Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, February 7, 2008

Skipskop

Elke keer wanneer die gesprekke oor immigrasie in my vriendekring vlamvat, begin Sonja Heroldt hier agter in my kop sing; "Skipskop, Skipskop, sit jou goedjies op jou kop. More gaan ons weg, vêr van hier weg. Skipskop, Skipskop wanneer hou die dinge op. Swaarkry lê net voor die Blouberge oor..." En die een ding van Sonja is, as daai heuningsoet stemmetjie eers in my kop begin het, moet ek eers al haar treffers deurwerk - van byeboerwa tot die harlekyn met sy wyn. Dit vat dan gewoonlik ook 'n paar glase wyn om haar weer daar uit te kry.

Die hele ons-sit-in-die-donker, ry-jy-of-bly-jy gesprek het my nou al so in vervoering, ek het waarlik gisteraand gedroom ek is oppad Australië toe. Daar sit ek in die vliegtuig kompleet met my black labour T-shirt en my multikleurige gesigverf (vir ingeval jy slegs geel en groen in Aussie kry.) Die man langs my spreek my aan as mate en wys vir my 'n foto van sy skapie in sy beursie. Ek word toe in 'n greep van koue sweet wakker en loop al heeldag met hierdie hol kol rond.

My vriende sal vir jou vertel ek is nie veel van 'n syfer mens nie, so die hele binnewerkinge van die ekonomie los my gewoonlik redelik koud en effens verward. Ek neem egter aan dit vat nie 'n doktorsgraad in Bedryfsekonomie of Politieke Wetenskap om te sien dinge gaan nie heeltemal klopdisselboom nie. Skaars twee jaar terug het almal nuwe huise, groot motors en espresso masjiene en flat screen TV's gekoop. Nou maak die huispaaiemente ons dood, jy kan nie petrol vir jou motor of koffie vir die masjien bekostig nie, en jy het 'n maand laas Egoli gekyk, want die krag is elke aand tussen 17h00 en 22h00 af. (Aan die positiewe kant, egter, het die verhouding met jou beter helfte nuwe vlam gevat siende dit elke aand 'n kerslig en tjoppies braai aand is.) Die volgende president se gunsteling liedjie het bleikbaar iets te make met masjien gewere en my volk voel onwelkom en leierloos (De LaRey is ongelukkig oorlede en Helen Zille sit in die Kaap.)


Die vraag is wanneer is dit tyd om te gaan? Tot wanneer moet ek bly en probeer veg vir wat myne is en wanneer moet ek die streep in die sand trek en gat skoonmaak? Seker nie maklike vrae nie en siende dat ek ook nie vir ewig jonk genoeg gaan wees om vir 'n ander land soos 'n aanwins te lyk nie, moet ek probeer om 'n maatstaf vir myself te stel. Die volgende is die beste waarmee ek (vir nou) kon opkom;


Solank die woorde "Uit die blou van onse hemel" nog deel is van die volkslied en jy die HAT by Exclusive Books kan koop. Tot dan sal ek bly, maar nie 'n dag langer nie...


Nou moet ek egter eers Johannes Kerkorrel se Halala Afrika of Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufort Wes gaan luister vir perspektief, want ek het sopas vir die derde keer Skipskop in my kop begin...

No comments: