Ek is digter, suster, ma, vrou, vriendin, dogter, skrywer, lover, tuinier, wyn aanhanger, kos freak en realis. En hierdie is hoe ek sin maak uit die wêreld om my. Hierdie is my persoonlike Disseksie.

Tuesday, September 29, 2009

Vader van vele

Ek het op hierdie oulike webwerf afgekom http://www.stamouers.co.za/ Jy kan gaan opsoek wie jou familie se Suid Afrikaanse stamvader is. Myne is Joost Strydom - ek het nie eers geweet dis 'n regte naam nie. Wat egter interessant is is dat hy 'n skoenmaker was. En met daardie stukkie nuttelose inligting het vele dinge skielik vir my sin gemaak...




Monday, September 28, 2009

Daar is altyd 'n eerste keer

The great thing about getting older is that you don't lose all the other ages you've been.

- Madeleine L'engle -

Die klokke moes seker al begin lui het op my 30ste verjaarsdag, maar ek was nog altyd redelik goed met ontkenning. Die tekens was nog die heeltyd daar; kinders wat my tannie noem, die motor wat ons gekoop het vir sy ruim kattebak in plaas van sy vuurwarm kleur en aantreklike lyne en die oulike fiksheids instrukteur by die gym wat my as 'mevrou' aanspreek. Maar dit was vanoggend toe ek in die spieel kyk en besef ek moet op 'n stadium oorweeg om te begin grimering dra, dat dit my tussen die oë tref, ek is nie meer 20-something nie.

Ek reken oud word het sy hoogtepunte, alhoewel min en vêr uitmekaar, maar dit is dat jou 'eerstes' so min word wat my vang. Ek onthou nog die eerste keer wat gedrink het - ek en Lienka het 'n bottel Bellingham Johannisberger (ek het in Vryburg groot geword, dit was of dit of brandewyn) op die skoolpawiljoen gaan uitdrink terwyl die son opgekom het. "Kyk Joe, die shon kom op." het soortvan 'n leuse geword. Ek was redelik geskok toe ek die volgende oggend in die kerk uitvind nadors is 'n simptoom van drink. My ma het so onderlangs vir my gevra "het jy gedrink?" toe ek vir die derde keer noem dat ek dors is. Die onskuld is darem maar beeldskoon.

Al my ander eerstes het permanente spesiale prentjies in my hart. My eerste sigaret saam met Tersia langs ons huis se swembad. My eerste soen langs die skoolsaal tydens die valentynsokkie. Die eerste keer wat my hart gebreek het (as gevolg van dieselfde ou van die valentynsokkie soen.) My eerste ware liefde wat ook 'n ander eerste tot gevolg gehad het wat ek liewer nie hier moet bespreek nie, want my ma lees ook my blog. My eerste motor - 'n wit Toyota Tazz waarmee my ouers my verras het - ek het gedink dit is die mooiste motor ooit. Die eerste keer wat ek heeltemal my hart en siel verloor het op 'n mens (êrens in 'n vreemde land.) My eerste troue (defnitief my laaste.) My eerste skinny dip in Malmesbury se publieke swembad 12h00 die aand (Malmesbury raak baie warm in die somer.) My eerste tattoo (dis 'n lang storie.) My eerste swangerskap en meisiekind. En vele meer eerstes as wat ek voor spasie het op hierdie bladsy.

Ek het darem altyd nog die 'wysheid' om na uit te sien, en as dit te lank vat het ek darem 'n paar goeie herhinderinge op om terug te val. Dan behoort daar ook darem nog hier en daar 'n eerste te wees wat die lewe interessant sal hou, soos byvoorbeel my eerste Jimmy Choos en Manolo Blahniks...

Wednesday, September 23, 2009

As braai jou erfenis word


More is Erfenis dag; 'n publieke vakansiedag in Suid Afrika waarin ons verondstel is om ons kulturele erfenis te vier. Ons (dis nou die mense wat gewoontlik op 'n saterdag rugby kyk en braai) het dit goed gedink om dit ook braaidag te doop, want 'kulturele erfenis' klink darem maar baie soos klein hout afrika diertjies en draadkarre. Regoor die land sal daar more tjoppies, wors en selfs 'n vissie (tien teen een slegs in die Weskaap) op die kole gegooi word. Baie bottels brandewyn, bier en wyn sal hulle lewens aflê en alles ter herdenking van ons erfenis. Ons vir jou Suid Afrika.


Ek, aan die anderkant gaan so min as moontlik doen vir so lank as moontlik. Sal egter vir seker 'n ou ietsie drink op my efenis, al is dit dan nou om te kan braai.

Friday, September 18, 2009

Kom ons praat oor die weer

Die winter hou sy nat greep verbete om die lente, maar ek is vol moed dat die Kaap binnekort warmer sal raak. Ek dink hierdie was my langste winter nog. Behalwe miskien my eerste Kaapse winter in 1998 tydens my eerstejaar op Stellenbosch. Ek was op daardie stadium glad nie gewoond aan winterreën nie en ek is behoorlik in 'n depressie ingereën. Sedertdien het ek egter toleransie opgebou en vermaak ek my depressie net as niemand kyk nie.

Die weer is vandag grys buite en toe kom ek op hierdie gedig af wat ek êrens in my verlore jeug geskryf het en vir 'n oomblik het ek weer terugverlang.

kom ons gaan sit naby die venster
en dan praat ons oor die weer
kom ons maak of alles sin maak
en los die pleisters op die seer

miskien kan jy saggies aan my vat
en iets sinneloos in my oor kom fluister
jou mond 'n rukkie vir myne leen
terwyl ons na die stilte luister

want

jou soene proe soos rooiwyn
jou lag is 'n somersdag

maar

buite val die reën
en ek slaap weer alleen vannag