Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Friday, July 3, 2009

'n Broertjie dood

Sekere dinge hou ek net nie van nie soos byvoorbeeld geel motors en ongemanierde kinders. Dan is daar dinge wat ek nie kan verdra nie. Hierdie is die goed wat onder my vel inklim en my aan die binnekant krap. Vir my is hierdie dinge so verregaande dat my mond elke keer oophang as dit gebeur en alles binne my skreeu; wat de f&%$ het jy gedink!!?? Aan die volgende het ek nie net een nie, maar 'n paar broertjies dood. (Dit is onder andere hierdie uitrdukking en die liedjie Siembamba wat my laat wonder oor ons voorvaders. Maar meer hieroor later.)

Honde wat in inkopie trollies rondgestoot word of in handsakke gedra word. Ek verstaan dit nie. Wil iemand dit nie asseblief vir my verduidelik nie? Enige iemand wat vir een oomblik dink dat dit natuurlik is vir 'n hond om in 'n handsak rondgedra te word moet hulp kry, dit sluit natuurlik die helfte van Hollywood in. Ek kan nie aan julle verduidelik wat dit aan my doen as ek besig is om inkopies te doen en voor my loop 'n tannie met haar trollie en wagter lê op sy kombersie reg langs die broodrolletjies nie. Watter gedeelte van die memo oor ons werk met kos hier, het jy nie gekry nie?

Mense wat stadig ry in die vinnige baan. Hou links gaan regs verby - hierdie padreël is nie vir jou gesondheid uitgedink nie - daar is 'n stadige baan vir 'n rede. As ek op die snelweg in die vinnige baan moet remme aanslaan omdat die nar voor my besluit het 80km per uur maak eenvoudig net meer sin as 120km per uur, dan verloor ek dit. Doen my 'n guns, gaan lees ten minste net deur die padreëls selfs al koop jy jou lisensie.

Mieliepap; slymerige meelmengsel met growwe stukke tussen-in. Het ek nodig om meer te sê? Hierdie is miskien nie heeltemal regverdig nie, want ek het in 'n koshuis grootgeword en was gedwing om mieliepap te eet. Die tafelhoof (wat 'n 13 jarige meisie was) het aan die tafel bly sit totdat ek my bak pap opgeëet het. Dit was altyd soos 'n episode uit fear factor - ek eet 'n lepel, walg, gooi bietjie in my mond op, eet nog 'n lepel, walg...jy kry die prentjie.

Klikkiebekke. Ek praat nie van Ma, boetjie trek my hare nie, ek praat van grootmens klikkiebekke. By my maatskappy is daar 'n paar individue wat oor alles HR toe hardloop. As iemand te hard praat of te hard lag of net nie genoeg glimlag nie dan word hulle by HR verkla. Verstaan my mooi, ek het nie probleme met goed soos seksuele teistering of onregverdige behandeling nie, maar die onsinnighede wat partykeer daar uitkom is belaglik. As mens 'n probleem het met iemand, staan jy op, loop tot by hom en sê vir hom reguit jy het 'n probleem. Ek is self meer 'n blommekind; ek maak eerder liefde as oorlog, maar daar is nie 'n groter lafaard as die een wat agter iemand anders moet wegkruip nie. Gaan maak jou eie oorlog of byt op jou tande.

Nou moet ek vir eers ophou, want net om aan hierdie dinge te dink irriteer my so dat ek nou skoon onsteld is. Tot my maag draai, maar dit kan ook dalk net wees as gevolg van herhindering aan mieliepap.

No comments: