Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, February 22, 2008

In die skadu van 30

Wizdom doesn't automatically come with old age. Nothing does - except wrinkles. It's true, some wines improve with age. But only if the grapes were good in the first place.

- Abigail Van Buren -

Ek het nou onlangs die laaste jaar van my twintigs betree en beweeg nou aan die skadukant van 30. Alhoewel daar baie goeie dinge met ouderdom kom, (soos genoeg geld om te vlieg in plaas van Interkaap te ry) het ek besef dat daar wel 'n paar dinge is wat ek in my jeug-boksie sal moet pak, en onder my bed inskuif. Die volgende is 'n paar van die dinge wat ek defnitief sal moet groet op my 30ste verjaarsdag.

As ek aan saamslaap op 'n enkelbed dink, kry my arm outomaties daai lam naalde en spelde gevoel. Ek is seker daar was iets vreeslik aanlokliks daaran om mekaar se liggaamsdele in spasmas in te lê, maar ek kan nie nou dink wat dit kon wees nie. As ek slaap soek ek my spasie, my linker en regter voet moet so vêr moontlik van mekaar versprei wees en daar moet genoeg kombers wees vir altwee kante. Ek is nou gelukkig mooi groot en hoef nie meer te deel nie.

Bier (en ander alkoholiese) specials. Op universiteit het ek selde 'n bierspecial misgeloop (ek het selde enige special misgeloop.) R10 vir 5 biere mag dalk nou nog vir my soos 'n winskoop lyk, maar het heeltemal sy aantrekkingskrag verloor. Ek voel in elk geval soos 'n warm lugballon na 2 biere en goedkoop wyn gee my kopseer. En ek praat nie van daai kopsere wat jy vinnig regsien met 2 panados en McDonald's masjien-coke nie. Ek onthou daar was altyd 'n special by die naaste bottelstoor op hulle My kinda reeks - van My Kinda Vodka dwarsdeur tot by My kinda Brandy. My kinda se ma is al wat ek kan sê.

Sekere strategiese kledingstukke sal ook moet gaan, byvoorbeeld my orgasm donor T-shirt en daai nommer 32 Soviet jeans wat ek nou al vir 5 jaar op ys hou. Ek het nou al vrede gemaak dat my heupe nooit weer na hulle oorspronklike vorm sal terugkeur nie en dat geen mense ouer as 28 enige kledingstukke met seksuele boodskappe op moet dra nie - dit maak net die kinders deurmekaar. Ski-pants sal ek ook nooit weer in die openbaar kan dra nie, maak nie saak hoeveel denim rompies ek bo-oor aantrek nie. Daar is in elk geval geen manier dat my ouderdom ooit weer enige denim kledingstukke bo die knie sal toelaat nie.

Die dae van McDonald's vir ontbyt het ook die spit gedelf. En ek praat nie van hulle eier McMuffins nie, ek praat van Quaterpounder Deluxe met ekstra mayo en 'n vanilla milkshake. (Net die gedagte daaraan laat my gryp na 'n Rennie.) Hoe ek in elk geval dit gebruik het om die brand in my maag te blus, gaan my verstand te bowe. Deesdae is al wat werk twee slukke Gaviscon en yoghurt en ek kan in elk geval niks eet voor 10h00 nie - geen interne stelsel werk al so vroeg in die oggend nie.

My aande van tot 3uur die oggend kuier en nog die volgende dag gaan werk is seker ook verby. Nie dat ek kla nie, was gelukkig nog altyd baie lief vir my slaap. Maar soos ek die vergaan van my jeug en my liggaam moet deurwerk, kan ek seker vashou aan een ding: my seksuele peak is bleikbaar eers op 40...

No comments: