Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, August 28, 2008

In almal se huis is êrens 'n kraan wat bly drip

UB40 sing my wakker en ek is dadelik skeel beneuk. Die rede is tweeledig; eerstens UB40. Dat enige radiostasie nog UB40 kan speel, gaan my verstand te bowe, as jy dan nou moet reggae luister, (en jy't nie dreadlocks of dagga nie) luister dan maar eerder kwaliteit soos Bob Marley. En tweedens die wakker word; my man het skuins na 03:00 my wakker genies en ek kon nie weer slaap voor 05:00 nie. Dit, saam met die elke 2 ure opstaan om toilet toe te gaan, omdat daar amper 9kg op my blaas druk, beteken dat ek baie min slaap in my reeds moeë lyf het. Ek gooi amper vir UB40 van die bedkassie af en sleep my half aan die slaap lyf stort toe.

Op pad badkamer toe hoor ek 'n drip drip op die splinternuwe plafon en dis toe dat ek dit heeltemal verloor. Ok, nou moet ek eers verduidelik, my dak lek al van die begin van die winter af en ek bly in die Kaap en hier reën dit mos nie 'n bietjie nie. Ons het kwotasies gekry om die dak te laat reg maak, maar ek sou een van my niere moes verkoop om dit te kon bekostig, so intussen het ons net probeer om die skade te beperk deur 'n bietjie waterproofing aan te wend. Eers net plek-plek en toe dit nie werk nie, sommer die hele dak. Nodeloos om te sê as jy meet aan die drip-drip op die plafon, het dit ook nie gewerk nie. Jy wonder seker vanwaar my irritasie, want teen die tyd behoort ek seker nou al vrede te gemaak het met die stukkende dak. Jy sien, ek glo as 'n ding stukkend is, maak jy hom nie reg nie, jy koop 'n nuwe. My man glo mens maak hom reg. Ek het van die begin af gedink hierdie waterproofing idee is soos om 'n pleister op 'n oop wond te plak, maar net omdat ek eet vir twee, beteken bleikbaar nie ek kry twee stemme nie.

My vroeg oggend irritasie eindig toe egter nie by UB40 se gespartel en die water op die dak nie, nee, ek is gelukkig genoeg om twee staffies (wat aan ADD in die ergste graad lei) te hê wat heeltyd onder my voete beland. Neem asseblief in ag dat ek deesdae spog met koeëlronde sewe maande swanger pens en dat ek nie my voete kan raaksien as ek afkyk nie. Met die gevolg dat ek heeltyd oor die honde val, omdat ek hulle nie raaksien nie. Ek besef dat mens die ware karakter van 'n persoon kan aflei deur te kyk hoe hy gekoekte kersliggies en sy mindere hanteer, maar sal dit tel as 'n hormonale, van balans af, slaap ontneemde, sewe maande swanger vrou 'n staffie spoorloos laat verwyn?

Op pad werk toe vererg ek my liggies vir die narre wat dink hulle kan bestuur, maar dit is vir my 'n daaglikse verskynsel en ek steur my nie veel daaraan nie. By die rooi robot langs die kerk se muur sien ek 'n man sit in die reën onder sy swartsak; sy bed langs hom opgerol. En ek dink ja, Hanli, jy kla oor 'n dak wat lek, maar ten minste het jy 'n dak. My dogter gee my 'n skop in my sy so asof sy dit beaam, ten minste behoort een van ons nog die gekoekte kersliggie toets deur te kom.

No comments: