Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Saturday, March 8, 2008

Lewenslesse

Most things break, including hearts. The lessons of life amount not to wisdom, but to scar tissue and callus.
- Wallace Stegner -

Terwyl ek nou onlangs begin het om op die onderwerp van ouderdom te dwaal, het ek gaan sit en dink oor die dinge wat ek in my lewe geleer het. Die dinge wat dalk vir jou kan sin maak of dalk net vir jou help om sin uit my te maak...

Vuur brand.

Alles wat jy van Stellenbosch gehoor het, is waar.

Ouderdom en wysheid is nie noodwendig iets wat hand aan hand loop nie. Die wysste man wat ek geken het was op daardie stadium 23 en die grootste idioot 55. Luiste na mense wat met jou hart praat en woorde gebruik wat jy kan verstaan.

Geld kan nie liefde koop nie. Dit kan wel die idee van liefde vir 'n ruk lank amuseer.

Hê baie lief. Moenie jou hart toemaak op 'n jong ouderdom nie en wag lank voor jy trou. Jy leer so baie van sterkwees en wie jy werklik is tydens (mislukte) verhoudings dat jy 'n groot deel van jouself sal verloor indien jy te vroeg al jouself vir ewig vir iemand gee.

Hou altyd 'n plekkie in jou hart oor vir die liefde wat jy verloor het. Dit sal maak dat jy waardeer wat jy het en wie geword het.

As jy hartseer is huil. Hard en aanhoudend. En doen dit naby iemand wat lief is vir jou, sodat jy die nodige troos kan kry. Alleen huil is vir die voëls.

Moet nooit spyt wees oor jou verlede nie. Al die gebeure in jou lewe slyp jou tot jy die mens is wat jy moet wees. As enige iemand nie kan saamleef met dit wat in jou verlede gebeur het nie, hoort hulle in elk geval nie in jou lewe nie.

'n Luiperd verander nooit van kolle nie en 'n jakkals se streke bly dieselfde. Maak nie saak hoe graag jy dit wil glo nie of hoe hard jy probeer nie. As jy nie saam met die foute kan lewe nie, maak dat jy wegkom. En selfs al verander die jakkals van sy streke, sit jy nog steeds met 'n jakkals...

Moet nooit saam met iemand wees wat jou wil verander nie.

Moet nooit toelaat dat iemand se jaloesie jou gedrag bepaal nie.

Wees lief vir die ou mense in jou lewe, hulle lippe is gewoonlik baie nader aan God se oor.

Eet sous saam met alles.

Moet nooit jou steakmes aflek nie.

Bly weg van dwelms. Die lewe is te mooi en te kort om soveel van jou kosbare self te mors op iets so sinneloos.

Drink altyd goeie rooiwyn.

Geniet dit om jonk te wees.

Maar die grootste les wat ek ooit geleer het, is dat dit wat jou breek, jou nie kan heelmaak nie. As iets jou eers een keer gebreek het, sal dit jou aanhou breek totdat jy dit laat gaan.

No comments: