verskil 3 jaar en hemelsbreed. Ek vind dit goed dat ons op soveel gebiede verskil, want dit het nog altyd gemaak dat ons nie met mekaar kon kompeteer nie - al wou ons; sy was eenvoudig net te vinnig en gelukkig ek te slim. Ons het ook nooit dieselfde smaak in mans gehad nie (goed dan, daar was een, maar nie genoeg vuurwerke om behoorlik uit te lig nie.) Carla het van haar mans mooi, goed gebou en sportief gehou en ek het 'n kunstenaar-digter gesoek wat my teken terwyl ek slaap en oor naweke fietsry (ok, ek was jonk en naïef.) Daar was dus nooit behoorlike 'catfights' nie. Ons het wel so af en toe baklei oor klere en skoene en daar was die een keer wat sy seker was ek haar vis vermoor het, (wat ek nie het nie) maar verder het ons in redelike harmonie saam grootgeword en is ons vandag min of meer onafskeidbaar.


Die een ding wat ons deel en wat altyd vir groot vermaak in ons huishouding sorg, is ons 'onthou jy' stories. Die stories wat ons deel omdat ons altwee daar was, in dieselfde huis, in dieselfde situasie, met dieselfde disfunksionele familie.

Onthou jy die aand wat Boeta in die nag na ma-hulle se kamer gegaan het omdat hy bang was en toe begin ma vir hom blaf? (Sy het bleikbaar 'n droom oor 'n hond gehad terwyl hy haar probeer wakker maak het.) Ek weet nie wie groter geskrik het van Boeta en Pa nie.

Onthou jy hoe het ons altyd in die stofpad op die plaas jou atletiek geoefen. Aan die begin was ons min of meer gelyk, maar hier na die einde toe moes ek elke jaar 10meter verder voor jou wegspring om vir jou ten minste kompetisie te wees.

Onthou jy nog die groen Ford wat elke tweede Maandag oppad skool toe uitmekaar geval het. Daar was altyd so 'n krap geluid teen die teer, dan het Ma gestop, haar kop onder die kar ingegooi, opgekom en die deur toegeklap en gesê "ja-nee die exhaust sleep alweer op die grond."

Onthou jy nog die keer toe Boeta jou dagboek aan jou eks boyfriend verkoop het vir R10. Jy was briesend en Pa het gereken dis die beste teken van entrepeneurskap wat enige een nog in die familie gewys het.

Daar is min mense in hierdie wêreld wat presies weet waar jy vandaan kom, waardeur jy gegaan het en hoekom jy is soos jy is, soos 'n suster. En wat is nou lekkerder as 'n bymekaarkom van susters, broers, niggies en nefies wat onthou jy stories van die familie begin uitruil. En hopelik sal my suster altyd naby genoeg wees om my te kan herhinder wie ek is as die wêreld my laat vergeet.

No comments: