Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Thursday, July 30, 2009

Soen my gou

Pardon my lips, they find pleasure in the most unusual places. - quote from the movie A good Year.

Ek is geseënd (sommige sal reken gestraf) met die gawe van droom. Ek droom elke aand van my lewe en elke droom is tot in die fynste detail; van reuke tot teksture ek kan alles sien, hoor en ruik. Dit is so werklik dat ek sommige oggende wakker word met 'n gevoel van verlies; asof ek 'n verhouding beeïndig het. My vriend Charl sê altyd, as ek hom so van my vorige aand se droom vertel, dat hy bly is hy hoef nie in my kop te bly nie, want dit moet 'n skrikkerige plek wees.

Gepraat van skrikkerig - gisteraand het ek gedroom van my standerd 8 kêrel, Jannie du Plooy. Die droom was nou nie regtig iets om oor te vertel nie, maar dit het my weer laat onthou hoe lekker hy gesoen het (en my 5 ander vriendinne waarmee hy uitgegaan het, sal vinnig saamstem.) Na Jannie was dit altyd 'n voorvereiste - hy moes kon lekker soen, as hy nie kon lekker soen nie, het ek aanbeweeg. Wat? Jy dink dis 'n bietjie oppervlakkig? Wel dink daaroor, ons almal het 'n voorvereiste wat vinnig bepaal of die verhouding kan aangaan of nie. En dan is daar die een ding wat jou so afsit, dat selfs sy lekker soen jou nie daaroor gaan laat kom nie. Myne is vuil, skurf elmboë, niks sit my meer af in 'n man as vuil elmboë nie. Of bakterieë freaks wat die jik uitruk as jy sy lepel afgelek het. My vriendin Lienka het altyd eers na die skoene gekyk - wit skoene was uit en vellies met rooi of groen veters was 'n groot nee. Tersia kon nie 'n man met stink asem uitstaan nie en my suster Carla verloor dit so bietjie met iemand wat heeltyd snuif.

Maar ek dwaal af, terug by die soen - my pa het altyd gesê daar is 2 dinge oor sy dogters waaroor hy nooit bekommerd sal wees nie; ons sal nooit anorexia kry nie en ons sal nooit gay wees nie, want, was sy redenasie, ons hou heeltemal te veel van kos en kêrels (nie noodwendig in daai volgorde nie.) En as ek daaroor moet bieg, ek is 'n vryer, ek is mal oor vry. Met elke nuwe verhouding het ek in die eerste week sulke fyn rofies op my ken gehad van al die vry.

Lisa het haar eerste rapport huis toe gebring - in die kommentaar gedeelte staan daar 'Dit is 'n plesier om Lisa in my klas te hê, sy is 'n liefdevolle en besige meisiekind.' My kind is 9 maande oud en word beskryf as liefdevol! Ek is bevrees dit is nou amptelik; ons het nog 'n vryer...

PS. Vir duidelikheid 'vry' in Hanli terme is alles bo die belt, maw soen en al die lekker goed wat daarmee gepaard gaan.

1 comment:

@wordnomad said...

Defnitief soen, dis reg bo aan die lys. Ek is ook 'n vryer! En wat my heeltemal afsit is as 'n ou meer moeite doen met sy grooming as ek. Keep it real, ne.